Hoe om jou onderneming se finansies baas te raak

Daar is verskeie faktore wat bydra tot die sukses van ’n onderneming – maar die bestuur van jou onderneming se finansies is sekerlik die belangrikste. Daarom is dit juis uiters belangrik om seker te maak dat jy jou onderneming se finansies effektief bestuur. Hier is ’n paar wenke oor hoe om jou finansies beter te bestuur.

1) Begroot, begroot, begroot

Die belangrikste deel van enige finansiële plan is jou begroting. Die vraag is egter hoe begroot jy wanneer jy nie weet wat die geprojekteerde inkomste van jou onderneming gaan wees nie? Jou begroting hoef nie elke rand wat spandeer word, in ag te neem nie maar moet as ’n riglyn dien vir jou toekomstige finansiële besluite. Skep onderafdelings wat jou uitgawes verdeel, soos huurkostes, produkkostes en bemarkingskostes. Bepaal dan wat jou inkomste moet wees om die uitgawes te dek en ’n wins te maak. Jy kan ook vroegtydig begroot vir die deel van die winste jy in die onderneming wil herinvesteer.

2) ’n Fonds vir noodgevalle

Wat doen jy indien jou onderneming ’n tyd beleef waar geen wins gemaak word nie? Dit is ’n realiteit waarvoor elke besigheidseienaar ongelukkig moet voorberei en kan deur verskeie faktore beïnvloed word. ’n Noodfonds kan help dat jou onderneming moeilike tye oorleef en hopelik sal jou onderneming in die volgende seisoen of volgende jaar weer ’n wins toon. Bepaal hoeveel kapitaal jy nodig het om jou onderneming aan die gang te hou vir ’n maand en maal dit met ses om te verseker dat jy vir ses maande kan oorleef. Indien jy van die fondse in jou noodfonds gebruik maak, is dit belangrik om seker te maak dat jy dit weer terugbetaal sodra jou onderneming weer beter vaar.

3) Maak gebruik van professionele dienste

Indien dit nodig is, is dit ’n goeie idee om gebruik te maak van ’n rekenmeester of boekhouer. Die meerderheid entrepreneurs probeer self die meeste funksies in hul onderneming vervul om kostes te bespaar. In die lang termyn kan dit jou onderneming egter meer kos indien jy nie jou onderneming se finansies effektief kan bestuur nie. Indien jy dit nie kan bekostig om voltyds ’n boekhouer of rekenmeester aan te stel nie, kan jy van kontrakdienste gebruik maak – veral vir funksies soos belasting. Dit kan in die lang termyn bes moontlik besparings beteken.

4) Sit geld vir belasting opsy

Belasting is ongelukkig ’n realiteit vir alle ondernemings. Besigheidsbelasting in Suid-Afrika beloop 28% dus moet jy voor die tyd begroot vir die belastingseisoen. Maak ook seker dat jy geld opsy sit indien jou onderneming vir BTW geregistreer is – aangesien dit meer gereeld betaalbaar is.

5) Maak seker jy word betaal

Jou onderneming sal slegs suksesvol wees indien jy betaal word vir jou produk of diens. Jy moet dus seker maak dat jou fakture betaal word en rekeninge nie agterstallig raak nie. Maak seker jou besigheid het ’n duidelike betalingsbeleid. Indien jy ’n 30 dae-rekeningfasiliteit het, is dit uiters belangrik dat jy seker maak dat jou rekeninge op datum is. Alhoewel jy moontlik soms wanbetalers gaan kry, kan jy van jou kant af die volgende doen:

  • Jou fakture betyds uitstuur
  • Rekord hou van jou betalingstye en kliënterekeninge
  • Betalings met wanbetalers opvolg.