Entrepreneurskap: Hou só kop bo water

Wanneer ’n baba gebore word is dit ’n traumatiese ervaring, die nuutgebore baba verlaat sy veilige huis net om te ervaar hoe ‘n doktor hom pakslae te gee terwyl hy snak na sy asem. Die baba skree en huil soos hy deur die proses van geboorte moet gaan, kry dalk yskoud en sukkel om by die helder lig aan te pas. Terwyl die baba dié verskriklike ervaring het, is hy omring met mense wat daarop uit is om hom of haar te beskerm en te versorg. Almal wat in die kamer is tydens die geboorte weet dat die proses nodig is, selfs al weet die babatjie dit nie. So is die lewe ook, dikwels tref ons opdraende na opdraende en in ons binneste wil ons skree en huil soos ’n pasgeboorte baba.

Die goeie nuus is dat ons onmiddelike ervaring nie ’n goeie opsomming is van die wedloop waarmee ons besig is nie. As ons effens terugstaan en soos ’n bystander of ’n doktor na ons eie situasie kyk, is dit bloot ’n proses wat deel is van die wedloop. Vir die babatjie is dit al waarop hy kan fokus, hy sien dalk selfs nie eers die hande raak wat hom dra en toedraai nie, maar dit beteken nie dat daar nie vir hom hoop is nie.

Vul jouself met die goeie

In besigheid is struikelblokke, teleurstellings en moedeloosheid iets wat elke nou en dan sy verskyning gaan maak. Dit is nie nodig om dit te vermy nie, of in sak en as te sit as dit gebeur nie. Dit mag dalk lyk asof ander entrepreneurs dinge net soveel makliker regkry, maar elke besigheid het ’n tyd wat hulle moet transformeer. Die vraag is sekerlik dan hoe hanteer jy die golwe wat jou wins en jou gemoed met mening platslaan? Die antwoord – hoe voller jy jouself met goeie goed maak, hoe minder tyd het jy nodig om probleme op te los.

Sukses is die gewoontes wat jy daagliks kweek, want sonder dit gaan die een of twee groot deurbrake nooit moontlik wees nie. Dit beteken dat wanneer dit swaar gaan, jy steeds TED videos moet kyk, boeke lees oor hoe jy jou besigheid moet groei, bemarking kursusse op Coursera doen en netwerkgeleenthede bywoon sodat jou besigheid daarby kan baat. Hoe meer jy besig bly met dit wat belangrik is en nie dringend is nie, hoe makliker gaan dit wees om nie op jou probleem te fokus nie. Natuurlik moet mens aandag gee as dit iets binne jou beheer is, maar dikwels bekommer ons oor uitkomste wat nooit eens plaasvind nie.

Hier is enkele idees vir goeie gewoontes wat jy in jou lewe kan vestig ongeag hoe goed of sleg dit met jou besigheid gaan:

  • Skryf elke dag drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
  • Bou tyd in jou weeklikse skedule in om langtermyn beplanning te doen.
  • Ontmoet gereeld met ’n mentor.
  • Ontmoet gereeld met ander entrepreneurs wat dieselfde of al meer as jy bereik het.
  • Vertel vir mense wat jou droom is vir jou besigheid.
  • Skryf neer wat jy in die volgende drie en ses maande wil bereik.

Moenie na die tyd kyk nie, bou die klok

Jim Collins meen dat suksesvolle besighede dié is wat nie wag vir die regte tyd nie, maar eerder ’n struktuur bou wat in alle tye resultate kan oplewer. Hy waarsku byvoorbeeld teen maatskappye wat besighede op suksesvolle produkte bou eerder as om ’n besigheid te bou wat deurentyd suksesvolle produkte kan oplewer. Die klem verskuiwing is dat jy nie jou sukses moet meet in enige spesifieke tydstip nie, maar eerder of jy besig is om ’n klok te bou. As jy struikelblokke in jou pad sien, vra jouself of jy besig is om aan langtermyn oplossings te werk.

Neem verantwoordelikheid

Jocko Willink in die boek Extreme Ownership maak die gevolgtrekking dat jy net jou span en jou besigheid kan vorentoe beweeg as jy werklik eienaarskap neem vir wat om jou aan die gebeur is. Daar is nie iets soos ’n slegte span nie, net slegte leiers. Simpliseer jou plan en jou boodskap, vergeet van jou eie ego, maak seker jy het die vertroue van die mense om jou, prioritiseer jou take en begin weer. Dít is hoe jy uit ’n groef uit kom.

Vernuwe jou fokus met daaglikse gewoontes, werk aan langtermyn oplossings en wees eerlik oor jou foute. Struikelblokke is deel van die lewe, jy kan nie kies of dit gebeur nie maar jy kan kies hoe jy daarop reageer!