Wees meer effektief – beste advies van kenners 

Ons bestuur ons finansies, ons emosies en ons huwelike en ons bestuur ander mense – is dit nie ook tyd om jou persoonlike lewe te bestuur nie? Om meer effektief te wees, beteken nie om meer gedoen te kry nie, maar eerder om meer gefokus te wees. Jou doel met jou besigheid is nie om besiger te wees nie, maar om meer resultate te kry. Daarom is dit wys om die beginsels te volg wat soveel suksesvolle entrepreneurs al voorgestel het. Om suksesvol te wees, moet ons doen wat suksesvolle mense doen. Hier is 11 maniere waarop jy jou tyd beter kan benut en meer effektief kan wees:

  1. Hou ’n tydjoernaal: Vir minstens twee weke, hou rekord van hoeveel tyd jy aan wat bestee. Jy sal verbaas wees hoeveel tyd jy aan televisie, sosiale media of rondry bestee. Eers as jy weet waarheen jou tyd gaan, kan jy agterkom waar jou prioriteite werklik is.
  2. Skryf 10 dinge neer: Dink aan 10 dinge waarvoor jy dankbaar is voor jy jou dag begin. Navorsing wys dat hierdie oefening jou brein so instel dat jy die res van die dag alles anders deur ’n meer positiewe lens ervaar. Want ons almal weet dat jy meer gedoen kry as jy in ’n goeie bui is!
  3. Eerste taak eerste (ETE): Besluit op een taak vir die dag wat, as dit afgehandel is, die dag ’n sukses sal maak. Doen dit wat die belangrikste (en nie dringendste nie) is op jou ‘Te Doen’-lysie heel eerste. In die oggend konsentreer jy makliker en is dit noodsaaklik om belangrike take aan te pak eerder as om net jou e-posse te beantwoord.
  4. Skep in die oggend, bestuur in die middag: Ons het minder fokus, wilskrag en kreatiwiteit in die middag. Rig jou kalender so in dat jy na middagete al jou vergaderings hou, jou e-posse beantwoord en rondry.
  5. Laat die uur voor bedtyd tel: Goeie slaap beteken meer energie om effektief te wees. Vermy elektroniese toestelle, sosiale media, televisieprogramme en kaffeïen die uur voor jy gaan slaap – dit alles verhinder dat jy in die diep slaap ingaan wat jy nodig het om werklik te rus.
  6. Drie dinge en hulle oorsake: Hou ’n daaglikse joernaal van drie goeie dinge wat in jou lewe gebeur en hulle oorsake. Wanneer ons positiewe herinneringe herroep en daarop fokus, word dopamien afgeskei, en meer dopamien beteken dat jy meer gerat is om struikelblokke te hanteer.
  7. Skryf dankbaarheidsbriewe: Navorsing toon dat om ’n handgeskrewe dankiesêbrief of e-pos vir ’n kollega, huweliksmaat, vriend of vreemdeling te skryf, jou gelukkiger maak. Doen dit gereeld, nie net om erkenning te gee aan die mense om jou nie, maar ook om jou fokus van jouself af te kry.
  8. Beperk sosiale media: As jy nie jou selfoon kan uitlos nie, besluit op ’n tydgleuf van 30 minute om al jou sosialemediablaaie te bekyk en by te werk. Dit is veel beter as om gedurig jou gedagtes en werk te onderbreek deur sosialemediablaaie deur te blaai en te wag vir kommentare.
  9. Skep outomatiese e-posboodskappe: As jy gedurig vasgevang raak in die beantwoording van dringende e-posse en dit nie kan delegeer nie, stel ’n outomatiese e-posboodskap op wat sê jy kyk na jou e-posse net tussen 12:00 en 14:00 en tussen 16:00 en 17:00. Dit help dat jy jou take kan groepeer en fokus op enige take waarmee jy besig is.
  10. Beplan vir 15 min: Bestee 15 minute aan die begin van die dag om jou prioriteite te beplan, ’n uur per week om volgende week se take te beplan en ’n halwe dag dié maand om vir volgende maand te beplan. Hoe besiger jy raak, hoe meer tyd moet jy bestee om jou take te prioritiseer.
  11. Mediteer vir 3 min: Meditasie beteken om jou gedagtes te orden of bloot om jou gedagtes skoon te kry sodat jy werklik kan begin fokus op wat belangrik is. Kry ’n stil plek in jou huis voor jy werk toe gaan en begin deur Bybelstudie te doen of skryf in jou joernaal om jou gedagtes uit jou kop te kry. Dit is moeilik aan die begin, maar met oefening behoort jy tussen 3 en 5 minute jou gedagtes tot stilstand te kan bring en net op jou asemhaling fokus.

Ons lewens raak besiger, maar besig wees is nie gelykstaande aan sukses nie. Probeer soveel moontlik take delegeer, uitkontrakteer of verwyder sodat jy juis minder hoef te doen vir dieselfde of beter resultate. Sukses is dan om die draai!