Blitsgids: Jou besigheid en belasting

Sodra jou privaatonderneming meer as een miljoen Rand ’n jaar verdien, word daar van jou vereis om inkomste-belasting en belasting op toegevoegde waarde (BTW) te betaal. Die woord belasting laat enige entrepreneur se nekhare rys, maar jy hoef nie te vrees nie; die meeste rekenmeesters meen dis voordelig vir jou om jou onderneming te registreer vir belasting.

 

Pieter se jong maatskappy verskaf verskeie drukkery-dienste en is nou ses maande aan die gang… en finansieel welvarend! Gelukkig het Pieter vanuit die staanspoor ’n interne boekhouer – Sandra – aangestel wat omsien na al die onderneming se finansiële sake. Sandra het Pieter in kennis gestel daar word voorspel dat die onderneming eersdaags die een miljoen rand-inkomstehakkie gaan haal. Hulle het ’n afspraak gemaak om te gesels oor wat die onderneming nou te doen staan.

 

Verstaan insetbelasting en uitsetbelasting

 

Sandra verduidelik vir Pieter dat ondernemings verantwoordelik is vir twee soorte BTW: insetbelasting en uitsetbelasting.

  • Insetbelasting

    Insetbelasting is belasting wat ingereken word by die prys van enige nuwe bates wat ’n oderneming aanskaf (LET WEL: BTW is altyd 15% VAN DIE KOSPRYS). In die geval van Pieter se onderneming sal sulke bates onder meer die volgende insluit: Ink, papier, skryfbehoeftes, nuwe drukkers, nuwe rekenaars- en rekenaartoebehore en maatskappyvoertuie. Uitgawes soos internet, huur, water en elektrisiteit word ook ingesluit by insetbelasting.

    Wanneer Pieter se onderneming bogenoemde bates aanskaf, of uitgawes aangaan, is hulle verantwoordelik daarvoor om ’n belastingfaktuur aan te vra by die geakrediteerde (onderneming/persoon wat betaal word). Dit laat die onderneming toe om elke twee maande die insetbelasting terug te eis! Insetbelasting is dus voordelig vir enige onderneming.

    Let wel dat insetbelasting nie op uitgawes soos kos en drank of publieke vervoerkostes geëis kan word nie. Hierdie uitgawes word nie beskou as noodsaaklik vir die groei of bestaan van ’n onderneming nie.

  • Uitsetbelasting

    As Pieter se onderneming drukkery-dienste verskaf aan ’n kliënt, moet hulle toesien dat die prys wat die kliënt betaal BTW insluit by die kosprys. Dit verseker dat, wanneer Pieter se onderneming belasting betaal op die inkomste wat hulle verdien, daardie belasting reeds ontvang en ingereken is sodat hulle nie tekort skiet nie!

Sandra sê vir Pieter dat, hoewel die konsep moeilik is om te begryp, inset- en uitsetbelasting mekaar uiteindelik uitkanselleer. Dit verseker dat ’n onderneming se insetkoste en wins op die einde van die dag klop.

 

Inkomstebelasting vir werknemers

  • Werkloosheidsversekeringsfonds

    Ondernemings word deur die wet vereis om elke maand 1% van elke werknemer se salaris af te trek en te bemaak aan die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF, of – soos dit algemeen in Engels bekend staan – Unemployment Insurance Fund (UIF)).

    WVF maak voorsiening daarvoor dat korttermyn verligting gebied word aan werkers wat skielik werkloos gelaat word sou die maatskappy bankrot speel, of as hulle nie kan werk nie weens siekte- of kraamverlof. WVF is ook daargestel om verligting te bied aan die afhanklikes van ’n finansiële broodwinner.

  • Lopende betaalstelsel

    Pieter vra vir Sandra of sy onderneming volgens wet daarvoor verantwoordelik is om toe te sien dat werknemers se inkomstebelasting volgens hul inkomstehakkie betaal word. Sandra sê vir Pieter dat, hoewel so ’n wet nie bestaan nie, ondernemings in elk geval aangeraai word om namens hul werknemers by te dra tot die Lopende Betaalstelsel (LBS), of Pay as You Earn (PAYE).

    Met LBS betaal ’n onderneming namens hul werknemers hul inkomstebelasting op ’n maandelikse grondslag. Sodoende verseker hulle dat werknemers nie belasting foute aangaan wat wettige implikasies kan inhou nie. Sandra sê dit is ’n goeie manier vir ’n onderneming om sy werkers te beskerm.

  • Vaardigheidontwikkelingsheffing

    Sandra sê dat aangesien Pieter se salaris begin toeneem, hy ook kennis moet neem van die Vaardigheidontwikkelingsheffing (Skills Development Levy of SDL).

    SDL is toepasbaar op werknemers wat salarisse van meer as R500 000 per jaar verdien: 1% van daardie inkomste moet as SDL-belasting bemaak word vir die opheffing van minderbevoorregtes om hulleself verder te kwalifiseer.


Siedaar – dis basies alles in ‘n neutedop wat Pieter (en jy) hoef te weet oor belasting en BTW vir ondernemings.