Is dit produktief om stokperdjies te hê?

Volgens Shawn Achor maak die afskei van dopamien in jou brein jou 31% meer produktief, 37% meer doeltreffend in verkope en verlaag ook die kans dat jy uitbrand. Maar hoe skei jou brein meer dopamien af? Deur take te verrig wat niks met jou werk te doen het nie, soos byvoorbeeld, stokperdjies!

Navorsing deur Kevin Eschleman bevestig dit en dat meer tyd in die natuur lei tot meer betrokkenheid by die kantoor. Daar is selfs bewys dat dokters 19% keer meer akkurate prognoses maak wanneer hulle gelukkiger voel. Die gevoel van gelukkigheid is direk aan die afskeiding van dopamien verwant, en dopamien word afgeskei wanneer ons stokperdjies beoefen. Watter tipe stokperdjies maak jou egter meer produktief?

Stokperdjies wat jou help

Om te ontspan beteken om tevredenheid te vind in ’n klein taak wat jy kan afhandel. Verbale denkers hou van stokperdjies soos lees, terwyl dié wat in visuele terme dink meer geneig is om te wil verf of foto’s te neem. Die geheim is natuurlik om iets anders te doen as wat jy normaalweg deur die dag doen.

Hier is ’n paar idees:

Oefening

Oefening is nie net goed vir jou liggaam nie, maar ook vir jou brein. Gereelde oefening verminder streshormone en laat jou toe om meer kreatief te wees wanneer jy moet werk. Jy hoef ook nie net gimnasium toe te gaan nie: probeer in die natuur wees en gaan stap of begin bergfiets ry. Of begin dalk ’n aksiekrieket- of raakrugbyspan.

Joernaal

Om weeklikse joernaalinskrywings te maak oor wat in jou lewe gebeur en waarvoor jy dankbaar is, skei nie net dopamien in jou brein af nie maar help jou ook om meer positief te wees. Hoe meer jy kan fokus op wat goed verloop, hoe meer produktief gaan jy wees. Dit is ’n taak wat 5 tot 15 minute kan neem maar ’n reuseverskil in jou ingesteldheid kan maak. Hoe meer jy op papier neerpen wat in jou gedagtes aangaan, hoe meer kan jou brein sy fokus na probleemoplossing verskuif.

Raak kreatief

Kry ’n stokperdjie waarmee jy jou kreatiwiteit kan uitleef. Leer verf, doen naaldwerk of maak jou hande vuil deur kleipotte te maak. Aktiwiteite wat jou aandag van jou alledaagse take wegneem en jou die geleentheid gee om in die oomblik te wees, is ideaal vir die afskeiding van dopamien. Selfs lees help dat jy genoegsaam ontvlug om jou weer die volgende dag meer produktief te maak.

Kook

Om jouself in ’n resep en bestanddele te verdiep, is ook ’n stokperdjie wat jou die volgende dag meer produktief gaan laat voel. Soek nuwe maniere om vis voor te berei, eksperimenteer met nageregte of takel tradisionele disse waarvoor jy nooit voorheen tyd gehad het nie.

Stokperdjies laat jou nie net ontspanne voel nie, maar verlaag ook jou bloeddruk en gee jou brein kans om al die uitdagings van jou dag te verwerk. Jy het 1 440 minute in ’n dag en as jy nie kies wat jy daarmee gaan doen nie, gaan ander dit wel vir jou volmaak. Die geheim is om – voor jou dagboek vol raak – vir jouself tyd vir jou stokperdjies uit te boek. Boek tyd met jouself uit en ontwikkel só nie net nuwe vaardighede nie maar gee ook sommer jou produktiwiteit ’n hupstoot.

As jy steeds onseker is watter stokperdjies jy kan opneem, loer hier na Bluprint, wat jou stapsgewys wys hoe om kreatiewe projekte aan te pak. Of dit nou skryf, juwele maak, koekversiering, tuinmaak of foto’s is –jy sal wel iets kan kry wat jou opgewonde maak!