Stel só ’n bemarkingsplan op

Voordat jy jou bemarkingsplan begin opstel moet jy jouself die volgende vrae vra:

  1. Wat wil ek bereik en hoekom?
  2. Wie is die presiese teikenmark wat ek wil bereik?
  3. Wie is my mededingers en op watter vlak is hulle bemarkingsinisiatiewe?
  4. Wat is my unieke aanbod wat my besigheid anders maak?
  5. Hoe vergelyk my prysstrategie met dié van my mededingers?
  6. Waar hang my teikenmark uit en hoe bereik ek hulle?
  7. Hoeveel geld is ek bereid om te spandeer per betalende kliënt?
  8. Watter resultate het ek reeds met my produk of diens behaal?
  9. Watter waarde kan ek gratis vir my kliënte bied?

Met antwoorde op dié vrae sal jy ’n beter idee hê van wat jy moet doen. ’n Bemarkingsplan is nie net ’n dokument wat jy opstel nie; dit moet ’n werkbare plan wees wat jy en jou span elke maand nagaan.

Begin jou plan só skep:

Doen ’n omgewingsanalise

Dit is noodsaaklik dat jy en jou span julle aandag op die kompetisie vestig. Jy kan ’n SWOT-analise saam met jou span doen om agter te kom wat die geleenthede en uitdagings vir jou mededingers en jou eie besigheid is. Maar dit moenie net daar bly nie; op grond van die gevolgtrekkings wat julle maak moet julle neerskryf op watter tipe diens, prys of kompeterende voordeel julle moet fokus. Dink aan wat julle anders maak, want dít is die boodskap wat jy moet bemark.

Definieer jou teikenmark

Soveel entrepreneurs spring weg met advertensies en bemarkingsveldtogte sonder dat hulle nadink oor wie die gehoor is. In watter geografiese omgewing woon jou ideale kliënt? Is hy/sy gegradueer en in watter inkomstevlak val hulle? Watter probleme ervaar hulle? Watter geslag of ouderdomsgroep is hulle? Wat is jou ideale kliënt se drome en wat maak hulle opgewonde? As jy nie ’n spesifieke beskrywing van jou teikenmark het nie, gaan jou boodskap te universeel wees en gaan jy iets vir almal probeer wees. Hoe skerper jou fokus, hoe goedkoper jou bemarking.

Stel doelwitte

Jou bemarkingsplan se doelstelling moet aan die SMART-matriks voldoen. Dit moet spesifiek, meetbaar, haalbaar, relevant en tydgebonde wees. Hoeveel nuwe volgelinge wil jy in die volgende drie maande hê? Met hoeveel nuwe kliënte kan jy realisties met jou bestaande veldtogte groei? Hoeveel wil jy hê moet dit jou kos om daardie kliënte te bereik? Hoeveel verwysings of resensies wil jy behaal? Doelwitte wat meetbaar en spesifiek is, is makliker om op terug te reflekteer wanneer jou spertyd vir die doelwitte verby is. Jy kan dan spesifiek sien waar jy gefaal het, waar jy kan verbeter en watter doelwitte onrealisties was. As jy nie weet hoe dit lyk as jy suksesvol is nie, gaan jy nooit weet of jy vordering maak nie!

Analiseer jou taktieke

Die doel van ’n bemarkingsplan is nie net om die volgende drie, ses of twaalf maande se veldtogte en doelwitte te beplan nie, maar ook om rekord te hou van wat gewerk het en wat nie. Dit moet ’n lewendige dokument wees waaraan jou span konstant werk. As jy ’n veldtog in jou plan gelys het waar jy deur middel van ’n Facebook-kompetisie 500 intekenaars op jou nuusbrief wil genereer, moet jy dit na die tyd analiseer en die resultate op jou bemarkingsplan aanbring. Dit gee jou die geleentheid om met volgende jaar se plan ook na die resultate te kyk. Jy wil verder ook elke veldtog wat jy beplan noukeurig analiseer in terme van die werkbaarheid. Is die produk wat jy vir die kompetisie wil weggee aanloklik genoeg vir die hoeveelheid intekenaars wat jy soek? Weet jy van ander Facebook-gemeenskappe waar jy ook jou kompetisie kan gaan deel om meer voete op jou landingsblad te kry? Moet jy dieselfde kompetisie dalk meer as een keer hou of watter ander kanaal kan jy gebruik om dieselfde of beter resultate te kry?

Stel ’n begroting op

Heg ’n bedrag aan elke veldtog wat jy beplan sodat jy kan sien of jy dit werklik kan bekostig. Gaan vind uit wat ’n banieradvertensie op Huisgenoot se webtuiste sal kos of hoeveel maatskappye gemiddeld betaal vir ’n betaal-per-klik-advertensie op Maroela Media. Dalk moet jy sekere funksies uitkontrakteer of sagteware aankoop. Maak egter seker jy weet wat jou plan gaan kos sodat jy weet waarvoor jy jouself inlaat.

Struktuur van ’n bemarkingsplan

Sodra jy al die elemente van ’n bemarkingsplan deeglik deurgetrap het, kan jy dit saamstel in die volgende struktuur:

  1. Besigheidsopsomming: Dit sluit jou missie en visie in, waar jou besigheid op die oomblik is en wat jou dienste en produkte behels. Jy kan ook hier die uitkomste van jou SWOT-analise insluit.
  2. Bemarkingsveldtogte: Hier sal jy die spesifieke projekte, aksies of veldtogte lys wat jy beplan, saam met elkeen se SMART-doelwit.
  3. Teikenmark: ’n Beskrywing van hoe jou ideale kliënt lyk.
  4. Bemarkingstrategie: Hier verduidelik jy waarom jy die veldtogte kies wat jy gekies het. Jy kan ook hier verwys na die sewe P’s van bemarking, naamlik produk, prys, promosie, plek, prosesse, fisiese bewyse en mense. Ontleed hier jou kompetisie en verduidelik waar jou fokus gaan wees teenoor dit waarop jou mededingers fokus.
  5. Begroting: Lys jou uitgawes volgens elke bemarkingsveldtog.
  6. Bemarkingskanale: Hier lys jy die kanale wat jy gaan gebruik vir jou veldtogte en wat elkeen se doel is. Kanale sluit die onderskeie sosialemediaplatforms, nuusbriewe, SMS’e, betaaladvertensieplatforms soos Facebook Manager en Google Ads, radio, WhatsApp of enige ander platform in wat jy wil gebruik om jou boodskap uit te dra. Dit is belangrik dat jy weet wat elkeen se doel is.