|

Entrepreneursfokus: Bertha Lewis

Ek is Bertha, eienaar van die maatskappy Ethnic Works, wat Lingi ontwerp het en tans versprei. Lingi is ’n unieke sagte speelding wat 4 000 woorde in Afrikaans kan sing en praat en ’n nisproduk vir die Afrikaanse mark is. Van ’n klein sakeonderneming in 2019 het die onderneming gegroei tot ’n maatskappy wat tans Lingi-bere in- en uitvoer. Ek glo my kwalifikasies en werksondervinding het ’n sleutelrol in die ontwikkeling van Lingi gespeel en my passie vir produkontwerp, stories, kinderopvoeding en moedertaalonderrig is die goue draad wat deur die onderneming loop.

Om ’n entrepreneur te wees, moet jy ’n behoefte in die mark raaksien en hard werk om dit aan te spreek! Ek het die behoefte in die mark raakgesien dat ouers gehalte- opvoedkundige speelgoed in Afrikaans wil hê en vir twee jaar het ek saam met ’n groot span gewerk om Lingi die lig te laat sien. Lingi is tans in Afrikaans en Engels beskikbaar.

Ouers het nie vandag meer soveel tyd in die aande om vir die kleuters stories te lees nie en kinders kyk ook vandag heelwat meer TV. Ek het gedink as ek net ’n beer kan ontwerp wat stories kan vertel, die skatkis van Afrikaanse kinderliedjies kan sing en rympies kan opsê, sal dit wonderlik wees om op dié manier ouditiewe vaardighede te ontwikkel. Lingi vul daardie gaping: hy kan praat, groei saam met die kind in ouderdomsvlakke en die mooiste stories vertel!

Lingi kan slegs aanlyn aangekoop word.

“Ons is trots Afrikaans en selfs ons webblad en ons kommunikasie met kliënte is in Afrikaans. Ons produk is uniek geskep vir die Afrikaanse nismark.”

Die doel van Bertha se onderneming is om speelgoed te vervaardig wat kinders op ’n interaktiewe, speel-speel manier laat luister en praat! Met Lingi wil sy ook vir die ouer of versorger op ’n prettige manier wys wat die mylpale vir spraak-, taal- en luistervaardighede vir kinders van 1 tot 6+ jaar is! Bertha se visie is dus om speelgoed te vervaardig wat kindervriendelik, nie giftig, nie skadelik, asook tegnologies gevorderd en ouderdomsgerig is, sodat kinders op ’n speel-speel manier weer na rympies, liedjies en stories kan luister. Die speelgoed moet kleurvol en interaktief wees en die kind aanmoedig om sy sintuie te gebruik om te leer.

Bertha handhaaf dissipline in die entrepreneurswêreld so: Op my dagboek het ek die volgende woorde uitgedruk en gelamineer:  “You will never always be motivated, so you must learn to be disciplined”. Harde, maar waar woorde. Dissipline kom in die vorm van organisering van take, uitdeel van take, stel van doelwitte, effektiewe en tydige kommunikasie met kliënte en personeel en selfdissipline. Ek geniet gelukkig wat ek doen baie, so werk is nie ’n straf nie en die dissipline kom dan makliker!

Bertha se raad aan toekomstige entrepreneurs is om nooit bang te wees om hulp te vra nie. As jy hulp vra, is die kans 50% dat iemand dalk sal help; as jy nie vra nie, is die kans nul. In Lingi se geval het ek male sonder tal vreemde mense gekontak en gevra om my te help. Jy het ’n sterk span nodig en ek dink ons as entrepreneurs wil dikwels te veel op ons eie stoom doen. Trek laer saam met jou span, vra hulp en netwerk – dit is nodig!

Ons kry ongelooflike terugvoer vanaf ouers oor Lingi. Ek sal graag nog soortgelyke produkte wil ontwikkel asook die moontlikheid ondersoek vir ander tale vir Lingi. Besoek gerus ons webblad by www.lingi.co.za asook ons Facebook- en Instagram-blad by Lingi – in Afrikaans.