Wat is Facebook Stories en hoe werk dit?

Die waarde van Facebook as ’n bemarkingskanaal vir klein ondernemings is vanselfsprekend. Dit is ’n wyse waarop ondernemings met hul volgelinge en kliënte kan kontak maak, spesiale aanbiedinge deel en nuwe produkte bemark. Een funksie van Facebook wat deur baie ondernemings afgeskeep word, is egter Facebook Stories. Dit is belangrik vir alle klein ondernemings om alle vorme van bemarking te optimaliseer. Volgens Techcrunch het Facebook Stories met 842% gegroei sedert dit in 2016 bekendgestel is en volgens alle voorspellings gaan dit in die toekoms nog toeneem.

Wat is Facebook Stories?

Facebook Stories is in werklikheid nóg ’n blad waarop jy nuus oor jou besigheid kan deel – die grootste verskil is egter dat Facebook Stories van visuele inhoud eerder as geskrewe inligting gebruik maak. Op dié blad is daar ook nuwe filters en effekte beskikbaar wat jou foto’s se voorkoms kan verander. Omdat die kamera van jou slimfoon die meganisme is waardeur die inhoud geskep word, maak dié vorm van sosiale media meer staat op jou selfoon as op enige ander hardeware.

Op Facebook Stories kan foto’s en video’s drasties verander word vir ’n plasing. Jy kan maskers, raampies en interaktiewe filters op jou foto of video plaas. Facebook het byvoorbeeld met handelsmerke soos Despicable Me 3 en Guardians of the Galaxy Vol. 2 ’n vennootskap aangegaan om unieke maskers vir dié media te skep.

Hoekom is Facebook Stories belangrik vir bemarking?

 Facebook Stories verskyn heel bo-aan die Facebook-toepassing, so dit is die eerste ding wat verbruikers sien as hul Facebook besoek.

  • Daar is ’n merkbare skuif van ander sosialemediaplatforms soos Instagram en Snapchat na Facebook Stories en die geleentheid is dus daar dat jou besigheid voor die kurwe van die nuwe bemarkingsmetode kan wees.
  • Facebook Stories help jou besigheid om ’n verhouding met jou mark te bou. Deur kreatiewe asook inhoud waarmee kliënte kan assosieer te skep, voel hul dat hul jou besigheid kan vertrou.

Daarbenewens is dit belangrik om al die moontlike bemarkingskanale wat Facebook bied, te gebruik. Navorsing toon dat sowat 1 miljard mense Facebook daagliks besoek – en elke gebruiker besoek die toep gemiddeld agt maal per dag. Tans besoek sowat 150 miljoen verbruikers Facebook Stories daagliks en aangesien die plasings na 24 uur verdwyn, ervaar verbruikers ’n dringendheid om so vinnig moontlik jou besigheid se inhoud te besigtig.

Hoe lank bestaan ’n Facebook Story-plasing?

 Sodra die foto geplaas word, is dit slegs vir 24 uur sigbaar en verdwyn die plasing daarna. Dus werk Facebook Stories baie soos Snapchat Stories. Die Storie sal nie op jou Facebook-blad se tydlyn of nuusblad verskyn tensy jy dit self daar gaan plaas nie.

Hoe plaas ek my foto’s of Facebook Stories?

 Daar is verskillende maniere om foto’s op Facebook Stories op jou selfoon te plaas. Klik op die “Your Story”-ikoon onder Facebook Stories en klik dan op die kamera-ikoon in die boonste linkerhoek van jou skerm. Klik dan op die knoppie in die middel van die skerm om ’n foto te neem of hou die knoppie in om ’n video op te neem. Indien jy reeds ’n foto of video het wat jy eerder wil gebruik, kan jy dit bloot van jou foto’s oplaai.

Op jou rekenaar kan jy ’n plasing skep soortgelyk aan hoe jy gewoonlik ’n plasing sal maak, maar jy kan dan verder gaan deur woorde, ’n agtergrond, GIFs, of ander elemente by te voeg. Jy sal onder die plasing die opsies sien om dit hetsy as ’n nuusplasing, of as ’n “Story”-plasing op te laai.

Om ’n Facebook Story vanaf jou blad te plaas, moet jy:

  • Facebook se mobiele toepassing oopmaak en na die tydlyn van enige blad gaan waarvan jy ’n administrateur is;
  • Op die “Create Story”-knoppie klik;
  • ’n Kreatiewe plasing skep waarvan jou volgelinge sal hou.

Net soos vir individuele gebruikers sal die Stories van Facebook-bladsye ook net vir 24 uur sigbaar wees.