Meer as 2 000 ondernemings nou op die AfriForum Netwerk geregistreer

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die hoeveelheid ondernemings wat op die AfriForum Netwerk geregistreer is, het sedert Maart vanjaar byna verdubbel.

Die AfriForum Netwerk (voorheen bekend as Afrikaans-Vriendelik) is ’n aanlyn databasis van ondernemings wat in Afrikaans dienste lewer en dit word deurlopend uitgebou. Dié ondernemings strek van klein koeksisterbakkerye en organiese velsorgreekse tot gevestigde regsfirmas.

Daar is tans sowat 2 000 geregistreerde sakeondernemings op dié gids geregistreer.

Zoë Burger, die dinamiese eienaar van Kuif en Baard, het onlangs met Forum Nuus gesels oor die hupstoot en blootstelling wat die AfriForum Netwerk vir haar onderneming gebied het. Sy het danksy dié gids ’n kliënt gekry wat vanuit New York ’n haarafspraak gemaak het.

“’n Kliënt wat baie tussen die VSA en Suid-Afrika reis, het ons uit New York gekontak en gesê dat hy ons op die AfriForum Netwerk gesien het. Hy’t vertel dat hy al verby ons barbier gery het, maar toe spesifiek op die gids gaan soek het om te kyk of ons deel is daarvan. Toe hy sien dat ons gelys is, het hy sy afspraak vanuit New York gemaak en sal hy sy hare kom sny wanneer hy in die land is.”

 width=

Dié databasis is maar een van vyf inisiatiewe van AfriVriendelik. Ander inisiatiewe sluit onder meer ʼn aanlynkletskamer vir AfriForum-lede en entrepreneurs, die jaarlikse Tinteltong Toekennings, ʼn entrepreneurskompetisie asook opleidingsessies vir entrepreneurs en besigheidseienaars in wat op hoogte wil bly met die nuutste tendense op die entrepreneursfront.

Volgens Sanderien van der Walt, koördineerder van AfriVriendelik, is dié webwerf die ideale bemarkingsplatform vir enige onderneming omdat dit soos ʼn gemeenskap funksioneer.

“Enige lid van die publiek wat na Afrikaanse produkte of dienste op soek is, het toegang tot die databasis. Hulle kan ook ondernemings wat Afrikaans bevorder, nomineer vir die kompetisie, ongeag die grootte van die onderneming.”