Kry hiér finansiering vir jou besigheid

As jy ’n klein besigheid het waarmee jy kan wys dat jy geld genereer en dat jou mark positief op jou produk of diens reageer – mag dit tyd wees om finansiering te soek. Geld vir ’n besigheid is soos brandstof vir ’n motor, maar ’n motor met ’n vol tenk wat in verkeerde rigting ry is erger as een wat vinnig uit brandstof hardloop. Dit is presies hoe finansiers ook na jou besigheid gaan kyk. Sal hulle belegging net die petrol op die vuur wees of beteken meer geld dat jy net groter foute gaan maak?

As jy wel oortuig is dat jou idee die toets deurstaan is die volgende groot hekkie om te oorkom -Swart Ekonomiese Bemagtiging. Vir baie entrepreneurs beteken dit dat jy bloot nie in ag geneem word vir finansiering nie of dat befondsing nie nét berus op die kwaliteit van jou idee nie. Talle regeringsfondse is spesifiek op swart entrepreneurs gemik, maar dit beteken nie dat jy die baba met die badwater moet uitgooi nie. Goeie idees wat resultate wys, sal altyd investering kry – of dit deur ’n formele fonds is of nie. As jou idee nog in groentjie-fase is is dit beter om jou eerste rondte fondse by vriende en familie te probeer kry as jy nie jou eie kapitaal het nie, maar as jou besigheid van idee na ’n besigheid gegroei het, is dié die fondse en firmas wat jy kan oorweeg:

REGERING FINANSIERINGSFONDSE:

Departement van Handel en Nywerheid (DTI)

Verskaf befondsing aan ’n wye reeks besighede en verskeie sektore.

National Bemagtigingsfonds (National Empowerment Fund, NEF)

Dié bemagtingsfonds is vir Swart Ekonomiese Bemagtingsdoeleindes en verskaf lenings en kapitaal.

Nasionale Jeug Ontwikkelingsagentskap (National Youth Development Agency, NYDA)

Die NYDA gee befondsing aan individue tussen 18 en 35 jaar oud om besighede te begin of te groei.

Industriële Ontwikkelingskorporasie (Industrial Development Corporation, IDC)

Verskeie fondse word onder die IDC bestuur wat befondsing verskaf vir toerusting, bedryfskapitaal en geboue. Dit befonds ook die uitbreiding van besighede.

KZN Groeifonds (KZN Growth Fund)

Die KZN groeifonds se mandaat is is om in infrastruktuur te belê in Kwazulu-Natal.

Land Bank 

Die Land Bank bied ’n wye verskeidenheid van finansiële bystand vir die aankoop van grond, toerusting en bedryfskapitaal vir landbou projekte. Deel van jou aansoek is om ’n volledige sakeplan in te dien.

Klein besigheid finansieringsagentskap (Small Enterprise Finance Agency, SEFA)

SEFA het toegang tot R1.4 miljard in ’n siklus van drie jaar en kry fondse van die regering en Industriële Ontwikkelingskoöperasie (IDC) af.

Tegnologie Innoveringsagentskap (Technology Innovation Agency, TIA)

TIA is ’n regeringsfonds wat in 2008 begin is en op innovasie maatskappye fokus met die doel om ekonomiese groei teweeg te bring.

PRIVAAT FINANSIERINGSFONDSE

4Di Capital

4Di is ’n bekende beleggingsfirma wat deur Justin Stanford begin is, hy het ook die bekende Silicon Cape Initiative begin. Hulle belê in vroeë en groeifases van maatskappye en het in 2016 ’n fonds van R225 miljoen tot hulle beskikking gehad.

Action Hero Ventures

Action hero Ventures belê ’n maksimum van R3 miljoen in nuwe besighede en kyk ook om saam ander beleggers te belê. Hulle het onlangs in Wumdrop, Picsa en Domestly belê.

AngelHub Ventures

Die firma belê in vroeë stadium besighede. Die vorige hoof van Eerste Nasionale Bank (ENB), Michael Jordaan, is op die raad en het onlangs in Snapplify belê, ’n platform wat belowe om toegang tot e-boeke vir die Afrika mark verbeter. Montegray, nog ’n maatskappy van Jordaan belê ook deur AngelHub en teiken besighede wat minstens twee jaar aan die gang is.

Clifftop Colony

Clifftop Colony is tans besig met hulle vierde ooreenkoms en alhoewel hulle spesialiseer in beleggings van R20 miljoen en op, het hulle ook nou begin om klein besighede te befonds wat potensiaal wys. Bestaande beleggings sluit Wyzetalk, Loot en die aanlyn oudio-diens iona.fm in. Wat hulle anders maak is dat hulle nie vaste tydperke het waarin hulle weer uitgekoop moet word nie.

Edge Growth

Edge Growth bestuur ’n R388 miljoen fonds namens Eerste Nasionale Bank, genaamd Vumela. Sowat R226 miljoen is reeds belê. SweepSouth het by dié fonds gebaat asook Giraffe, ’n nuwe werwingsagentskap wat selfoontegnologie gebruik. Die Vumela fonds fokus veral op besighede wat werk kan skep en hulle eerste 17 bellegings het tot dusver 1811 voltydse poste geskep.

Goodwell Investments

Dié beleggingsfirma is gebasseer in Nederland maar het ’n portfeulje vol Afrika-gebasseerde maatskappy wat in verskillende groeifases is. Een van hulle fondse stel 50 miljoen Euro vir tegnologie besighede in die finansiële sektor beskikbaar.

HAVAIC

HAVAIC het vanjaar R2 miljoen in die aanlyn sekuriteitsmaatskappy, Aura, belê wat met Uber ’n ooreenkoms gesluit het om vir drywers virtuele paniek-knoppies beskikbaar te stel. Die paniek-knoppie konnekteer drywers aan die naaste privaat sekuriteitsvoertuig in noodgevalle. HAVAIC is in Kaapstad gebasseer en het sowat vyf beleggings tot dusver gemaak.

Jozi Angels

Hierdie netwerk fasiliteer meestal ooreenkomste tussen entrepreneurs en beleggers en verskaf ook self befondsing en leiding vir maatskappye in die beginfase.

Kalon Venture Partners

Dié fonds was voorheen bekend as Grotech en belê in die tegnologie sektor. Vorige beleggings sluit Snap n Save, i-Pay en The Sun Exchange in.

Knife Capital

Die bekende entrepreneur Keet van Zyl staan aan die hoof van dié R100 miljoen fonds. Die oud-Springbok rugbyspeler, Bob Skinstad is ook betrokke by Knife Capital en hulle 12 beleggings in klein besighede het in 2016 ’n omset van R65 miljoen gehaal. Hulle het kantore in Kaapstad en Londen. Hulle is opsoek na besighede spesifiek in Suid-Afrika en Engeland wat skaalbaar is, ’n unieke kompeterende voordeel of intellektuele eiendom het wat tot $5 miljoen benodig.

Newtown Partners

Newtown Partners is op die televisie program Dragon’s Den tot stand gebring deur Vinny Lingham en Llew Claasen. Van hull beleggings sluit in SA Florist en SweepSouth in.

Niveus Ventures

Niveus is een van die nuutste firmas wat hulle verskyning gemaak het en is ’n onderafdeling van Hosken Consolidated Investments (HCI). Hulle fokus op beleggings onder R1 miljoen en dan tussen R100 – R200 miljoen. Niveus belê in maatskappye wat potensiaal het om ‘n ommekeer te bewerkstellig, gevestigde en jong groeiende besighede.

Quona

Quona belê in finansiële tegnologie idees vir ontluikende markte. Hulle was in 2016 deel van die $15 miljoen beleggingsrondte vir die betalingsisteem, Zoona. Quona het ook die mobiele betaaloplossing, Yoco, in hulle portfeulje.

South African Business Angel Network (SABAN)

Die SABAN netwerk het in 2016 geloods en hoop om, soos Silicon Cape en SiMODiSA, beleggers en klein besighede bymekaar uit te bring.

SABF Seed Fund

Dié fonds is deur SAB se geloods en bied studente en entrepreneurs toegang tot toets kapitaal van tot R10 000 om hulle idees te ontwikkel. Hulle bied ook tot R50 000 vir idees wat nog in die groentjie-fase is.

Silvertree Internet Holdings

Manuel Koser en Peter Allerstorfer, beide van Zando af, het dié fonds begin spesifiek op e-winkels en internetmaatskappye gefokus is. Hulle het vanjaar $10 miljoen opsy gesit vir belegging in Suid-Afrikaanse klein besighede. Hulle het in bekende besighede soos Click n Compare, WineCo, We Are Monsters en PriceCheck belê. In 2015 het Silvertree ook R10 miljoen in die organiese kos maatskappy Faithful to Nature ingestoot.

Team Africa Ventures

Dié beleggers het onlangs in Hyperli belê, hulle fokus op tegnologiese gedrewe besighede wat volhoubare oplossings bied. Die fonds is deur Daniel Guasco en Wayne Gosling begin, wat die maatskappy Twangoo begin en binne 125 dae aan Groupon verkoop het.

Technology Innovation Agency

Hierdie agentskap werk in samewerking met universiteitskampusse en ander organisasies om vir beginners tussen R500 000 tot R650 000 kapitaal voor te skiet om hulle idees te ontwikkel. Die Innovation Hub is ook deel van die ondersteuningsnetwerk van dié agentskap.

VC4Africa

VC4Africa beskryf hulself as die “Afrika platform” vir besigheidsbeleggings. Dit is ’n gemeenskap wat strek oor meer 150 lande en entrepreneurs kan beleggers soek vir befondsingsbedrae van onder $1 miljoen.

Business Partners Venture Fund

Met ’n fokus op werkskepping het dié fonds in 2015 ’n R300 miljoen “groen” fonds begin, maar het al miljarde rande in klein besighede belê. Hulle belê in besighede wat reeds wys dat hulle groei en belê tipies tussen R3.5 – R7 miljoen per besigheid. Indien jy aansoek doen neem dit sowat ses maande vir hulle om jou besigheid te ontleed.

CDI Capital

CDI Capital geniet ondersteuning van die Nasionale Tesourie en se fokus is veral op werkskepping. Jy kan aansoek doen vir R21 000 vir elke werk wat jy sal kan skep en 20% van die bedrag wat jy voor aansoek doen moet jy van jou eie geld investeer.

Grovest

Grovest het in 2015 geloods met ’n R100 miljoen fonds vir klein besighede. Dit is ook die eerste VC-firma wat onder artikel 12J van die Inkomstebelasting wetgewing geregistreer is, wat beleggers belastingvoordele toestaan vir die beleggingen wat hulle maak. Hulle doel is om tussen drie tot vyf maal hulle beleggings te groei oor ’n drie tot sewe jaar periode.

Polymorph

Polymorph is ’n tegnologie maatskappy wat hoofsaaklik in web toepassings belê, hulle belê hulle eie fondse asook hulle eie tyd en kennis om klein besighede te help groei.

Futureneers

Futureneers belê in vroeë stadium besighede veral in die tegnologie arena, hulle bied ook post-belegging bystand en ondersteuning. Hulle het samewerkingsooreenkomste in in die Verenigde State, Verenigde Koninkryk, Israel, Indië en Australië. Tegnologie produkte in gesondheid, advertensie, agri, media, voedsel, selfoon en finansiële sektore sal voorkeur geniet. Futureneers is begin deur Johannes Booysen, die stigter van Yonder Media, The Hot Dog Café and mede-stigter van B-one Holdings.

Jumpstarter

Aanlyn beleggingsplatform waar die publiek in kreatiewe projekte belê. Projekte in kuns, dans, ontwerp, mode, film, kos, musiek, fotografie, tegnologie, teater en uitgewerswese sal oorweeg word. Jy stel die doelwit van fondse wat jy wil insamel en slegs as jy jou doelwit bereik word die bedrag uitbetaal. Jy kan enige iets in ruil gee vir die belegging, spesiale produkaanbiedinge, ’n belofte van afslag of spesiale voordele.

Alphawave

’n Stellenbosch tegnologiegroep wat in sagteware en elektroniese vaardighede belê.

Elke maand word talle belowende jong besighede befonds, groei jou besigheid tot op ’n plek waar jy werklik net geld nodig het om dit te groei. Toets jou mark, toets jou produk, kry die regte span en maak seker jou verkope kan ’n belegger beïndruk. Kry jou besigheid belegger-gereed voordat jy sê dat dit nie moontlik is om in Suid-Afrika befondsing te kry nie.