Hoe om stap vir stap ’n onderneming te begin

Hier is ’n stapsgewyse inleiding tot hoe jy jou kleinsakeonderneming op die been kan kry:

1) Kies ’n naam en ontwikkel die onderneming se identiteit.

Wanneer jy jou onderneming se naam kies, is dit belangrik dat dit anders is as ander ondernemings wat dieselfde produk of diens lewer. Jou naam is die beginpunt van jou onderneming se identiteit, so deurdink dit goed. Skep dan ’n logo en kleurskema vir jou onderneming. Die logo en kleurskema moet op al jou bemarkingsplatforms dieselfde wees. Indien jou kleure byvoorbeeld blou en grys is, moet die kleure op jou webtuiste, jou besigheidskaartjies en jou fisiese winkel dieselfde bly.

2) Maak seker jy kom alle wetgewing na

Afhangende van die aard van jou onderneming mag jy kies om jou onderneming te registreer of nie. Indien jy bloot ’n eenmansaak bedryf, is dit egter nie nodig nie. Jy hoef ook nie dadelik jou onderneming te registreer nie, sodra jy weet jou idee kan werk dan kan jy jou onderneming vir onder R200 direk by CIPC registreer, of ’n rekenmeester kan jou help.

3) Skryf jou sakeplan

Gedurende die proses om jou sakeplan te skryf, sal jy ’n duideliker plan en visie vir jou onderneming ontwikkel. ’n Sakeplan moet die volgende bevat:

  • ’n Markanalise wat die kompetisie in jou omgewing en die bedryf omskryf en wat beskryf hoe jou onderneming anders as die kompetisie is.
  • ’n Sakeplan wat beide jou tradisionele en aanlyn bemarking beskryf.
  • ’n Beskrywing van die ervaring wat jy aan jou kliënte gaan bied.
  • ’n Plan vir ’n nuwe aanstelling en watter posisie en funksies die nuwe aanstellings gaan vul.
  • Opstel van bedryfsplanne en beleide.
  • ’n Wins- en verliesvooruitsig vir die komende drie jaar.

Onthou, jou sakeplan is nie net sodat jy vir ander kan wys wat jou plan is nie, maar ook sodat jy self kan uitpluis op watter mark jy wil fokus en wat jou sakemodel is. Die denkproses wat die sakeplan tot gevolg het, is selfs belangriker as die plan self.

4) Oorweeg alle uitgawes

Afhangende van die tipe onderneming wat jy beplan om te begin, is die volgende uitgawes iets om te oorweeg:

  • Huur van winkelspasie (indien die onderneming nie van jou huis af bedryf word of mobiel is nie). Indien jy ’n winkelspasie gaan huur, is dit wys om navorsing oor die gemiddelde huurkoste vir kommersiële spasie in jou omgewing te doen. Neem dan ook in ag dat die meerderheid kommersiële verhuurders ’n groot deposito vereis. Afhangende van die verhuurder, kan dit tot en met drie maande se huur beloop. Dit is dikwels beter om jou idee eers te toets voordat jy ’n huurkontrak teken.
  • Neem in ag wat dit jou gaan kos om die winkelspasie in te rig. Neem uitgawes soos verf, beligting, uitstalkaste, dekor, ensovoorts in ag.
  • Kyk wat ’n betaalpuntstelsel jou gaan kos. Die stelsels gaan gewoonlik met ’n maandelikse fooi gepaard. Doen navorsing oor wat die beste vir jou tipe onderneming gaan werk.
  • Indien jy produkte verkoop, moet jy ook in ag neem wat die voorraad jou gaan kos. Dit kan ’n groot kapitaaluitset wees maar dit is ook met dié produkte se verkope wat jy beoog om geld te maak.
  • Die internet kan ook ’n groot maandelikse uitgawe wees. Jy het internet nodig om die meerderheid betaalpuntstelsels te gebruik. Doen navorsing oor hoeveel dit jou maandeliks gaan kos en maak seker jy kry die pakket met die beste prys om in jou behoeftes te voorsien.
  • Naamborde: Naamborde vir jou onderneming kan baie duur wees, maar dit is ’n absolute noodsaaklikheid. Kry vroegtydig kwotasies by verskeie verskaffers aangesien pryse soms baie kan verskil. Maak ook seker hulle kwoteer ook vir installasie aangesien dit gewoonlik addisionele is. Indien jy ’n winkel in ’n winkelsentrum oopmaak, is dit belangrik om seker te maak dat jou naamborde aan die sentrum se spesifikasies voldoen.

5) Kies ’n ligging

Nuwe ondernemings moet die ideale ligging met hulle begroting balanseer. Gaan jou onderneming afhanklik wees van instapkliënte? Indien wel, is ’n besige straat met baie mense wat rondloop ideaal. Ander tipe winkels kan werk in ’n ligging met minder instapkliënte wat waarskynlik goedkoper sal wees. Voordat jy ’n huurkontrak teken, ry op verskillende tye van die dag verby die ligging om seker te maak dat daar genoeg besoekers kom.

Indien jy die regte tipe kleinsakeonderneming op die regte plek oopmaak en jy goed beplan, kan jou onderneming ’n sukses wees! Maak seker jy beplan vir die onvoorsiene, stel ’n goeie sakeplan op en bestuur jou finansies goed om sukses te verseker.