Agt tekens dat jou besigheid ondergaan – en hulpbronne om dit reg te ruk

Om te weet wanneer om die handdoek in te gooi, kan jou baie geld en hartseer spaar. Ravi Govender, hoof van die klein besigheid afdeling by Standard Bank, sê 50% van besighede gaan binne die eerste 24 maande onder. Die hoofredes wat hy aanhaal vir dié syfer is swak beplanning, te min finansiële kennis, die afwesigheid van ’n voorraadbeheerstelsel en die gebrek aan ’n skeiding tussen persoonlike- en besigheidsrekeninge.

Hoë werknemer-omsetkoers

As jou werknemers nie lank bly nie en jy meer tyd en geld aan onderhoude spandeer as op jou bestaande werknemers, dan is daar fout. Dit kan moeilik wees as jou besigheid nog in die wegspringblokke is en jy nie die hulpbronne het nie, maar vergoeding beteken nie altyd geld nie, dit kan ook erkenning, opleiding, vertroue tussen werknemers en ’n goeie sin vir hoekom almal moet doen wat hulle moet doen wees. As jy nie in die versekeringsbedryf of deur-tot-deur verkope bedryf is nie, behoort jou werknemers jare lank te hou.

Ses maande sonder innovasie

Het jy die afgelope ses maande ’n produk verbeter, ‘n dienspakket uitgebrei, jou voorraadstelsel opgegradeer of ’n finansiële proses hersien? Indien nie, is dit nie net ’n teken dat jy agter jou kompeteerders is nie, maar ook dat jy jou lus vir die uitdaging verloor het.

Rekeninge word nie op tyd betaal nie

Kontantvloei is die angel in elke klein besigheid se vlees. Sodra jy sukkel om ’n verskaffer te betaal, moet jy vinnig die balansstaat, inkomstestaat en kontantvloeistaat noukeurig begin bestudeer.

Niemand praat oor jou besigheid nie

Wanneer laas het jou besigheid ’n toekenning gewen of iemand by ’n braai oor jou besigheid gepraat sonder dat hulle geweet het jy is die eienaar? Gradeer mense jou Facebook-blad of los hulle kommentaar op jou besigheidsprofiel op Google? As die mense om jou nie opgewonde is oor jou diens of produk nie, moet jy ’n nuwe strategie bedink.

Jy praat nie met potensiële kliënte nie

Het jy die afgelope maand met ’n nuwe potensiële kliënt gesels? Want jy is eintlik veronderstel om dit minstens weekliks te doen! Jy moet nie net self met kliënte praat om deurentyd hulle behoeftes te verstaan nie, maar ook om nie uit die gewoonte te val om jou kliëntebasis te groei nie. Dit is ’n rooi lig as jy ophou om tyd saam met jou kliënte te spandeer. Rol jou moue op en begin oproepe maak!

Jy haat dit om naweke te werk

Dit is nie ’n vaste reël nie, maar pasop as jy geld of groei op die tafel los omdat jy meer en meer naweek wil hou. Dit is veral belangrik in die eerste drie of vier jaar van ’n besigheid se bestaan om prosesse uit te stryk, finansies in orde te kry en jou bemarkingsplan uit te voer. Al voel dit jy moet alles doen, is dit nodig sodat jy in die langtermyn ’n meer gebalanseerde benadering kan hê. As jy energie begin verloor vir die konsep waarmee jy besig is, dan is dit tyd om ernstige vrae te vra oor of jy daarmee wil voortgaan of dit dalk op ’n unieke manier moet vernuwe.

Jy wil weer geld leen

Besighede wat kapitaalinspuiting kry op die regte tyd kan fenominale groei wys. Maar as dit al die derde of vierde keer is wat inspuitings kort is daar iets fout op jou balansstaat. ’n Besigheid moet die vooruitsig hê om veel meer geld te genereer as wat hy spandeer. Meeste besighede neem tot sewe jaar tot hulle werklik daardie vermoeë bou. Jaag bykomende kapitaal na om te groei, nie om uitgawes te dek nie – anders moet jy twee keer dink of jy die regte perd opgesaal het.

Omset en wins stagneer

As jy die afglope drie jaar ’n daling in jou omset of wins ervaar, gaan dit moeilik wees om ’n afwaartse tendens in sy spore te stuit. Is daar ander faktore wat dit veroorsaak, is dit uit die mode of het mense se gedragspatrone verander? Dikwels is dit buite jou beheer en as dit die geval is, gaan jy jou idee drasties moet aanpas of ’n nuwe rigting moet inslaan.

Hulpbronne om jou besigheid om te keer: