Maatskappye in nood: Hiér is jou opsies 

Volgens Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) het 85,4% van maatskappye in ’n onlangse studie drastiese afnames in hulle omset ervaar. Sowat 54% van besighede kan as gevolg van die inperkingstydperk net vir een tot drie maande oorleef, terwyl 30,6% minder as ’n maand kon oorleef. Hulle studie wys verder dat 65% van besighede die huidige koronakrisis veel erger ervaar as die finansiële krisis in 2008.

As jou besigheid dus swaar trek is jy nie alleen nie, maar wat is jou opsies? Jy moet kies tussen kostes tot die been toe sny om te oorleef, of waarde in jou bates probeer hou as jy oorweeg om jou besigheid te verkoop.

Jou besigheid verkoop, likwideer of in besigheidsredding plaas

As jy jou besigheid wil befonds met die doel om dit te verkoop, sal fondsbestuurders ook na die resultate van jou besigheid in die vorige jaar kyk. Jou besigheid sal nie net gewaardeer word op grond van die situasie waarin jy nou is nie. Wees egter steeds versigtig, want daar is steeds talle kopers nou daarop uit om besighede onder markwaarde aan te koop. As dit jou doel is om jou besigheid te probeer verkoop, is dit belangrik om aan jou bates vas te klou en so min as moontlik kontant uit die besigheid te laat vloei. As jy met die verkoop van jou besigheid wil wys dat jy ’n gesonde besigheid het, lees dié artikel oor vier maatstawwe wat wys jy maak wins.

Likwidasie kan op twee wyses plaasvind, hetsy geforseer deur krediteure of deur eie oortuiging van die besigheidseienaar. Dit gebeur wanneer ’n besigheid insolvent is en nie in die voorsienbare toekoms aan die eise van sy krediteure kan voldoen nie.

Besigheidsredding het ten doel om likwidasie of insolvensie te voorkom. Die doel is om die besigheid met behulp van ’n praktisyn te rehabiliteer. Dit plaas ’n tydelike moratorium op die reg van krediteure om eise op die besigheid se bates in te stel. Dit plaas ook die toesig van die maatskappy in die hande van ’n besigheidspraktisyn. Vir meer inligting oor die proses van besigheidsredding, laai hier ’n PDF van die Werksmans-groep af.

As jy wel besef dat jy teen ’n verlies besigheid doen, lees die artikel oor hoe om jou verliese te hanteer.

Formules wat jou kan help

Jou besigheid is in nood as jy nie kan voorsien hoe jy in die volgende ses maande jou uitgawes en krediteure kan betaal nie. Maar daar is meer as een rooi lig waarvoor jy moet uitkyk. Hier is formules wat elke besigheidseienaar moet ken:

Operasionele hefboom (operating leverage): Dié formule wys watter persentasie van totale koste uit vaste koste en veranderlike koste bestaan. Dit wys hoe effektief ’n besigheid sy vaste koste gebruik om wins te genereer.

Operasionele hefboom = Bruto wins – Veranderlike koste ÷ omset

As jou verhouding laer as 10% is, is daar rede tot kommer.

Kontantverhouding (cash ratio): Hierdie formule wys hoeveel kontant jy werklik op hande het.

Kontantverhouding = Kontant ÷ Bedryfslaste

Kontant is die geld wat jy beskikbaar het om te spandeer en bedryfslaste is die laste wat jy in die kort termyn moet betaal.

Kontantverbrandingskoers (cash burn rate): ’n Maatskappy se spandering van kapitaal moet minder wees as die siklus wat dit neem om inkomste te genereer. Met ander woorde, as jy R100 000 oor het vir die volgende 30 dae, maar dit gaan jou 45 dae neem om genoegsaam kontant te genereer, is daar ’n probleem. Jou kontantverbranding is die hoeveelheid kontant wat jy in ’n maand spandeer. As jy R50 000 ’n maand spandeer, maar jy weet dit gaan jou dalk nog 60 dae neem om inkomste te genereer, dan weet jy dat ’n lening van R30 000 nie enige verskil gaan maak nie.

Maak seker jou finansiële state is op datum, want of jy nou besluit om die besigheid te verkoop, aansoek te doen vir besigheidsredding of somme moet maak om te kyk of jy gaan oorleef, benodig jy akkurate syfers. As die formules uitdagend is om self te doen, is dit steeds waardevol om te weet wat om jou rekenmeester te vra.

Ander artikels om te lees:

Considerations for companies in distress

10 Critical KPI Metrics to watch in your Business

5 Tough Steps to Save Your Failing Business

Understanding the Burn Rate

8 Accounting Formulas Every Business Should Know