Instagram Reels – die bemarkingshulpmiddel wat jy móét hê

Dis amper onmoontlik om deesdae op hoogte te bly van al die sosialemediahulpmiddels wat jy kan gebruik om jou onderneming op nuwe, kreatiewe wyses aan jou ondersteuners te bemark. AfriForum Sakenetwerk maak dit vir jou maklik!

Kom ons kyk na een van die gonswoord in die sosialemediawêreld: Instagram Reels. Dit is al in Augustus 2020 bekend gestel en voeg nóg ’n dimensie tot jou bemarking toe! 

Wat is Instagram Reels?

Instagram Reels is ’n Instagram-funksionaliteit wat jou in staat stel om ’n reeks kort video’s aanmekaar te voeg en dit met agtergrondmusiek en ander effekte op te kikker dat dit bykans professioneel vertoon. Die maksimum lengte is 60 sekondes en gee die kyker ’n vinnige, intensiewe ervaring van jou video. Die voordeel van Instagram Reels is dat dit, anders as Instagram Stories, nie ná 24 uur verdwyn nie, maar herhaaldelik in die Reels-gedeelte in jou Instagram-profiel gekyk kan word.

Deur Instagram Reels kreatief aan te wend, kan jy en jou handelsmerk duisende nuwe ondersteuners bereik. Instagram Reels het sy eie afdeling onder Instagram Explore – dus kan jy jou video hier via jou openbare profiel laai, waarna dit dan aan duisende Instagram-gebruikers uitgesaai sonder dat jy daarvoor hoef te betaal.

Hoe werk dit?

Loer hierna  vir ’n stap-vir-stap-verduideliking van presies hoe om jou video te verfilm, te redigeer en te deel. Dit neem wel ’n rukkie om Instagram Reels-redigering heeltemal onder die knie te kry, maar daarna kan jy met eindelose moontlikhede speel.

Die belangrikste deel van die Instagram Reels-proses is beplanning: As jy jou video nie mooi beplan nie, mag jy dalk met ’n laegehalteproduk sit!

’n Stap-vir-stap-proses

  1. Beplan jou video deur die volgende vrae te beantwoord:
  • Watter boodskap wil jy hiermee uitdra of watter produk wil jy hierdeur bemark? 
  • Wat is die gevoelswaarde van die video (byvoorbeeld hartseer, opwindend, klassiek of avontuurlustig)? Watter stemming, emosie of atmosfeer moet die video skep?
  • Watter agtergrondmusiek en videomateriaal het jy reeds tot jou bestemming?
  • Hoe gaan ek die kyker binne die eerste paar sekondes oortuig om na die hele video te kyk?
  1. Klik op “reel” om die proses aan die gang te sit. Loer gerus links vir die ikone wat jou ook deur die proses sal neem om die perfekte video te ontwerp!
instagram reels hoe om dit te skep
  1. Kies heel eerste jou klankbaan of musiek op grond van die antwoorde hierbo. Indien jy ’n avontuurlustige video wil skep, sal jou musiek of klankbaan vinnig en boeiend wees, terwyl jy eerder rustige (selfs klassieke) musiek sal gebruik as jy iets soos juwele of babaprodukte wil bemark. 
  2. Instagram Reels bied jou ook die keuse om voorafvervaardigde video’s te hervermeng (Engels: remix). Dit help ongelooflik baie aangesien die bloudruk reeds op die klankbaan gebaseer is. Al wat jy hoef te doen, is om jou video’s hier in te plak en volgens die voorbeeld aan die linkerkant te redigeer.
  3. Verfilm jou video op grond van jou gekose klankbaan en beplanning. Wees deurgaans bewus van die lengte van elke video wat jy maak. Onthou: Die Instagram Reels-formaat is altyd vertikaal – moenie jou kamera op sy sy draai nie! Jy kan ook jou video direk in Instagram Reels verfilm of bestaande video’s uit jou galery te gebruik. Indien jy besluit om dit in Instagram Reels te verfilm, het jy die voordeel om die presiese tyd en effek sommer van meet af aan in te stel en te sien hoe die eindproduk gaan lyk.
  4. Rangskik jou afsonderlike videogrepe in die korrekte volgorde en onthou om die lengte van elke greep presies volgens jou klankbaan se metrum aan te pas.
  5. Voeg effekte of teks by om jou video se boodskap duideliker te maak.
  • Teks is handig as jy ‘n opskrif of verduideliking wil byvoeg.
  • Sketse help as jy iets op die skerm wil uitwys.
  • Plakkers bied die opsie om kreatief en speels te raak deur elemente op jou video te plak.
  • Verhoogdewerklikheid- (Engels: AR-)effekte skep ’n alternatiewe werklikheid deur die videomateriaal aan te pas, byvoorbeeld om ’n dinosauruskop op alle mense se lywe te superponeer.
  • Filters kan tot die stemming en gevoel van jou video bydra/ Dit is ook handig om al jou video’s eenvormig te vertoon, veral as dit nie in dieselfde ligging verfilm is nie.
  1. Jou kunswerk is so te sê klaar. Klik op “Preview” om finaal te kyk of alles mooi by mekaar inskakel!

Hoe deel mens jou video?

As jy heeltemal tevrede is met die samespel van jou klankbaan, video en effekte, is jy gereed om dit met die wêreld te deel.

Klik op “Next” om die finale afrondingsproses te begin. Nou kan jy jou dekblad kies, jou beskrywing intik en kies of jy dit slegs op jou profiel of ook op jou stroom (Engels: feed) gaan deel. Vir die grootste reikwydte is dit wys om dit altyd ook op jou stroom te publiseer.

Onthou om dit ook op jou Facebook-blad en -profiel te publiseer om jou reikwydte nóg meer te vergroot!

’n Paar praktiese wenke

  1. Instagram Reels-afmetings en aanbevole videogroottes

Hou altyd in gedagte dat Instagram Reels ontwerp is om vertikaal en volskerm op ’n selfoon of mobiele toestel te vertoon. Maak seker dat jy jou kamera op die gepaste afmetings instel om die beste gehalte te verseker: Die beeldverhouding (Engels: aspect ratio) moet 9:16 wees, en grootte 1 080 x 1 920 piksels.

  1. Byskrifte en teks

Jou byskrifte en teks word gewoonlik oor die onderste derde van jou video geplak. Beperk dus die gedetailleerde videomateriaal tot die boonste twee derdes.

  1. Verfilming van jou videomateriaal

Gebruik eerder ’n selfoon of mobiele toestel om jou video’s te verfilm – sodoende gaan jy nie met dimensies en oriëntering sukkel nie. Soos hierbo genoem, is dit voordelig om jou video’s direk in die Instagram Reels-redigeerder te maak, want dan kan jy reeds sien hoe die effekte gaan lyk en jou tydsberekening baie beter bestuur.

  1. Jou handelsmerkidentiteit is belangrik!

Ons beveel sterk aan dat jy ’n visiebord skep wat beeldstyle, kleure, musiek en lettertipes as grense vir jou inhoud merk. Hoewel jou kreatiwiteit met Instagram Reels byna geen perke ken nie, moet jy onthou dat al jou inhoud jou handelsmerkidentiteit altyd slaafs moet uitbeeld, anders mag jy jou dalk van jou ondersteuners vervreem. Jou handelsmerkidentiteit moet absoluut uniek en herkenbaar wees; onthou om dit ook só in jou video’s op Instagram Reels toe te pas. Kies byvoorbeeld ‘n hoëgehaltefoto vir die dekblad van jou video wat by die res van jou video en plasings pas.

  1. ‘n Paar idees waar ’n Instagram Reel-video vir jou onderneming kan werk:
  • Verpersoonlik jou handelsmerk deur dag-tot-dag-take met jou ondersteuners in die vorm van ’n oulike video te deel. Só hou persoonlike kontak met jou ondersteuners, maar bly professioneel.
  • Stel jou span ook aan jou ondersteuners voor.
  • Stel ’n produk bekend.
  • Volg Instagram Reel-tendense. Elke nou en dan is daar ‘n video wat oral in die Instagram Reel-wêreld opslae maak. Herontwerp dit volgens jou eie handelsmerk en bereik op dié wyse ook meer mense wat die tendense dophou.
  • Beeld geleenthede uit.
  • Dinge soos resepte en voor-en-na-produkte kan baie lekker in ’n Instagram Reel-video uitgebeeld word.

Waag dit – skep een!

Ons hoop jy is nou aangevuur om jou eerste Instagram Reel-video te maak! Deel gerus jou poging met ons deur @afriforum.sakenetwerk te merk. Ons hou julle dop!