|

AfriForum Mediaverklaring: Skryf nou in vir die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie

1 Junie 2022

Entrepreneurs wat wil wys wie’s baas kan nou inskryf vir AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie.

AfriForum Sakenetwerk bied sedert 2017 die Entrepreneur van die Jaar-kompetisie aan, met uitsondering van 2020, as gevolg van die Covid-19-pandemie. In 2022 bou ons voort op die verlede en bou sterker aan die toekoms vir dié kompetisie. Hierdie jaar, soos al die vorige jare, word dit aangebied in samewerking met Akademia.

Sedert 2017 het meer as 300 entrepreneurs vir dié kompetisie ingeskryf en het meer as 12 000 lede van die publiek vir hul gunstelinge gestem. Louis Loubser het in 2017 met sy Tree Hog gewen, in 2018 het die dames van Oh-Lief met die louere weggestap, in 2019 het Marita Bezuidenhout van Magies vol Liefde koning gekraai en in 2021 het Elzabeth van der Bijl (Fynbos SA) in die kategorie vir entrepreneurs wat minder as sewe jaar handeldryf, gewen en Alita du Plessis (Purple Carrot) het in die kategorie vir entrepreneurs wat langer as sewe jaar handeldryf, weggestap met die titel “Entrepreneur van die Jaar”.

Die vereistes vir vanjaar se kompetisie is ’n bietjie uitgebrei en die kriteria waaraan die wenner nou moet voldoen, is as volg:

  • Die entrepreneur se ervaring stem ooreen met die tyd in die bedryf/betrokkenheid by ’n onderneming.
  • Die entrepreneur het werkswinkels/webinare bygewoon. Klik hier om kaartjies te koop vir vanjaar se werkswinkels wat aangebied word deur Akademia.

Die volgende word volgens ’n skaal beoordeel:

  1. Wat is die entrepreneur se rol in die onderneming?
  2. Dit is duidelik watter verskil die entrepreneur se betrokkenheid by die onderneming gemaak het.
  3. Die entrepreneur het die nodige ervaring en ondervinding om die onderneming te laat werk.
  4. Dit is duidelik dat die produk/diens ook in Afrikaans aangebied word.
  5. Die produk/diens maak ’n daadwerklike bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap.
  6. Is die produk/diens mededingend?
  7. Die entrepreneur beskik oor ’n unieke produk/diens.
  8. Die entrepreneur beskik oor ’n duidelike mededingende voordeel.
  9. Daar is maklike toegang tot die produk/diens.
  10. Die produk/diens is maklik toegangklik vir die teikenmark.
  11. Die produk/diens kan geredelik gelewer word sonder ’n lang wagtydperk.
  12. Is die produk/diens volhoubaar?
  13. Die produk/diens spreek ’n werklike behoefte in die mark aan.
  14. Die entrepreneur het werkbare voorstelle om die onderneming volhoubaar te bestuur.
  15. Is daar potensiaal vir uitbreiding?
  16. Die entrepreneur het duidelike, werkbare idees vir uitbreiding.
  17. Die entrepreneur se doelwitte vir uitbreiding is duidelik, realisties en haalbaar.
  18. Finansiële beplanning:
  • Die entrepreneur verstaan die onderneming se kostes, inkomste en finansiële posisie.
  • Die entrepreneur se syfers is realisties.

19. Gebruik van tegnologie:

  • Tegnologie word doeltreffend gebruik in die bestuur en uitbreiding van die onderneming.
  • Sosiale media word doeltreffend gebruik vir die bemarking van die onderneming.

20. Goeie bemarking:

  • Die entrepreneur het ’n duidelike bemarkingsplan gerig op die teikenmark.
  • Die entrepreneur se bemarkingsaanslag is geskik vir die produk/diens.

21. Die produk/diens maak ’n verskil in die plaaslike ekonomie, is plaaslik vervaardig en/of verskaf werk aan plaaslike werknemers/arbeiders.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk, is baie opgewonde oor die vyfde jaar wat hierdie kompetisie aan die gang is. “Daar is groot pryse op die spel, maar wat hierdie kompetisie veral uniek maak, is die platform wat dit vir die wenner bied.”

“Ons wil entrepreneurs aanmoedig en beloon. Ons sien hulle harde werk raak en dit is presies wat dit vat om in Suid-Afrika suksesvol te wees. Ons hoop dat die pryse die wenner en selfs die toptien ’n hupstoot sal gee met dit waarmee hulle besig is,” sê sy verder.

Paul Vogel, operasionele bestuurder by Akademia, vertel dat dié instansie ’n trotse vennoot is van hierdie Afrikaanse entrepreneurskompetisie wat elke jaar nóg groter en beter raak. “Hierdie kompetisie skep die ideale geleentheid vir entrepreneurs wat ’n publisiteithupstoot nodig het en uitstekende advies van kundiges op die gebied wil ontvang,” sê hy.

Inskrywings open 1 Junie 2022 en sluit 27 Julie 2022. ’n Uitgesoekte paneel beoordeel die toptien en gee terugvoer tydens sessies. Die wenner word einde September aangekondig. Die kompetisie word tydens middagetes in vier verskillende streke bekendgestel.

Klik hiér om in te skryf.

Sanderien van der Walt

Bestuurder: AfriForum Sakenetwerk

AfriForum

Sel: 067 413 0716

E-pos: sanderien.vanderwalt@afriforum.co.za