Vyf bemarkingstendense om in 2021 dop te hou

’n Dekade of twee gelede was bemarking redelik beperk tot gedrukte media en TV- en radioadvertensies. Nou is daar ongetelde bemarkingskanale en -tegnieke wat jou in kontak kan bring met jou ideale kliënt en die sukses van jou besigheid kan beïnvloed. Die probleem is egter dat dié bemarkingskanale so vinnig ontwikkel dat dit moeilik is om by te hou. Hier is ’n paar nuwe bemarkingstendense wat jou kan help om uit te staan bo die kompetisie:

1.) Plasings waarop jy kan koop

Sosiale media het ’n belangrike deel van meeste besighede se bemarking- en kommunikasiestrategie geword. Indien jou besigheid nie ’n aanlyn winkel het nie en jy nie sosialemediaplasings gebruik om handel te dryf nie, is jy besig om verkope te verloor. Sosialemediaplatforms bied ’n massiewe geleentheid vir aanlyn handelaars. Sowat 72% van Instagram-gebruikers het aangedui dat hulle ’n produk gekoop het wat hulle op die Instagram-toepassing gesien het. Dit is daarom belangrik om jou sosialemediaplatforms nie net as bemarkingsplatform te gebruik nie, maar ook as ’n verkoopskanaal. “Tag” jou produkte in jou plasings en stories om dit maklik te maak vir kliënte om die produk deur jou plasing te koop. Om dít te kan doen moet jou webtuiste egter aan jou Facebook-blad gekoppel wees. Dié tipe plasings lyk soos gewone plasings, maar is aan die verkoper se webtuiste verbind om kliënte maklik toegang tot die produkte te gee.

2.) Aangepaste realiteit

 Die tegnologie wat die werklikheid met die digitale wêreld vermeng is nog baie nuut in bemarking, maar gaan in die toekoms al meer en meer gesien word. Ray-Ban het dit in ’n stadium byvoorbeeld moontlik gemaak om deur middel van jou rekenaar se kamera hulle sonbrille aanlyn “aan te pas” sodat kliënte kan sien of die bril by hulle gesig pas. Dié tegnologie het ál meer verfynd begin raak en word in verskeie industrieë gebruik. Die Sweedse meubelmaatskappy IKEA het dit byvoorbeeld moontlik gemaak dat kliënte kan visualiseer hoe ’n meubelstuk in hulle huis gaan lyk. Kliënte kan hulle foon of rekenaar oor ’n kamer in hulle huis beweeg en die meubelstuk in die kamer plaas om te sien of dit gaan werk of nie.

3.) Persoonlike bemarking

Kliënte geniet nie meer generiese e-posse vir bemarkingsdoeleindes wat nie direk op hulle as persoon gemik is nie. Een van die groot bemarkingstendense vir die volgende jaar is die vermoë om persoonlik met jou kliënt kontak te maak. Volgens ’n onlangse opname wat deur 1 000 respondente voltooi is het 80% aangedui dat hulle meer geneë sou wees om besigheid met ’n maatskappy te doen wat ’n persoonlike ervaring skep. Dit kan so eenvoudig soos ’n persoonlik geadresseerde nuusbrief wees. Maatskappye soos Netflix wys byvoorbeeld programme vir die gebruiker gebaseer op komplekse persoonlike data. Elke Netflix-gebruiker sien dus ’n verskillende tuisblad gebaseer op vorige programme wat hulle gekyk het. Nuwe navorsing dui daarop dat tot 90% van bemarkers in 2021 van een of ander vorm van persoonlike bemarking gebruik gaan begin maak.

4.) Interaktiewe inhoud

Blogplasings is steeds bruikbaar vir gebruikers wat meer in-diepte inligting wil hê, maar in 2021 gaan daar ’n toename in die behoefte vir interaktiewe inhoud wees. Besoekers aan jou webtuiste gaan op soek wees na alternatiewe inhoud wat hulle aandag kan hou. Inhoud soos interaktiewe kaarte en grafika gaan jou gehoor se aandag vir langer hou. Die aard van die inhoud gaan natuurlik verskil van industrie tot industrie. Een voorbeeld wat baie effektief vir die maatskappy VenturePact gewerk het is om ’n sakrekenaarblokkie op hul webtuiste aan te bring. VenturePact bou toepassings vir kliënte en besoekers kon die sakrekenaar gebruik om uit te werk wat dit sal kos om ’n toepassing te laat bou. Binne twee weke het hulle ’n 15%-toename in besoeke op hul webtuiste gehad en ’n 28%-verhoging in verkope.

5.) Videobemarking

 Die belangrikheid van die gebruik van video’s in bemarking is niks nuut nie en dit bly noodsaaklik in 2021. Video’s kan gebruik word om maklik verwerkbare inligting oor ’n produk of diens weer te gee sonder dat die gebruiker te veel hoef te lees. In ’n wêreld waar alles vinniger en meer effektief moet plaasvind, is video’s ideaal om jou kliënte te bereik.

Tegnologie verander teen ’n snel spoed en dit is belangrik om bewus te wees van die jongste tendense sodat jou besigheid nie agterweë gelaat word nie. Dit is nie nodig om al die nuwe tendense te gebruik nie, maar pas wel dié toe wat tot voordeel van jou kliëntebasis gaan wees.