Bou ’n winsgewende besigheid: 4 Maatstawwe wat wys jy maak wins (Deel 3)

In die laaste twee artikels is daar verskeie aspekte aangeraak oor wat ’n besigheid winsgewend maak. Eers verg dit beplanning en ’n realistiese begroting, jy moet elke begrotingsitem verstaan, wat die verskil is tussen bedryfsinkomstes en nie-bedryfsinkomstes en watter templaat jy kan volg. Dan is verliese bespreek en watter syfers jy in jou balansstaat en inkomstestaat moet bestudeer om die sondebok te identifiseer, en watter slaggate jy moet vermy. In dié gedeelte kyk ons waarna ’n belegger sal kyk en hoe jy die balans moet kry tussen uitgawes aangaan en wins maak. Hier volg vier maatstawwe waarvolgens jy die winsgewendheid van jou besigheid kan meet:

  1. Likwiditeit op die balansstaat

Die huidige verhouding (“current ratio”) verwys na die verhouding tussen jou bates wat jy maklik in kontant kan omskakel en jou korttermyn laste. Dit is vir ’n belegger om te sien of die besigheid genoeg kontant het of minstens bates het wat vinnig gelikwideer kan word, om vir die volgende jaar se laste te kan betaal. Groot maatskappye wat goed bestuur word, het dikwels ’n verhouding van twee tot een, of selfs drie tot een. So wat tel as jou bedryfsbates? Dit sluit in korttermyn beleggings, kontant, debiteure wat ingevorder moet word en voorraad.

Formule: Huidige verhouding = Bedryfsbates / Bedryfslaste

  1. Groei in omset en groei in netto wins

Twee belangrike syfers wat saam dopgehou moet word is of die besigheid se omset sowel as sy netto wins groei. Maar selfs belangriker is of die omset en die netto wins in dieselfde verhouding groei. Met ander woorde, dit is belangrik dat die maatskappy meer inkomste verdien en nie terselfde tyd sy uitgawes buitensporig vermeerder en daarom nie noemenswaardige groei in die netto wins kan wys nie. As mens na die afgelope drie of vyf jaar van jou besigheid kyk, moet die omset en netto wins geleidelik groei toon, en terselfdetyd moet jou omset nie groei terwyl jou netto wins dieselfde bly of minder word nie. IBM se state het byvoorbeeld onlangs gewys dat sy omset krimp maar sy netto wins groei. Dit is ’n unieke gebeurtenis en gebeur wanneer ’n maatskappy uit ’n sekere sektor uit beweeg wat baie omset genereer het, maar nie in dieselfde verhouding in netto wins omgeskakel is nie. Beleggers is daarom opsoek na besighede wat nie net inkomste kan wys nie, maar wat kan wys dat hulle winste genereer.

Syfers om dop te hou: Persentasie van groei in omset teenoor persentasie in groei in netto wins

  1. Opbrengs op bates

Met ’n kombinering van twee van die finansiële state kan mens die opbrengs op bates, op kapitaal en op ekwiteit gebruik om te bepaal hoe effektief die hulpbronne van die maatskappy aangewend word om winste te genereer. Jy wil kan wys dat jy die bates in jou besigheid genoegsaam gebruik om winste te genereer, suksesvolle maatskappye lewer dikwels 30% opbrengs op hulle bates.

Formule: Opbrengs op bates = Netto inkomste / Totale bates

  1. Bedryfskontantvloei

’n Geheim in die beleggerswêreld is om nie net te kyk na die kontantvloeistaat se kontantvloei van bedrywighede nie, maar ook om die geld wat in nuwe toerusting belê te word, daarvan af te trek. ’n Belegger beskou ’n besigheid winsgewend as hy in sy kontantvloeistaat kan wys dat hy nie net genoeg kontant genereer uit sy bedrywighede uit nie, maar dat hy selfs nog kontant oor het nadat hy toerusting aangeskaf het. ’n Belegger wil weet dat daar geld oor is nadat alles betaal is, sodat nuwe geleenthede befonds kan word of dat beleggers dividende kan verdien. Dit is belangrik om geld oor te hê om in die werklike groei van ’n besigheid te kan belê.

Hoe verbeter jy die resultate in jou kontantvloeistaat? Onderhandel beter terme met verskaffers en krediteure, vorder debiteure meer getrou in, draai jou voorraad vinniger en beperk jou maandelikse uitgawes soveel jy kan.

Formule: Vrye kontantvloei  = Kontantvloei van bedrywighede – Aankoop van toerusting

Om ’n winsgewende besigheid te bedryf moet jy net die vermoeë hê om inkomste te genereer nie, maar ook om jou bates, laste en uitgawes te bestuur sodat dit nie jou inkomste tevergeefs maak nie. Jou besigheidsfinansies werk op dieselfde terme as jou persoonlike finansies. Jou finansiële vryheid vergroot nie as jy ’n groter salaris verdien maar al jou debietorders neem 95% daarvan op nie. Soos jy in jou persoonlike finansies genoeg kontant soek nadat al jou uitgawes afgetrek is, en jy op enige oomblik jou skulde kan afbetaal as jy moet, dan weet jy jy is in ’n gesonde posisie. Die geheim is egter om deurentyd jou syfers dop te hou, te kyk hoe jou omset en netto wins verander maand tot maand en seker te maak dat jy nie teveel kapitaal vasmaak of oormatig laste opbou nie.

Moenie dat jou finansiële state se enigste doel wees om die ontvanger gelukkig te hou nie, gebruik dit as ’n wind waarvolgens jy jou seil kan span, want suksesvolle entrepreneurs weet wat met hulle syfers aangaan en weet waar hulle moet uitkom.