Blogplasings

Gaan deur ons jongste blogplasings.

Dit is uit die staanspoor belangrik om te bevestig dat daar geen wetlike bepaling is wat die betaling van bonusse reguleer nie. Werknemers sal slegs aanspraak kan maak op die betaling van ’n bonus indien die bonus gewaarborg word in ’n dienskontrak, ’n werkgewer se vergoeding- of bonusbeleid, of ’n bedryfgereguleerde ooreenkoms en die bonus is nie afhanklik van die uitoefening van enige diskresie vanaf die werkgewer .

Bonusse word dus selde gewaarborg en dit sal nie raadsaam wees vir werknemers om ’n bonusbetaling te verwag, bloot omdat bonusse die vorige jaar uitbetaal is nie. Die meerderheid dienskontrakte bevat bepalings wat aandui dat bonusse in die uitsluitlike diskresie van die werkgewer toegestaan sal word.

Indien ’n werknemer wel, volgens ’n kontrak, ooreenkoms of beleid aanspraak maak op ’n bonus, kan die werkgewer moontlik argumenteer dat bonusse weens operasionele vereistes nie toegestaan kan word nie. In so ’n geval is dit baie belangrik dat ’n werkgewer met die werknemers konsulteer en aan die werknemers ’n geleentheid gun om hulle insette op die kwessie te gee.

Waar werkgewers wel die diskresie het om bonusse aan werknemers te betaal en die besluit neem om slegs bonusse aan sekere werknemers te betaal, is dit belangrik dat die werkgewer verseker dat sy/haar diskresie op ’n regverdige manier uitgeoefen word.

In die saak van Solidarity obo K Oelofse v Armscor (SOC) Ltd [2018] ZALCJHB het die hof bevestig dat indien ’n werknemer ontevrede is met die manier waarop ’n werkgewer sy diskresie uitgeoefen het, die werknemer ’n onbillike arbeidsgeskil na die KVBA kan verwys. Om suksesvol te wees met die dispuut sal die werknemer moet kan bewys dat die werkgewer sy/haar diskresie op ’n onregverdige manier uitgeoefen het. Die arbeidshof het die toets as volg bevestig: “Unfairness implies a failure to meet an objective standard and may be taken to include arbitrary, capricious or inconsistent conduct, whether negligent or intended”.

 

Deel die artikel