Jaco Gerrits: Die belangrikheid van entrepreneurskap

Jaco is een van Afrika se mees bekroonde tegnologie-entrepreneurs. International Business Magazine het hom onlangs aangewys as die top- jong presteerder van die jaar in die Suid-Afrikaanse tegnologiesektor, Finance Monthly het hom met die Game Changer-toekenning vir 2019 vereer en CEO Today Magazine het hom as een van die Top Global C-Level Executives geag.

Jaco is ook ’n voormalige wenner van die Top Technology Entrepreneur in Africa-toekenning en sy jongste waagstuk RoadSave – ’n veelbekroonde reddingstoep – ontvang voortdurend internasionale toejuiging. Hy glo dat dit moontlik is om goed te doen en terselfdertyd te presteer, waar ondernemingsgees en investering gebruik word as kragtige magte om goeie dinge te bereik. Dít het hom in staat gestel om The Venture South Africa – ’n wêreldwye soektog na die beste sosiale entrepreneurs – te wen, waar hy die voorreg gehad het om Suid-Afrika in New York te verteenwoordig teen 26 ander entrepreneurs.

Jaco is tans besig met RoadSave, ’n slimfoontoepassing wat voertuigeienaars veilig hou en geld op die pad spaar. Sy eerste onderneming het op werkskepping en die ontwikkeling van klein en mediumgrootte ondernemings in gemeenskappe in samewerking met munisipaliteite en die mynboubedryf gefokus. Sy grootste les as entrepreneur is dat jou aannames meestal foutief is en dat jy slegs waarde kan ontsluit as jy aksie teen jou idees neem.

Jaco meen dat hy van jongs af ’n entrepreneur wou wees. Hy sê hy het van kleins af in sake belanggestel en sy ma oortuig om oliebolle te bak, wat hy dan aan die bure sou bemark en verkoop. Hy het in sy jonger dae oorweeg om ’n straalvlieënier te word. Ná skool het hy ’n jaar lank in Engeland gaan werk. Dit was baie waardevolle ondervinding wat hom oortuig het om eerder vir homself te werk.

Hy hou daarvan om knelpunte en probleme te identifiseer en met tegnologiese oplossings vorendag te kom. As hy voldoende waarde ontsluit het of as die onderneming onafhanklik van sy insette bedryf kan word, oorweeg hy sy opsies, byvoorbeeld om te verkoop of om nuwe knelpunte te probeer identifiseer. Die beste beskrywing hiervoor is ‘n reeksentrepreneur. Hy glo fokus is uiters belangrik en verkies om nie meer as een onderneming op ’n slag aan te pak nie.

Hy glo dat mislukking in entrepreneurskap ’n positiewe eienskap is en dat dit egter belangrik is om die lesse wat met mislukkings gepaardgaan tot voordeel van jou onderneming en jouself te gebruik. Maak seker jy meet terugvoer en resultate van jou probeerslae om sodoende areas van groei en verbetering te identifiseer.

Jaco deel graag ’n paar wenke. Dit verg harde werk om ’n onderneming te begin, en onderweg kan ’n mens talle uitdagings verwag. Daar is eksterne uitdagings soos finansiering, talentverkryging en dies meer. Interne uitdagings soos spanning, vrees en selftwyfel is egter meer belangrik. Jy moet deur ernstige interne hindernisse werk om ’n onderneming te begin en ’n sukses daarvan te maak. Jy sal verseker terugslae en mislukkings ervaar. Die belangrikste bestanddeel is ’n positiewe ingesteldheid om uit jou terugslae te leer en dit konstruktief tot voordeel van jouself en jou onderneming te gebruik.

Jaco daag entrepreneurs uit om aan die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie deel te neem. Die kompetisie beloon harde werk en gee waardevolle blootstelling vir jou én jou onderneming. Boonop gee dit jou geleentheid om jou onderneming teen ander te meet. Dis ’n goeie geleentheid om ontwikkelingsareas te identifiseer en om bande met ander entrepreneurs te smee.