Stakings in die werkplek

Die reg om te staak word deur Artikel 23 van die Suid-Afrikaanse Grondwet aan elke werknemer verleen. Stakings word dikwels beskou as ’n industriële wapen vir werknemers om ’n geskil met die werkgewer te besleg ná die mislukking van kollektiewe bedinging.

Voor die nuwe bedeling ná 1994 is stakings as óf wettige, óf onwettige geklassifiseer. Sekere voorvereistes was aan werknemers gestel alvorens ’n staking as wettig geklassifiseer sou word. Indien werknemers nie aan dié vereistes voldoen het nie, was dit ’n onwettige staking, wat tot interdikte en strafregtelike vervolging kon lei.

Onder die huidige bedeling is stakings gedekriminaliseer en ’n werknemer kan nie meer strafregtelik vervolg word omdat hy of sy aan ’n staking deelgeneem het nie. Die Wet op Arbeidsverhoudinge, (no. 66 van 1995) (die WAV) gee uiting aan die fundamentele regte verleen deur artikel 23 van die Grondwet. In die saak van Association of Mineworkers & Construction Union v Chamber of Mines of SA 2017 7 BLLR 641 (KH) het die Konstitusionele Hof dit weer benadruk dat die howe nie sal toelaat dat hierdie grondwetlike reg om te staak maklik ingeperk word nie.

Artikel 213 van die WAV omskryf ’n staking as:

die gedeeltelike of volkome gesamentlike weiering om te werk, of die vertraging of belemmering van werk, deur persone wat in diens is of was van dieselfde werkgewer of verskillende werkgewers, met die oog op die regstelling van ’n grief of die beslegting van ’n geskil rakende enige aangeleentheid van onderlinge belang tussen werkgewer en werknemer, en sluit elke verwysing na werk in hierdie omskrywing oortydwerk in, ongeag of dit vrywillig of verpligtend is’.

Artikel 64 van die WAV vereis egter dat daar aan sekere prosedures voldoen moet word, alvorens ’n staking as beskermd beskou word. Hierdie vereistes is as volg:

  • Die geskil moet na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) of ’n bedingingsraad verwys word.
  • ’n Sertifikaat wat bevestig dat die geskil nie deur die versoeningsprosesse in die KVBA opgelos kon word nie.
  • In die privaatsektor moet daar skriftelike kennisgewing van minstens 48 uur, ten opsigte van die aanvang van die staking, aan die werkgewer gelewer word.

Dit is egter steeds belangrik dat werknemers verseker die staking is ’n beskermde staking, want werknemers wat aan ’n beskermde staking deelneem, mag nie as gevolg van hul deelname ontslaan word nie. So ’n werknemer pleeg ook nie ’n delik of kontrakbreuk nie, en stel hom- of haarself nie bloot aan enige siviele eis nie.

’n Staking wat nie aan die vereistes van die WAV voldoen nie, is onbeskermd en werknemers wat daaraan deelneem, geniet dus geen beskerming soos hierbo omskryf nie. Ons howe sal ook nie huiwer om ’n interdik teen dié soort stakings uit te reik nie.