15 idees vir sosialemediaplasings

As jy sosiale media wil gebruik om jou sakeonderneming te bemark, moet jy kyk na watter tipe plasings jou boodskap die beste aan jou kliënte gaan kommunikeer. Hier is 15 idees vir sosialemediaplasings wat jy kan gebruik as inspirasie vir jou kleinsakeonderneming.

1) Kondig ’n nuwe produk aan

’n Plasing oor jou nuwe produkte kan groot aftrek kry wanneer jy dit op sosiale media plaas. Nuwe produkte help om jou aan bestaande kliënte te herverkoop en volgelinge in kopende kliënte te verander. Wees kreatief wanneer jy ’n nuwe produk loods. Gee byvoorbeeld spesiale aanbiedinge wat net vir ’n beperkte tyd geldig is, of gebruik invloedryke volgelinge om jou produk ook te bemark.

2) Unieke produkgebruike

Maak plasings wat wys hoe kliënte jou produk op unieke wyse kan gebruik. Grimeringvervaardigers kan video’s plaas wat die unieke gebruike van hul produkte uitwys en die veelsydigheid van die produk adverteer. Soms weet volgelinge nie hoe om ’n produk te gebruik nie en dié soort plasing wys vir hul ’n alternatief.

3) Vra ’n vraag

Deur bloot ’n vraag aan jou volgelinge op sosiale media te vra, kan jy jou blad se interaksie verhoog en jou plasing meer sigbaarheid gee. Maak seker die vrae wat jy vra, is toepaslik vir jou onderneming. Indien jy bande vir 4×4-voertuie verkoop, is dit byvoorbeeld ’n goeie idee om iets te vra soos: “Wat is jou gunsteling-4×4-roete in Suid-Afrika?” Die doel is om jou volgelinge uit te lok om op die vraag te reageer.

4) Plaas jou kliënte se foto’s

Dit verseker altyd goeie blootstelling as jou kliënte foto’s van jou produk op hul onderskeie sosialemediaprofiele deel. Deel jou kliënte se plasings ook op jou eie sosialemediaplatform/s – dit sal jou kliënt gewaardeer laat voel en ander volgelinge se vertroue in jou produk verhoog.

5) Uitverkopings en promosies

Jou onderneming se sosialemediaprofiele is ideale plekke om inligting oor uitverkopings of spesiale aanbiedinge deur te gee. Dit is selfs ’n goeie idee om spesiale aanbiedinge vir ’n beperkte tyd net vir jou sosialemediavolgelinge aan te bied.

6) Video’s

Bemarkingsvideo’s is baie gewild op platforms soos Facebook. Dit is egter belangrik dat jou video’s nie te lank is nie en die kyker se aandag kan hou. Na verwagting sal sowat 82% van alle internetverkeer in die toekoms uit video’s bestaan; 90% van kliënte sê video’s help hulle om te besluit om ’n produk te koop. Omdat dié medium op sosiale media toeneem, is dit belangrik om dit in jou bemarkingstrategie in te sluit.

7) Deel ander inligting

Sosiale media is ’n wonderlike platform om ander inligting te deel. Indien jy ’n interessante artikel lees of video sien wat vir jou mark geskik is, is dit ’n goeie idee om dit met jou volgelinge te deel.

8) Invloedryke oornames

Indien ’n invloedryke persoon jou onderneming se sosialemediaplasings volg, kan jy dié persoon vra om jou sosialemediaplatform vir ’n dag lank oor te neem. Kondig voor die tyd aan dat die persoon jou sosiale media gaan hanteer en interessante plasings gaan maak wat buite die norm is. Dit gee meer mense rede om op dié dag jou sosialemediaplatforms te besoek.

9) Eienaardige vakansiedae

Vreemd genoeg geniet mense dit om oor eienaardige vakansiedae te lees. Op groot vakansiedae soos Kersfees of Nuwejaar ding jou plasing mee met duisende ander sosialemediaplasings. Dae soos Internasionale Roomys-vir-ontbyt-dag is byvoorbeeld só raar dat jou plasing die enigste een is wat gaan verskyn.

10) Kompetisies

Moedig kliëntbesoeke op jou sosialemediaplatforms aan deur oulike pryse weg te gee. Daar is allerlei kompetisies wat baie goed op verskeie platforms werk. Indien jy ’n produk verkoop, vra kliënte om hul gunstelinge te kies. Kies dan ’n wenner uit almal wat reageer. Indien jy ’n diens lewer, kan jy byvoorbeeld vra dat kliënte hul vriende in jou kompetisie “tag” en vir een gelukkige wenner dié diens gratis lewer.

11) Aanlyn klasse

Video’s met wenke en bruikbare inligting is ideale plasings om waarde vir jou volgelinge toe te voeg. Wys mense hoe jou produk werk of gee stap-vir-stap-raad.

12) Opnames

Opnames is ’n goeie manier om inligting van jou volgelinge in te win; dit verhoog ook terselfdertyd interaksie op jou sosialemediaprofiel. As jy terugvoer van jou kliënte kry, is dit makliker om te bepaal wat en hoe jy aan hulle moet bemark, en in watter behoeftes jou onderneming nog nie voldoen nie. Instagram het byvoorbeeld ’n opname-opsie by hul “Stories” gevoeg wat opnames visueel en interaktief maak.

13) Agter-die-skerms-plasings

Mense geniet dit om agter die skerms in te loer. Dit skep ’n meer persoonlike verhouding met jou volgelinge omdat hulle voel asof hulle jou besigheid en jou span leer ken. Neem daarom gerus ’n paar kiekies van jou werknemers, jou kantoor of jul kantoor en deel dit met jou volgelinge.

14) Aanhalings

Sommige mense het nog nie die waarde van ’n aanhaling begryp nie, maar sulke plasings kan baie doeltreffend wees om meer mense te oortuig om jou plasing te deel. Aanhalings kan snaaks of inspirerend wees; as dit ontwerp is en trefkrag het, sal jou volgelinge dit veral wil deel. Dit is belangrik om die regte grafika vir die agtergrond van jou aanhaling te kies en mooi lettertipes vir die teks te gebruik.

15) Stories

Op platforms soos Instagram, Snapchat en Facebook kan jy die “Stories”-funksie gebruik om foto’s en video’s saam te voeg om ’n storie te vertel. Dié plasings verdwyn na 24 uur en is perfek om tydspesifieke inligting met jou volgelinge te deel.