Skep ’n positiewe werksomgewing met die taal van waardering 

Gary Chapman se bekende beste verkoper boek, The 5 Languages of Love, het ’n opvolg uitgawe met die naam The 5 Languages of Appreciation in the Workplace. Dit is ’n handboek vir bestuurders om hoër werksbevrediging te verseker, gesonde verhoudings tussen spanleiers en werknemers te kweek en om uitbranding te voorkom. Studies in die boek dui aan dat personeel omset die hoogste nie-produksie koste is wat besighede in die gesig staar. Hulle het ook bevind dat ’n negatiewe werksomgewing letterlik werknemers se lewensverwagting verminder. As entrepreneur kan jy nie in die langtermyn suksesvol wees as jy nie waarderingstaal bemeester nie.

So hoe verseker jy dat jy jou werknemers behou en dat hulle met ywer hulle take uitvoer? Daar is vyf maniere waarop jy dit kan doen, opbouende woorde, kwaliteit-tyd, geskenke, diensbaarheid en fisieke aanraking. Dit is jou werk om te begin oplet na wat elkeen van jou werknemers nodig het. Op grond van hulle persoonlikheid verkies hulle onderbewustelik om waardering op hoofsaaklik een of twee maniere te ontvang. Een persoon helder byvoorbeeld op wanneer hulle erkenning voor hulle kollegas kry en ’n ander mag dalk meer gewaardeerd voel as hulle ’n pak biltong kry vir die  ekstra ure wat hulle aan ’n onlangs projek spandeer het.

Opbouende woorde

Dié taal van waardering is om met geskrewe of gesproke woorde vir iemand erkenning te gee waar dit hulle toekom. Dit kan wees om in ’n e-pos iemand geluk te wens vir ’n projek wat hulle suksesvol afgehandel het, of om erkenning te gee vir ’n karaktereienskap wat gehelp het om ’n situasie te ontlont.

Kwaliteit-tyd

Daar is altyd iemand in die kantoor wat graag geselsies wil aanknoop en dit waardeer as hulle persoonlike aandag kry. Sekere mense floreer op gedeelde ervarings soos ’n korporatiewe wegbreek of kleingroep besprekings, dit laat hulle voel dat hulle geld en dat tyd, ’n kosbare hulpbron, aan hulle afgestaan word.

Geskenke

Die taal van geskenke behels deurdagte geskenke wat mense laat voel dat jy omgee. Geld of bonusse tel nie as die taal van geskenke nie. Dit is eerder ’n rugby seisoenkaartjie vir ’n sportliefhebber of ’n koepon vir iemand wat hard gewerk het om hulle man of vrou uit te neem vir ete. Vir sekere mense tel geskenke net meer as enige iets anders, dit is mense wat nie kan wag om te verjaar nie of wat aanstoot sal neem as iemand nie vir hulle ’n geskenkie sal saambring van oorsee af nie. Vir hulle beteken ’n geskenk dat jy aan hulle dink en hulle ag.

Diensbaarheid

Om diensbaar te wees is om iemand met hulle take by te staan en te ondersteun wat hulle onder druk is. As iemand oorlaai is met projekte kan jy aanbied om van hulle werk oor te neem of selfs net vir hulle koffie aandra wanneer hulle ’n spertyd moet haal.

Fisieke aanraking

Fisieke aanraking is ’n meer sensitiewe waarderingstaal in die werkplek en moet versigtig benader word. Sekere mense is meer fisiek ingestel en mag en af en toe ’n drukkie van ’n mede-kollega waardeer as hulle deur ’n moeilike tyd gaan, of ’n fisiese klop op die skouer geniet wanneer hulle ’n oorwinning in die werksplek behaal het.

Let op na die interaksie tussen jou werknemers, hoe hanteer hulle ander mense en wat gebruik hulle om ander oor wie hulle omgee, erkenning te gee? Dit kan ’n leidraad wees oor wat hulle self ook sal verkies. Selfs al is jy onseker oor presies watter taal die beste by watter werknemers sal pas, doen soveel jy kan. Begin minstens waardering wys en kyk wat jou werknemers se reaksie is. Jou besigheid moet naderhand elke waarderingstaal in sy struktuur inbou, sodat dit maklik is om op enige manier vir ’n werknemer waardering te kan wys, sonder om hulle bloot meer geld te betaal. Finansiële beloning moet die laaste manier wees waarop jy jou werknemers moet motiveer en boonop kan jy nie elke tweede week of maand iemand ’n verhoging gee nie. Waardering is iets wat deel van die DNS van jou besigheid moet word. Wie weet, kort voor lank gebruik jou werknemers dalk self met mekaar die waarderingstale wat jy gebruik!