COVID-19 en die nuwe wêreld van tuiswerk

Die wêreld van werk verander gedurig weens verskeie faktore, waaronder hoe om dienste te lewer, hoe om nuwe tegnologie te gebruik, asook eksterne omgewingsfaktore.

Die onverwagse uitbreek van die COVID-19-pandemie gedurende 2020, tesame met die grendeltydperk en inperkingsmaatreëls wat die regering ingestel het, is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n eksterne omgewingsfaktor ’n impak op ’n onderneming kan hê.

Die meeste ondernemings moes noodgedwonge alternatiewe maniere vind om werknemers te akkommodeer om van die huis te werk waar moontlik, hetsy op ’n tydelike of permanente basis.

Uitdagings en onsekerhede vir sowel ondernemings as hulle werknemers was daar beslis, maar die hantering daarvan deur beide partye gaan bepaal of dit ’n sukses gaan wees of nie. Dié artikel gaan net kortliks fokus op ’n paar punte.

Vir meeste werkgewers het die vrees bestaan dat hul werknemers nie by die huis so produktief gaan wees soos onder toesig by die werk nie. Verbasend was dit egter nie die geval nie en in ’n TV-reeks getiteld COVID Tech het die SAUK-nuusaanbieder Tshepiso Moche aangedui dat, volgens ’n studie, 9 uit 10 (94%)  besluitnemers dit belangrik geag het dat ouers meer tyd saam met hul kinders moet spandeer, en dat goeie netwerkverbinding (93%) van die sterkste faktore is wat bygedra het tot die suksesverhaal tot dusver tydens die COVID-19-tydperk.

Volgens Arthur Goldstuck, besturende direkteur van World Wide Worx, maak ’n bevinding in ’n studie dit ook duidelik dat persoonlike omstandighede van elke werknemer in ag geneem moet word met die digitalisering van die werkplek na die kantoor by die huis.

Dit is baie belangrik dat werkgewers sover moontlik ’n betroubare netwerkverbinding aan hul werknemers verskaf om maksimale produktiwiteit te verseker, want indien daar nie goeie netwerkverbinding is nie, kan dit tot onnodige spanning tussen die werkgewer en die werknemer lei weens frustrasies oor ’n netwerkverbinding wat nie betroubaar is nie.

Nóg ’n bekommernis en/of uitdaging vir werkgewers was dat die afgeleë werknemer moontlik nie toeganklik kon wees nie en die doeltreffendheid van die werknemer dus nadelig beïnvloed sou word. Werkgewers moet dit duidelik aan hul werknemers stel deur middel van kommunikasie en/of beleide dat die werkplek – of dit nou tydelik of permanent is – na die huis van die werknemer skuif en die werknemer dus steeds by die reëls van die werkgewer moet hou, asook dat moontlike dissiplinêre aksie gevolg kan word indien daar nie by die reëls gehou word nie.

Daarom is dit belangrik dat daar op ’n gereelde basis verbinding moet wees tussen die werkgewer en die werknemer. Reël op ’n gereelde basis vergaderings met die werknemer, wat virtuele vergaderings en/of telefoniese gesprekke insluit, om besprekings te hou oor onder meer die vordering van projekte en of gestelde doelwitte bereik gaan word. Kommunikasie moet tussen die werkgewer en die werknemer plaasvind met betrekking tot suksesse en uitdagings wat die huis as werkplek bied.

Die werkgewer kan ook die volgende belangrike riglyne met werknemers deel wat moontlik verder daartoe kan bydra om die huis in ’n doeltreffende werkplek te omskep:

  • Werknemers moet by hul huise eksperimenteer met die opset van hul nuwe werkplek/-stasie.
  • Skep grense tussen werk en huis.
  • Berei voor vir vergaderings en wees te alle tye beskikbaar.
  • Werknemers moet aanspreeklikheid vir hul werk aanvaar en duidelik weet wat hul verantwoordelikhede is.
  • Wees te alle tye sigbaar op die werkgewer se platforms.
  • Kommunikeer gereeld en wees duidelik en doeltreffend.
  • Werknemers moet na hul gesondheid omsien.
  • Kommunikeer gereeld met bestuurders en kollegas.

Dit is egter ’n feit dat die wêreld van werk nooit weer dieselfde gaan wees nie; al hoe meer ondernemings gaan waar moontlik dat hul werknemers van die huis af begin werk om byvoorbeeld kostebesparings ensovoorts teweeg te bring. Die sukses daarvan gaan bepaal word deur goeie kommunikasie tussen die werkgewer en werknemer, en moet op vertroue gebou word.