Blitsgids: Besigheidsversekering

Vir jong entrepreneurs wat ’n besigheid van die grond af wil kry, lyk die administratiewe kant van sake gewoonlik nie baie aanloklik nie. Die doel is immers om ’n droom vlerke te gee, nie om ’n string vervelige stappe te volg nie.

Gelukkig is daar baie maatskappye wat dit al te goed besef en juis daarom allesomvattende versekeringspakkette vir besighede van enige grootte en in ’n verskeidenheid industrieë bied.

Waarom is besigheidsversekering belangrik en wat behoort dit te dek? Hier is ons blitsgids tot besigheidsversekering.

Fisiese bates

Die eerste komponent van ’n besigheid wat dringend versekering verlang is al jou fisiese bates.

Al hierdie voorwerpe – van rekenaars en meubilering, tot die koffiemasjien en die drukker – kos geld om aan te skaf en die versekeringspremie wat jy elke maand gaan betaal is ’n druppel in

die emmer van wat dit jou sal kos om alles te vervang sou die ergste gebeur – dink aan diefstal of natuurrampe.

Onthou, fisiese bates is nie net kantoortoerusting nie.

Het jy enige maatskappymotors? Sodra motors aangeskaf word neem hulle waarde drasties af en voertuiginstandhouding kan ’n lelike gat in jou sak los (dis nou bo en behalwe wat brandstof en olie kos). Indien een van jou voertuie in ’n ongeluk betrokke is, sal jy baie bly wees dat jy versekering uitgeneem het. Karkoop is nie ’n grap nie!

Perseel

Hier hang dit natuurlik af of jy die besigheid op jou eie perseel bedryf, en of jy die perseel huur.

Inbrake, kortsluitings en brande is ’n gevaar wat enige eiendom in die gesig staar en dit is onverantwoordelik om nie versekering op jou persoonlike eiendom uit te neem nie. Indien jy die kantoor of grond huur, maak seker dat die eienaar wel versekering op die eiendom het. Dit is ook belangrik om jou huurkontrak na te gaan en te verseker dat die eienaar skadevergoeding sal betaal indien die perseel iets oorkom en in die proses jou fisiese bates beskadig.

Let wel, indien jy die besigheid vanuit jou woning bedryf maak huisversekering nie noodwendig voorsiening vir besigheidseiendom nie. Dit is belangrik dat jy alternatiewe verskering daarvoor uitneem, of soek na ’n pakket wat beide dek.

Produkversekering

Indien jy nie ’n diensverskaffer is nie, is dit van kardinale belang dat jou versekeringspakket produkversekering insluit. Kortom verseker dit dat:

  1. Jou produkte verseker is wanneer dit versend word, sodat jy nie verantwoordelik is vir enige skade wat dit tydens, byvoorbeeld, die vervoerproses kan ly nie.
  2. Jy nie verantwoordbaar gehou kan word deur verbruikers indien jou produk weens onvoorsiene redes nie op standaard is, of valse inligting weergee nie.

Versekering van besigheidsonderbreking

Indien jy weens onvoorsiene omstandighede nie jou besigheid kan bedryf nie – byvoorbeeld weens skade aan noodsaaklike besigheidseiendom – is daar versekering wat voorsiening maak om hierdie onkoste vir ’n bepaalde tydperk te dek.

Versekering met mombakkies aan

Daar is ander maatreëls wat nie noodwendig die verskeringsbrandmerk as sulks dra nie, maar wat net so belangrik is om die welvaart en sekuriteit van ’n besigheid te verseker:

  • Regsadvies

Dit voel deesdae asof mense na enige rede sal soek om jou te dagvaar en in die besigheidswêreld moet jy jouself kan beskerm indien sulke gevalle opduik.

In ’n besigheid gaan jy kontrakte moet sluit met werknemers, diensverskaffers en kliënte en ’n handtekening op papier kan gevolge dra wat ’n massiewe impak op jou besigheid kan hê. ’n Geregistreerde regsadviseur sal seker maak dat hy/sy die doen en late van jou besigheid ken en sal ook vir jou wettige dokumente (kontrakte en so meer) kan opstel wat jou sal beskerm teen enige regsimplikasies.

  • Boekhou

Besigheidsonkostes, wins, salarisse, oudits, waarderings – die finansiële administrasie van enige besigheid is ’n kopseer as jy onkundig is (lees: nie ’n graad in Rekeningkunde het nie).

Belê in die dienste van ’n bekwame boekhouer om seker te maak dat jou somme klop. Dit verseker ook dat jy nooit gewikkel sal raak in ’n belastingsverknorsing nie.

  • Mediese fonds en – voordele vir werknemers

As jou werknemers baie belangrik is vir die welvaart van jou besigheid, moet jy na hulle welstand omsien. ’n Basiese hospitaalplan, eet- en drinkgoed in die kombuis en ’n gesondheidsklub-lidmaatskap of ‘n welstandsgroep by die werk, verseker ’n gesonde werkmag en ’n produktiewe besigheidsatmosfeer.