Blogplasings

Gaan deur ons jongste blogplasings.

Buiten die verantwoordelikheid wat opgelê word op werkgewers om ’n veilige werksomgewing vir hulle werknemers te skep, is daar ook ander verantwoordelikhede wat werkgewers moet nakom. Die belangrikste hiervan handel oor wat die werkgewer te doen staan wanneer een van jou werknemers positief toets vir COVID-19 of in nabye kontak was met iemand wat positief getoets het. Moet jy as werkgewer betaalde verlof toestaan of siekverlof toestaan? Ons loer na ’n paar scenario’s en wat die werkgewer se plig is:

1) ’n Werknemer toets positief

Werknemers wat positief toets vir COVID-19 moet vir minstens 10 dae in self-isolasie bly voordat hulle mag terugkeer werk toe. Wanneer ’n werknemer vir meer as twee dae van die werk af wegbly, moet die werknemer ’n mediese sertifikaat aan die werkgewer verskaf wat aandui dat hulle siek was. Indien die werknemer die virus by die werk opgedoen het, moet die werkgewer ’n COIDA-kennisgewing indien. In so ’n geval kan siekverlof nie gebruik word vir die periode wat die werknemer nie by die werk is nie. Die werkgewer moet minstens 75% van die werknemer se salaris betaal en dit vanaf die Vergoedingskommissaris terugeis. Indien die werknemer nie die virus by die werk opgedoen het nie mag die werknemer siekverlof neem, maar moet ’n mediese sertifikaat toon. Indien die siekverlof van die werknemer uitgeput is moet die vir TERS-WVF aansoek doen vir die werknemer.

2) Hoë risiko vir blootstelling

Indien ’n werknemer blootgestel is aan iemand wat positief getoets het vir die virus, is daar verskeie maniere om te werk te gaan. Indien die blootstelling in die werkplek plaasgevind het, moet die werknemer op betaalde siekverlof geplaas word vir 14 dae. Indien die werknemer se verlof uitgeput is mag hy/sy aansoek doen vir TERS-WVF. Indien die werknemer buite die werkplek aan COVID-19 blootgestel is en indien hulle nie van die huis af kan werk nie, en hulle het nie verlof beskikbaar nie, kan die werkgewer op ’n geen-werk-geen-betaling-beginsel aandring. Indien ’n werknemer in nabye kontak woon met iemand wat positief vir COVID-19 getoets het, moet die persoon nie terugkeer werk toe nie. In so ’n geval is die werknemer slegs geregtig op siekverlof indien hulle ’n mediese sertifikaat kan indien. Indien die werknemer daarna positief toets vir COVID-19, moet hulle op betaalde siekverlof geplaas word.

3) Indien ’n werknemer COVID-19-simptome toon

In ’n geval waar ’n werknemer COVID-19-simptome toon maar nie getoets is nie, moet die werkgewer nie die werknemer toelaat om terug te keer na die werkplek nie. Indien die werknemer vir langer as twee dae nie by die werk is nie, kan die werkgewer op ’n mediese sertifikaat aandring voordat betaalde siekverlof toegestaan word. Indien die werknemer by die werk simptome toon, moet die werknemer dadelik die perseel verlaat en terugkeer huis toe om te self-isoleer.

Wanneer werknemers ná een van die scenario’s terugkeer werk toe, moet die volgende stappe gedoen word:

  • Werknemers moet ’n mediese ondersoek ondergaan om te bepaal of hulle in staat is om te werk (in die geval van werknemers wat siek was met COVID-19)
  • Werknemers moet ’n masker dra by die werkplek.
  • Alle higiëneprotokols moet nagekom word.
  • Voortgesette monitering van simptome. Indien simptome terugkeer moet die werknemer weer mediese hulp soek.

 

 

Deel die artikel