Kan ons terugkeer na normaal?

Met die instelling van vlak 3 van die nasionale inperking begin die ekonomie en die lewens van talle Suid-Afrikaners stelselmatig terugkeer na normaal. Die vraag is egter, hoe lyk dié nuwe normaal? Met regerings wat wêreldwyd skarrel om te verseker dat hulle gesondheidsorg in orde is en dat hulle ekonomieë oorleef te midde van die korona-pandemie, lyk ons nuwe normaal baie anders as voorheen.

Die vraag op almal se lippe is natuurlik: tot watter mate sal ons kan terugkeer na normaal? Om dit te antwoord kan ons na die geskiedenis kyk. Die Spaanse Griep wat tussen 1918 en 1920 deur die wêreld versprei het, het massiewe gevolge gehad. Daar word beweer dat die pandemie sowat 39 miljoen mense se dood veroorsaak het, wat op daardie stadium 2% van die wêreldbevolking was. Die Spaanse Griep het nie net ’n massiewe lewenstol geëis nie maar ook die ekonomieë van talle lande verpletter. Na berekening het die bruto binnelandse produk (BBP) van die meeste lande tussen 6% en 8% gedaal. Die lewenstol van die korona-pandemie is klein in vergelyking met dié van die Spaanse Griep, maar die ekonomiese impak van die wêreldwye inperking sal na verwagting in baie lande ooreenstemmend wees weens ons geglobaliseerde samelewing. Binne die ongewone omstandighede is dit belangrik om goed gerat te wees vir die terugkeer en hervat van die ekonomie.

Daar is drie beginsels waarop jy moet fokus soos wat jy na normaal begin terugkeer: besef dit gaan lank neem, aanvaar watter verandering permanent is en help ander om aan te pas.

Terugkeer na normaal kan nog 12 tot 36 maande neem

Die terugkeer na normaal mag dalk lank neem en met tye frustrerend wees. Soos wat die ekonomie krimp en ons persoonlike vryhede steeds beperk word, neem mismoedigheid toe. Navorsing toon dat pandemies gewoonlik tussen 12 en 36 maande neem om uit te woed. Dit beteken dat ons moontlik nog meer as twee jaar met die gevolge van die virus sal moet saamleef, afhangende van wanneer medikasie vir die virus ontwikkel word. In so ’n geval moet ons gereed wees om te aanvaar dat ’n mens nie in die afsienbare toekoms koffie saam met vriende sal kan gaan drink of ’n groot konsert bywoon nie. Indien jy voor die tyd met dié konsep vrede maak sal die langtermyn uitwerking makliker wees om te hanteer. Mense wat deur die Spaanse Griep geleef het, het waarskynlik ook nie geglo dat alles weer sou normaliseer nie, maar dit het.

Afstandswerk nou ’n realiteit

Terselfdertyd is daar sommige aspekte van ons lewens wat moontlik nooit weer sal normaliseer nie. Afstandswerk sal moontlik voortaan permanent deel vorm van die samelewing soos wat meer en meer maatskappye hulle werknemers aanraai om eerder van hulle huise af te werk. Facebook se stigter, Mark Zuckerberg, het byvoorbeeld onlangs aangedui dat hulle aggresief gaan begin poste bemark wat slegs op afstandswerk fokus.

Volgens Zuckerberg gaan die helfte van Facebook se werksmag binne die volgende vyf tot tien jaar nie kantoorgebonde wees nie. Die aankondiging volg nadat ander tegnologiemaatskappye, onder andere Twitter, aangedui het dat hulle werknemers voortaan “vir ewig” van die huis af kan werk as hulle dit sou verkies. Werkgewers in Suid-Afrika mag moontlik in die toekoms minder tradisionele werksure of werksomstandighede instel met die doel om minder mense gelyktydig op kantoor te hê. Wees gereed hiervoor – dit mag dalk die begin van ’n nuwe tegnologiese rewolusie wees.

Help jou kinders met die nuwe aanpassing

Te midde van die spanning oor veranderde werksomstandighede of besighede wat sukkel in hierdie moeilke ekonomiese tye, vergeet ’n mens soms dat kinders ook die gevolge van die afsondering intens beleef. Buiten angs omdat hulle verwyder is van vriende en familie, kan kinders ook gespanne wees om terug te keer skool toe en om weer ’n mate van normaliteit te ervaar. Hier is ’n paar maniere waarop jy hulle kan help:

  • Kom terug in ’n roetine. Dit sal jou kind ook help om ’n gevoel van standvastigheid te hê in dié onsekere tye.
  • Beperk kinders se blootstelling tot die media. Kinders is baie beïnvloedbaar en blootstelling aan sterftesyfers en infeksiegetalle kan traumaties wees.
  • Neem klein stappe om hulle weer in die samelewing te laat inskakel. Stel hulle stelselmatig daaraan bloot om terug te keer na die norm. Laat hulle saam inkopies gaan doen en neem hulle uit vir oefening. Hoe meer normaal hulle interaksie weer met ander mense word, hoe makliker sal dit vir hulle wees om terug te keer na ’n normale roetine.
  • Beklemtoon die belangrikheid van goeie higiëne. Voordat jou kinders terugkeer skool toe, herbevestig wat hulle moet doen om hulle eie veiligheid en die veiligheid van hulle maats te verseker. Beklemtoon weer die noodsaaklikheid van hande was, ’n masker dra, en die belangrikheid om afstand ’n veilige afstand te hou tussen hulself en hulle maats.