Kapitaliseer só op Swart Vrydag

Swart Vrydag het die afgelope paar jaar regoor die wêreld bekend geword as ’n dag van groot
besparings en nog groter inkopies. Dié dag se geskiedenis is egter veel ouer en dit is maar die afgelope paar jaar wat dit werklik gekommersialiseer word.

Swart Vrydag het sy oorsprong in die 1950’s toe mense in Amerika begin siekteverlof neem het na Dankseggingsdag om vir hulself ’n langnaweek te skep om vroeë Kersinkopies te doen. Werkgewers het dit as ’n nie-amptelike vakansiedag begin sien omdat so baie mense nie vir werk opgedaag het op dié betrokke Vrydag nie. In 1966 het die naam Swart Vrydag die eerste maal in druk verskyn in The American Philatelist. Die naam is afkomstig van die chaos wat op hierdie dag in groot winkels geheers het soos almal probeer het om inkopies te doen. Die middedorpe van baie Amerikaanse dorpe was so besig op dié dag dat dit ongelukke en selfs konflik tot gevolg gehad het.

Vanweë die chaos wat geheers het, het die naam Swart Vrydag vir baie jare ’n negatiewe konnotasie gehad, maar dit het verander toe handelaars begin besef het hoe winsgewend dié dag is. Die Vrydag na Dankseggingsdag het vinnig een van die winsgewendste dae in die jaar geword vir baie
winkeleienaars. Baie winkels het op hierdie dag ook afslag begin gee op produkte om kliënte verder aan te moedig om aankope te doen. In die laaste jare het die besparings begin uitbrei soos wat winkels al hoe vroeër spesiale aanbiedinge aangebied het. Met die toename in aanlyn inkopies in die laaste paar jaar het verkopers ook munt begin slaan uit die Maandag na Swart Vrydag, genoem Kubermaandag, waartydens aanlyn inkopies aangemoedig word.

Omdat Swart Vrydag en Kubermaandag so winsgewend is, is dit van uiterste belang dat alle
handelaars op hierdie dae kapitaliseer. Met al hoe meer mense wat kies om eerder aanlyn van die besparings van Swart Vrydag gebruik te maak, is dit ook ’n goeie manier om nuwe kliënte na jou besigheid te lok. In Suid-Afrika gaan Swart Vrydag-inkopies in 2020 na verwagting meer wees as Kersinkopies soos wat groot handelaars meer en meer aanlyn aanbiedinge bied. Daarbenewens het die inperkingstydperk ’n drastiese toename in aanlyn verkope tot gevolg gehad.

Hoe kan jy fisies kapitaliseer op Swart Vrydag?

  • Maak die inkopie-ervaring lekker

Dit is belangrik vir winkels om die inkopie-ervaring aangenaam vir hul kliënte te maak. Plaas stoele in jou winkel vir moeë kliënte of verseker bloot dat die betaalproses vinnig verloop.

  • Bied ander aanbiedinge

Bied vir kliënte wat jou winkel besoek ander spesiale aanbiedinge. So verseker jy dat jy ook kliënte na jou winkel lok en nie net op aanlyn verkope staatmaak nie.

  • Maak gebruik van die interaksie

Die verhoogde verkeer na jou winkel gee jou die geleentheid om persoonlik met kliënte te skakel en die bestaande verhouding te groei. Kapitaliseer hierop deur dit ’n aangename ervaring vir jou kliënte te maak en so te verseker dat hul voortdurend lojaal bly.

 Hoe kan jy aanlyn op Swart Vrydag kapitaliseer?

1) Leer die kuns om aanlyn te handel

Dit is net so belangrik – indien nie belangriker – dat jy leer hoe om jou produkte aanlyn ten toon te stel vir potensiële kliënte. Dit is noodsaaklik dat jy leer om op Swart Vrydag jou beste aanbiedinge uiters sigbaar te maak vir kliënte wat jou webblad besoek. Maak prente, baniere en spesiale aanbiedinge die fokus van jou blad.

2) Gee mense ’n rede om jou advertensie op sosiale media te deel

Hoe meer mense jou spesiale aanbiedinge of jou advertensie vir Swart Vrydag sien, hoe meer verkope gaan jy kry. Gee vir mense ’n rede om jou advertensie te deel deur afslagkoepons of spesiale geskenke vir die mense te stuur indien hul jou plasings deel.

3) Skep geskenkgidse

Swart Vrydag is oorweldigend vir jou kliënte. Maak dit dus maklik vir jou kliënte om geskenke vir hul geliefdes te koop deur kategorieë te skep. Hoe beter die gebruikerservaring vir jou kliënte is, hoe makliker gaan hul geld op jou webtuiste spandeer.

4) Gee ’n gratis geskenk met elke aankoop

Hits jou kliënte verder aan om die aankoop te maak deur ’n gratis geskenk saam met elke aanlyn aankoop te stuur. As jy dieselfde of soortgelyke afslag as jou mededingers aanbied, kan dit tot jou voordeel strek om ’n gratis geskenk te gee. Maak ook seker dat kliënte weet dat hul ietsie gratis gaan kry deur dit prominent op jou tuisblad aan te dui.

5) Verleng jou verkope na Kubermaandag

Jy kan meer verkope verseker deur die ure (of dae) wat jy afslag gee op jou webtuiste of in jou winkel te verleng na die Maandag. Selfs al verander die aanbod van die Vrydag na die Maandag gaan laatslapers steeds dankbaar wees om op die Maandag nog afslag te kry. Maak seker jy kapitaliseer op die maksimum hoeveelheid verkooptyd.

6) Voeg nuwe produkte by

Alle kopers is mal oor nuwe produkte – veral as hul afslag kan kry op die nuwe produkte. Jy kan ook kies om sekere produkte slegs op Swart Vrydag of Kubermaandag beskikbaar te maak om ’n sin van eksklusiwiteit te skep.