|

Entrepreneursfokus: René Kleynhans

Ek is ’n vrou van ’n wonderlike man, Wouter Kleynhans en bevoorregte mamma van Retief (vyf) en Klara (twee). Ek is hardwerkend en het ’n verskriklike passie nie net vir die troubedryf nie, maar veral vir die tipe troues wat ons aanbied en die manier waarop dit gedoen word. 

Na 14 jaar se ondervinding in die troubedryf kan ek nou uiteindelik troues op my eie manier doen en ons eie stempel daarop afdruk.

Ek en my man het ons werk tydens COVID verloor en ek was op daardie stadium drie maande swanger met Klara. Ons moes ’n uitweg vind om die pot aan die kook te hou en vir ons gesin te sorg. Dit was maar die hoofrede hoekom Intiem Weddings ontstaan het. Troues is wat ek nog altyd gedoen het. Ek kan dit nou vir myself doen en dit om my gesinstyd beplan.

Voor COVID was die norm dat venues slegs groot troues kon akkommodeer – minimum 50 of selfs 80 gaste. Daar was nie regtig venues wat minder as 50 gaste kon akkommodeer nie. Tydens COVID was die maksimum van enige samekoms 50 gaste. Ons het van baie paartjies gehoor wat net wil trou, al is dit net hulle twee en getuies, en ons het ’n gaping in die mark gesien. Per geluk woon ons naby die mooiste, oeroue vyebome waaronder ons die troues hou. Ons huur die stuk grond en het dan ook toegang tot ’n gedeelte van die Magaliesberg waar die ongelooflikste sonsondergangfoto’s geneem kan word. Ons doen ook seremonies bo-op die Magaliesberg waar mens vir dae na die uitsig kan staar.

Later nadat alle regulasie opgehef is, het die deure verder oopgemaak vir intieme troues. Paartjies het besef dat dit wel moontlik is en dat daar venues, soos ons s’n is, wat hulle kan akkommodeer. Dié troues is beslis meer persoonlik en mens se verhouding met die paartjies is van so ’n aard dat jy vriende bly ná die troue lankal verby is.

Ons teikenmark is paartjies wat regtig na iets anders op soek is, wat nie die tradisionele groot troue wil hê nie. Wat eintlik net ’n handjie vol mense wil nooi om die dag saam met hulle deur te bring. Wat gemaklik is en van die natuur en buitelug hou.

Ons is hier om die paartjies te help wat graag so ’n klein troue wil hou, maar nie die begroting het om ’n groot venue te huur vir ’n klein troue nie. Ons spesialiseer in klein troues en akkommodeer dié tipe troues oor naweke, waar ander venues dit slegs deur die week toelaat.

Dit is baie moeilik om vir jouself te werk as jy nie gedissiplineerd is nie. Ek dink die belangrikste is om ’n roetine te hê. Jy moet elke dag vir beplan en weet wat daardie dag gedoen moet word. Uithouvermoë om aan te hou al val mens vir die 100ste keer … mens moet net weer opstaan en aanhou probeer.

Enige vrye tyd wat ek het, spandeer ek saam met my gesin. Ons is baie lief vir die natuur en gaan stap baie in die Magaliesberg. Ons hou ook van projekte om die huis en om self mooi te maak en te bou.

My dag begin met koffie saam met my gesin. Daarna sal ons die kinders skool toe vat, en dan handel ek enige dringende administrasie af. Een van die belangrikste dele van my dag is om aktief te wees. So ek staan 30 minute tot ’n uur af aan draf en bietjie gewigte optel. Daarna is dit weer werk, werk, werk tot ons die kinders by die skool gaan haal. Ek maak ook self die kos vir die troues, so daar is altyd hier en daar iets wat in die kombuis gedoen moet word. In die middae is dit maar moeilik om aandag te gee aan werk as die kinders tuis is. Ná hulle aandete, is dit bad en slaap en dan bietjie ontspan nadat die laaste e-posse gestuur is.

Tot op hede het Intiem al 74 troues aangebied. Ons eerste troue was in Augustus 2020. Ons is baie gelukkig met ons vordering tot nou toe. Ons streef daarna om nog meer paartjies te akkommodeer en hulle spesiale dag te bewaarheid op die Intiem Weddings-manier.

Ons het ’n webwerf waar julle ons kan vind (www.intiemweddings.com). Ons het ook ’n Instagram-blad met baie foto’s van troues wat al hier gehou is. Ons hanteer alle reëlings per e-pos: info@intiemweddings.com, maar is beskikbaar om te gesels op WhatsApp: 072 377 4425.