Tegnologie wat produktiwiteit bevorder

Watter aankope kan jy in 2021 maak wat jou kan help om meer produktief te wees? Eerder as om jou geld op duur restaurante of luukshede te bestee, waarom nie aankope maak wat jou en jou onderneming help om beter tydsbestuur toe te pas nie? Hoeveel keer maak jy jou skootrekenaar oop en besef die battery is pap en daar is nie ’n kragpunt in sig nie? Of het jy al opgedaag om ’n voorlegging te doen net om te besef die projektor kan nie saam met jou skootrekenaar gebruik word nie? Hier is tegnologie wat jou kan help om die beperkte tyd wat jy het, optimaal te gebruik:

  1. Vertaler – Timekettle WT2 Plus

Vir die eerste keer is daar nou oorfone wat gebruik maak van kunsmatige intelligensie. Die TimeKettle kan 36 tale en 84 aksente intyds vertaal. Dié vertaler werk soos gewone draadlose oorfone. Een oorfoon word in jou oor geplaas en die ander een in die kliënt se oor en deur middel van internetkonneksie word elkeen se woorde akkuraat vertaal. Die oorfone se battery hou omtrent vir vyf ure en dit werk saam met ’n toepassing op jou selfoon. Dit is beter as bestaande vertalingstoepassings omdat jy nie jou selfoon vir die ander persoon hoef te gee om te praat nie. Dit is ideal as jy gereeld besigheid doen met mense wat ander tale praat! Sê totsiens vir Google Translate en maak reg om met gemak besigheid oorsee te doen!

  1. Skootrekenaarlaaier – PD Pioneer 20 000 mAh 80W

Daar is talle laaiers op die mark wat jy saam met jou kan dra om jou selfoon te laai, maar wat as jy jou skootrekenaar of ’n monitor wil laai? Die PD Pioneer is die antwoord. Jy kan nou jou skootrekenaar enige plek laai deur bloot ’n klein laaier saam met jou te dra! Die PD Pioneer bevat ’n 20 000 mAh battery wat sowat 74 Wh krag lewer. Dit kan ’n Macbook binne omtrent twee ure vol laai en as jy die battery wil herlaai, neem dit net drie ure. Die laaier is boonop lig en weeg sowat 660 g, wat dit maklik maak om rond te dra.

  1. BenQ InstaShow S WDC20

Dié projektor het nie onnodige kabels nie en geen sagteware is nodig nie. Jy koppel bloot ’n apparaat aan die skootrekenaar waarmee jy ’n voorlegging wil doen, en siedaar! Dit konnekteer sonder ’n probleem aan omtrent enigiets. Jy kan selfs ’n voorlegging met meer as een rekenaar gelyktydig doen.

  1. Slimpen – Livescribe Echo

Die Livescribe Echo-pen neem rekord van dit wat jy skryf en laai dit outomaties op jou rekenaar. Jy kan ook opnames maak deur bloot die pen met jou vinger te tik. Die pen kan 200 ure se opnames of duisende bladsye se notas stoor. Jy kort wel ’n spesifieke soort papier om die notas op te maak. Dit is ideaal as jy al jou notas op een plek wil hê, nooit tyd wil afstaan om notas oor te tik nie en dikwels ’n elektroniese weergawe nodig het van dit wat jy neerskryf.

As jy ’n entrepreneur is, moet jy jaarliks ’n opname maak van al die toestelle wat jy gebruik – wat  gebruik jy op ’n daaglikse basis wat jou tyd gedurig steel en wat het jy nodig om te vervang? Te veel tyd gaan verlore met drukkers wat nie met Bluetooth konnekteer nie, rekenaars wat stadig is en basiese administrasie wat nie deur tegnologie vergemaklik word nie. Skandeer dokumente op jou selfoon, teken kontrakte met ’n toepassing en stoor jou besigheidskaartjies elektronies! Hoe meer tyd jy spaar, hoe meer kan jy doen!