Professionele ontwikkeling: Wat is dit en waarom is dit belangrik?

Almal wat al gestudeer het, sal vir jou sê dat hulle ’n effense bomskok ervaar het toe hulle die eerste keer by die werksplek ingestap het. Dinge werk so bietjie anders in praktyk as in teorie. Eintlik word jy in die diep kant ingegooi en moet jy leer swem.

Die werksplek is ook ’n dinamiese omgewing; prosesse, wette, tegnologie en wêreldgebeure (soos pandemies) kan alles ’n groot invloed op jou werksomgewing en die aard van jou werk hê. Dit is uiters belangrik om aan die voorpunt te bly en aan te hou om innoverende en moderne gehalteprodukte en ‑dienste aan jou kliënte te lewer. Hiervoor moet jy jouself voortdurend ontwikkel en oplei om jou werk beter te doen.

Wat is professionele ontwikkeling?

Professionele ontwikkeling verwys na die proses waarvolgens werknemers hulself ontwikkel deur nuwe dinge te leer. Dit het die gevolg dat hulle hul werk met meer kennis of ’n verbeterde metode kan aanpak. Dit sluit die volgende in:

  • kursusse (fisies of aanlyn)
  • mentorskapprogramme
  • video’s en artikels gemaak deur kredietwaardige kundiges
  • uitstappies na ander ondernemings in dieselfde bedryf

Dis belangrik om te besef dat daar ’n verskil is tussen opleiding en professionele ontwikkeling. Opleiding fokus dikwels op gapings wat die maatskappy en onderneming self wil vul. Opleiding is dus gewoonlik baie bedryfspesifiek en word deur topstrukture afgedwing. Professionele ontwikkeling bemagtig eerder mense deur hulle fyn vaardighede aan te leer wat hulle in die toekoms en in enige werkplek handig sal kan gebruik. Professionele ontwikkeling is ook gewoonlik die persoon se eie verantwoordelikheid en dit word aanbeveel en gemotiveer eerder as wat dit verplig word.

Waarom is professionele ontwikkeling belangrik?

Daar is eindelose voordele vir ’n maatskappy wat professionele ontwikkeling aanmoedig. Op die ou einde verbeter jy jou eie onderneming se produktiwiteit en die gehalte van werknemers in jou omgewing. Professionele en persoonlike ontwikkeling verseker dat jou werknemers nie ’n agterstand in die werksplek ontwikkel nie. Gewoonlik stimuleer professionele ontwikkeling ook skeppende gedagtes, innoverende verandering en werknemers wat passievol en gemotiveerd werk toe kom.

Daar is ook bewys dat werknemers wat hulself ontwikkel en toekennings en sertifikate inpalm dikwels ander mense in die werkplek ook aanspoor om dieselfde te doen. Dit skep ruimte vir gesonde mededinging en ’n atmosfeer vir uitnemendheid.

Profesionele ontwikkeling is belangrik, want:

  • jou werknemers sal hulself voortdurend ontwikkel en gesonde ervaring opdoen, wat ook goed lyk op hul CVs;
  • hulle bly aan die voorpunt van die nuutste neigings en ontwikkelings;
  • dit demonstreer die vermoë om jouself deurlopend te verbeter en te bevorder;
  • dit hou jou kwalifikasies vars en brei dit uit.
  • dit sorg dat jou vaardighede van die dieselfde of beter gehalte is as jou eweknieë in die industrie; en
  • dit bemagtig jou om ’n professionele, kundige en gehaltediens aan jou kliënte en sakegemeenskap te lewer.

Waar begin ek?

Eintlik is dit nie so belangrik waar jy begin nie – wel dat jy begin! Begin deur jou eie tekortkominge te lys en te bepaal watter gapings jy deur professionele ontwikkeling kan vul. Indien jy byvoorbeeld sukkel om al jou take in ’n dag af te handel, soek ’n paar YouTube-video’s oor produktiwiteit en tydsbestuur.

AfriForum Sakenetwerk maak dit hierdie maand vir entrepeneurs makliker om professionele ontwikkeling te bevorder sonder dat jy self hoef te skarrel en te soek.

Opleiding vir entrepreneurs vanaf 13 tot 23 Junie 2022

  • 13 Junie: Algemene beginsels van kontraktereg, ondernemingsvorme en aanspreeklikheid
  • 14 Junie: Basiese gebruik van Microsoft Office, opstel van webtuistes en e-posse vir jou onderneming, gratis en/of goedkoop sagteware vir gebruik in kleinsakeondernemings, asook entrepreneursvaardighede en werksmag van die toekoms
  • 15 Junie: Basiese beginsels van produk, plek, prys en promosie vir teikenmark
  • 21 Junie: Aanstel of afdank?
  • 23 Junie: Belasting, registrasies, toepaslike rekenaarprogramme, finansiële state, kontantvloeibestuur, bedryfskapitaal, begrotings en waardetoevoeging tot jou produk of diens.

Plek: Akademia se Centurion-studiesentrum, Gerhardstraat 117, Die Hoewes, Centurion, of aanlyn via Teams.

Kliek hier vir meer inligting.

Kontak ons by netwerk@afriforum.co.za.

𝑲𝒐𝒐𝒑 𝒏𝒐𝒖 𝒋𝒐𝒖 𝒌𝒂𝒂𝒓𝒕𝒋𝒊𝒆𝒔: https://winkel.akademia.ac.za/…/opleiding-vir…