Die sielkunde agter bemarking

Bemarkers spandeer ’n groot hoeveelheid tyd om te probeer bepaal wat mense se gedrag beïnvloed en wat hul sal oortuig om te koop. Die vraag is, waarom koop kopers sekere produkte en ander nie? Deel van die besluitnemingsproses is emosioneel en sielkundig. Vir daardie rede is dit juis belangrik dat ondernemings fokus op die sielkunde agter hul bemarkingstrategie om optimaal hul verkope te dryf. Hier is ’n paar sielkundige bemarkingstrategieë wat ondernemings vir hulle bemarking aanwend.

#1 – Sosiale bewyse

Volgens die beginsel van sosiale bewyse maak mense besluite gebaseer op die optrede van ander mense. Indien jy gebruik maak van dié beginsel in jou bemarkingstrategie probeer jy potensiële kliënte oorreed om by jou te koop deur vir hulle te wys dat ander mense die produk koop, geniet en ondersteun. Om die taktiek in te span, kan jy gebruik maak van positiewe resensies wat wys dat jou produk goed is en dat dit gesog is onder ander mense. Dié strategie werk veral goed om nuwe kliënte te lok omdat mense makliker ander mense sal glo as wat hulle jou onderneming sommer sal glo.

#2 – Skaarsheid

Skaars items is meer waardevol. Dit is ’n basiese beginsel van vraag en aanbod met die oog daarop dat die vraag hoër moet wees as die aanbod. In só geval plaas kopers ’n hoër waarde op ’n produk aangesien hulle die moontlikheid sien dat hulle dit nie sal kan kry nie as gevolg van ’n tekort. Dié taktiek fokus op die vrees dat jy byvoorbeeld ’n promosie gaan misloop indien jy nie onmiddellik daarvan gebruik maak nie. Jy kan dié taktiek inspan deur kort promosies op te stel of net ’n klein getal produkte beskikbaar te stel.

#3 – Wederkerigheid

Dit is wanneer jy voel asof jy iets moet teruggee aan iemand wat vir jou iets gegee het. Vir bemarking beteken dit dat kliënte baie maal voel asof hulle jou onderneming iets skuld indien jy vir hul iets gratis gegee het. Dink byvoorbeeld as ’n loodgieter gratis uitkom om te kyk wat fout is met jou stortkop – jy is dan meer geneig om hulle te gebruik as om iemand anders te kry. Oorweeg daarom om iets gratis weg te gee of ’n gratis diens te lewer om toekomstige besigheid te verseker.

#4 – Eerste indrukke

Kliënte se besluitneming word baie beïnvloed deur die eerste inligting wat hulle kry ten opsigte van die besluit. Dit beteken dat die kliënt die prys en produk evalueer op grond van hul eerste indruk. Gestel iemand sien ’n soortgelyke produk as joune vir dubbel die prys by ’n ander winkel – in so geval gaan hulle dink jou produk is goedkoop, selfs al is dit duurder as ander verskaffers se produkte in die mark. Die besluit om jou te ondersteun, is dus beïnvloed deur die inligting wat hulle voor die tyd ingewin het aangesien die prys relatief is tot dié van jou mededinger. Jy kan dié beginsel in jou onderneming toepas deur jou pryse af te merk en die oorspronklike prys ook ten toon te stel. Kliënte sal outomaties dink hulle kry ’n goeie prys.

Jou potensiële kliënt gaan deur vyf fases van besluitneming voordat hul reg is om jou produk of diens aan te skaf. Die eerste fase is erkenning, gevolg deur die inwin van bykomende inligting en dan derdens ’n evaluasie van die produk of diens. Volgende kom die uiteindelike koop van die diens of produk en laastens ’n evaluasie of die koop die moeite werd was. Deur seker te maak jy ken die sielkunde agter ’n koop, kan jy jou bemarking effektief op jou mark toespits en só jou verkope dryf.