Wanneer mag ’n werkgewer ’n arbitrasieverhoor by die KVBA uitstel ?

Op 2 Desember 2020 het Cameron Morajane, die Direkteur van die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA), bevestig dat die KVBA se begroting vir 2020 gesny is en dat die KVBA nou met minder moet klaarkom. Hierdie verminderde begroting beteken dat die KVBA tot in Maart 2021 nie meer gebruik sal maak van tydelike kommissarisse nie. Verbruikers van die KVBA kan dus verwag dat hulle langer sal moet wag vir hulle sake om geskeduleer te word. Sake is ook oor die feestyd geskeduleer om die lading van die KVBA te verminder. Dit mag dalk gebeur dat ’n werkgewer nie beskikbaar is op die datum van die arbitrasie nie en die saak wil uitstel tot ’n latere datum.

Reël 23 van die KVBA reguleer die uitstel van ’n arbitrasie. Ingevolge die reël mag ’n arbitrasie uitgestel word indien albei partye skriftelik daartoe instem, en die geskrewe ooreenkoms sewe (7) dae voor die geskeduleerde arbitrasieverhoor aan die KVBA voorsien word. Indien albei partye nie toestem tot die uitstel nie, kan enige party veertien (14) dae voor die arbitrasie aansoek om uitstel doen.

In die laasgenoemde geval het ’n Kommissaris die diskresie om toestemming tot die uitstel te verleen of om die aansoek te weier. Dit is daarom belangrik dat ’n werkgewer bevestiging van die uitstel ontvang alvorens hy/sy versuim om die arbitrasie by te woon.

In die saak van Carefone (Pty) Ltd v Marcus No & Others (1998) het die Arbeidsappèlhof bevestig dat die toestaan van ’n uitstel nie ’n reg is nie, maar ’n vergunning. ’n Party sal derhalwe ’n goeie rede moet hê vir die versoek.

Indien ’n werkgewer met so ’n probleem gekonfronteer word, kan hulle ons gerus skakel vir verdere bystand.