Wanneer kan insubordinasie tot ontslag lei?

Wanneer ’n werkgewer en ’n werknemer ’n dienskontrak sluit, verkry elkeen sekere regte en verpligtinge. Die werknemer het onder meer die plig om in goeder trou op te tree en uitvoering te gee aan enige redelike en wettige instruksie van die werkgewer.

’n Werknemer maak hom/haar skuldig aan insubordinasie indien hy/sy willens en wetens weier om aan ’n redelike en regmatige werkverwante opdrag gehoor te gee. Waar ’n werknemer weier om gehoor te gee aan ’n instruksie en/of beledigende taal teenoor sy/haar werkgewer of hoof gebruik, of ’n houding van uitdaging of verset inneem, daag hy/sy die werkgewer se gesag uit. ’n Enkele voorval van insubordinasie kan in ernstige gevalle tot ontslag lei.

Om te bepaal of ’n werknemer se gedrag as insubordinasie beskou kan word, moet die volgende vrae positief beantwoord word:

1) Het die werkgewer of hoof ’n opdrag of instruksie aan die betrokke werknemer gegee?

2) Was die opdrag wettig?

3) Was die opdrag redelik, in ag genome die omstandighede?

4) Het die werknemer versuim om aan die opdrag gehoor te gee?

Indien die antwoord op al die bogenoemde vrae “ja” is, is die werknemer skuldig aan insubordinasie.

Alhoewel dit maklik kan wees om vas te stel of die werkgewer se opdrag aan ’n werknemer wettig is, kan dit steeds moeilik wees om vas te stel of die opdrag redelik is.

In die saak van Industry Staff Association and Another v Silverton Spraypainters and Panelbeaters (Pty) Ltd moes die Arbeidsappèlhof die redelikheid van ’n spesifieke opdrag bepaal.

In hierdie saak is ’n werknemer ontslaan nadat hy by drie verskillende geleenthede geweier het om die besigheid van sy werkgewer te bemark. Die werknemer het bevestig dat hy in diens geneem is as ’n beramer en dat dit nie sy verantwoordelikheid was om die besigheid te bemark nie. Die werkgewer het egter bevestig dat die besigheid in finansiële moeilikheid was en die werkgewer het derhalwe die besluit geneem om alle werknemers ’n opdrag te gee om te help met die bemarking van die besigheid. Die werknemers is versoek om pamflette aan die publiek uit te deel om meer kliënte te lok.

Die Arbeidsappèlhof het bevestig dat die redelikheid van ’n opdrag ’n waarde-oordeel behels en het die volgende faktore in ag geneem om die redelikheid van die opdrag te bepaal:

1) Die vermoë van die werknemer;

2) Die ervaring en ondervinding van die werknemer;

3) Of die opdrag veilig en wettig uitgevoer kan word;

4) Dat die opdrag net tydelik van aard sou wees;

5) Dat die opdrag genoodsaak is deur die werkgewer se operasionele vereistes;

6) Dat die werknemer die opdrag by meer as een geleentheid geweier het.

Die hof het bevind dat die werknemer skuldig was aan insubordinasie en dat die werknemer se ontslag billik was.