Gids: Hoe om lojaliteit met jou kliënte te bou

Dit is belangrik om jou kliënte gelukkig te hou – dit is immers hulle wat seker maak dat jou besigheid se deure oop bly. Sonder gereelde kliënte kan dit moeilik wees om langtermynsukses vir jou besigheid te verseker. Daarom is dit uiters belangrik om seker te maak jy behou jou bestaande kliënte.

1. Bou persoonlike verhoudings

Vir sommige besighede is dit uiters belangrik om op persoonlike verhoudings staat te maak. Daar is min goed wat kliënte so gewaardeerd laat voel soos wanneer jy of jou werknemers hulle herken wanneer hulle na jou besigheid terugkeer. Dit kan ook gedoen word deur persoonlike e-posse in stede van ’n massa-gegenereerde e-pos aan jou kliënte te stuur. Die ekstra moeite wys bloot dat jy in hulle as individu belangstel en nie net in hulle besigheid nie.

2. Volg gereeld op

Die sleutel om jou kliënte te behou, berus op deurlopende kommunikasie met jou kliënte. Doen gereeld opvolgwerk om seker te maak hulle is tevrede met jou produk of diens. Sommige maatskappye stuur ook koeponkodes of spesiale afslag uit aan bestaande kliënte om seker te maak dat hulle lojaal bly en nie na die mededingers oorstap nie.

3. Oorkommunikeer

Veral vir aanlyn besighede is dit uiters belangrik om te oorkommunikeer. Kliënte wat bestellings plaas, wil graag weet wanneer hulle hulle produkte gaan ontvang. Omdat aanlyn aankope in Suid-Afrika nog relatief konserwatief is, is dit uiters belangrik om jou kliënte gerus te stel oor wanneer hulle hulle pakkies gaan ontvang. Gee jou kliënte altyd eerder te veel inligting as te min. Geruste kliënte ervaar goeie diens, en goeie diens lei tot verdere verkope.

4. Wees altyd eerlik

Dit is uiters belangrik om eerlik met jou kliënte te wees. Skep eerder realistiese verwagtinge as om bloot te probeer om ’n kliënt te vang om van jou diens gebruik te maak of om jou produk te koop. Kliënte wat voel dat hulle nie ontvang wat hulle verwag het en waarvoor hulle betaal het nie, gaan nie weer van jou besigheid gebruik maak nie.

5. Oortref kliënte se verwagtinge

Probeer altyd meer vir jou kliënte doen as wat hulle verwag om te ontvang. Stuur vir hulle ’n ekstra geskenkie of wens hulle onverwags geluk met hulle verjaarsdag. Deur die ekstra myl te stap om seker te maak dat jou kliënte gelukkig is, sal jy seker maak hulle bly lojaal aan jou en jou besigheid. Maak ook seker jy mis nooit ’n sperdatum nie. As jy jou besigheid betroubaar en assosieerbaar maak, sal kliënte terugkeer.

Soms werk hierdie strategie egter nie en sit jy met ’n ongelukkige of moeilike kliënt. In so geval is die beste raad om eerder die verhouding te beredder. Jy kan só te werk gaan:

a) Moenie die probleem ignoreer nie

Luister na jou kliënte en reageer vinnig op hulle klagte. Daar is min dinge wat ’n ongelukkige kliënt verder ontstel as wanneer hulle voel dat daar nie na hulle geluister word of wanneer hulle probleem geïgnoreer word nie.

b) Erken jou foute

Indien die fout by jou of jou besigheid lê, wees bereid om dit te erken. Alle mense maak foute en erkenning ontlont gewoonlik vinnig die konflik. Wys empatie met die kliënt. Moontlik het jou fout veroorsaak dat hulle moeilikheid by die werk kry of self ’n belangrike sperdatum gemis het.

c) Vermy oorhaastige optrede

In konfliksituasies met kliënte is mense geneig om vinnig oplossings te wil gee om net uit die konflik te ontsnap. Dit is egter nie die doeltreffendste manier om die probleem op te los nie. Maak seker jy maak nie beloftes wat die kliënt weer gaan teleurstel nie – dit sal bloot meebring dat jy die kliënt heeltemal verloor. Bestee eerder tyd daaraan en los werklik die probleem op.

d) Eindig op n positiewe noot

Maak seker dat jy op goeie voet is met jou kliënt na afloop van die konflik. Maak seker jy vra weer om verskoning vir enige foute wat jy gemaak het en gee dalk selfs vir hulle afslag op ’n volgende bestelling of besoek. Dit sal die kliënt se laaste ervaring met jou besigheid in ’n beter lig stel.