Lesse wat entrepreneurs by Tesla kan leer

Wat kan ons by Elon Musk leer in terme van hoe hy die maatskappy Tesla gebou en gegroei het? Tesla kry sowat 200 000 voorafbestellings in die eerste maand na hul ’n nuwe voertuig aangekondig het. Vergelyk dit met die beste motorverkoper in Amerika, naamlik die Ford-150, wat 1 miljoen motors ’n jaar verkoop. Dit wil sê Tesla verkoop ’n vyfde van wat Ford in ’n jaar verkoop, nog voordat die motor vervaardig is. Tesla het die $20 miljard omsetkerf in 2019 verbygesteek en min ondernemings kry dit reg om soveel vertroue in te boesem soos Tesla. Nie net het hulle die motorbedryf onverhoeds betrap nie, maar hulle het volgelinge wat bereid is om enige iets te koop wat hulle die wêreld instuur. Wat is die lesse wat ons uit Tesla se verhaal kan leer? Hier is ’n paar:

  1. Fokus op die kliënt se ervaring

As jy by Tesla ’n motor koop, gaan jy nie na ’n motorhandelaar toe om inligting te kry of om te onderhandel met ’n onbetroubare verkoopspersoon nie. Jy kry al die inligting aanlyn, betaal ’n vaste prys terwyl jy weet dat dit nêrens anders goedkoper of duurder gaan wees nie, en jou motor word afgelewer. Van alle motorvervaardigers is Tesla se kliëntelojaliteit die hoogste, rondom 90%! Die maatskappy neem beheer van die hele proses van waar die kliënt met die produk te doen het.

Beheer jy die proses wat jou kliënt meemaak wanneer hulle jou produk of diens koop? Is daar ’n sin van eksklusiwiteit in dit wat jy vir hulle doen? Kontrakteer jy moontlik die belangrikste raakpunte met kliënte aan iemand anders uit? Neem beheer van jou kliënt se ervaring, weet hoe hulle wil voel wanneer hulle met jou besigheid doen en maak seker jy kan dit elke keer repliseer.

  1. Bou ’n sterk verwysingsprogram

Mense vertrou hulle vriende en familie meer as ’n advertensie. Tesla spandeer minder geld aan bemarkingsveldtogte as sy mededingers want hulle maak op verwysings staat. Die resep is eenvoudig, maak seker jy maak dit maklik vir kliënte om jou onderneming te verwys en beloon hulle wanneer hulle dit doen.

  1. Stel jou kliënte in staat om te koop

Nadat jy ’n Tesla motor toetsbestuur het, word daar ’n skakel na jou selfoon toe gestuur wat jou toelaat om die motor volgens jou behoeftes in te stel, bykomstighede by te voeg en ook in detail na die prys van elke aspek te kyk. Dit stel kliënte in staat om die besluit te neem, sonder onnodige verkoopspraatjies. Sowat 73% van Tesla se kliënte sê hulle waardeer dat hulle tyd gerespekteer word, en dat hulle al die inligting kry om ’n besluit te neem sonder om vrae te vra.

Wat beteken dit vir jou onderneming? Is jou verkoopsproses moontlik te lank of ingewikkeld? Watter inligting kan jy gebruik om jou kliënte te bemagtig sodat hulle op hulle eie tyd ’n besluit kan neem?

  1. Doen moeite na die tyd

’n Kliënt se ervaring eindig nie die oomblik wanneer hulle geld in jou bankrekening beland nie. Jou kliënt se persepsie van die onderneming word bepaal deur hoe hulle voel nadat hulle by jou iets gekoop het. Voel hulle spyt dat hulle teveel geld spandeer het, of is hulle steeds onseker of hulle die beste opsie gekies het of voel hulle trots om met jou handelsmerk te spog? Dit help nie Tesla verkoop elektriese motors maar installeer nie laaistasies regoor die land waar hul kliënte hul motors kan laai nie. Dit wat jy na die tyd doen, tel ook.

Volg jy op met jou kliënte of hulle gelukkig was met hulle aankope? Laat jy hulle goed voel oor die geld wat hulle by jou spandeer het en oortuig jy hulle dat hul waarde vir geld gekry het? Beloon hulle deur dankie te sê, vertel hulle tot watter visie hulle bydra met elke aankoop en maak dit maklik vir hulle om produkte om te ruil. Besin oor die ervaring wat kliënte het nadat hulle van jou ondernemig gebruik gemaak het, só kry jy ook makliker verwysings!