Entrepreneursfokus: Dawid Brand – Aksent Media

Aksent Media was ’n droom wat Dawid Brand reeds in sy hoërskooldae opgedroom het – hoewel in ’n ietwat ander gedaante. Dawid het in sy eie woorde “met die reuk van drukkersink” grootgeword. Sy ma was vir jare betrokke by ’n plaaslike koerant en deur dié blootstelling het Dawid reeds op 14-jarige ouderdom sy eerste koerantartikel in druk gesien. Voor Dawid universiteit toe is om joernalistiek te gaan studeer het hy reeds aan ’n gemeenskapskoerant beplan wat hy Aksent wou noem. Oor die jare het sy droom ál meer vorm begin kry en vandag vier Aksent Media al sy 15de verjaardag.

Hoewel Dawid reeds jare oor Aksent Media gedroom het, is die maatskappy amptelik in 2006 begin. Dawid beweer egter dat die onderneming nie soseer “begin” het nie maar eerder per toeval “gebeur” het deur verskeie geleenthede wat oor sy pad gekom het. Hy het die behoefte raakgesien vir ’n diens wat ander ondernemings in staat stel om ’n koerant of tydskrif te laat uitkontrakteer eerder as om ’n inhuise redaksiespan aan te stel. Hierdeur het Aksent Media daarin geslaag om meer waarde aan sy kliënte toe te voeg en ook meer besparing te bewerkstellig. Aksent Media maak van ’n diverse span vryskutskrywers, taalpraktisyns en fotograwe gebruik om hoëkwaliteitprodukte te lewer.

In sy eie woorde beskryf Dawid Aksent Media as ’n eenstopdiens, oftewel “van dink tot ink” soos hy dit stel. Aksent Media se dienste strek vanaf die konseptualisering en skryf van kopie tot grafiese ontwerp, bladuitleg en drukwerk. Aksent Media bied ’n wye reeks dienste aan, wat dit ’n ideale vennoot vir enige onderneming maak. Hulle bied ’n diverse diens – van die skryf van artikels vir tydskrifte soos Lééf, Lig en élan (Medihelp se aanlyn tydskrif) tot die bladuitleg en druk van tydskrifte soos die Solidariteit Tydskrif.

Dawid se inspirasie was beide sy ouers. Sy pa het vir 30 jaar op ’n myn gewerk en voor sonop werk toe gegaan en ná sononder eers tuis gekom. By hom het Dawid die waarde van harde werk en die belangrikheid daarvan om altyd jou beste te lewer, geleer. Sy pa het altyd gesê: “Harde werk het niemand nog ooit doodgemaak nie.” Sy ma was natuurlik vroeg al ’n inspirasie deur middel van haar werk en het hom ook aangemoedig om uiteindelik sy drome na te volg. Teen die tyd dat Dawid universiteit toe is, het sy ’n plakboek gehad met bykans 500 artikels van hom wat sy bewaar het.

Dawid se toekomsplanne vir Aksent Media behels om ten spyte van die talle uitdagings wat die tradisionele drukbedryf in die gesig staar, steeds meer tydskrif- en koerantartikels onder die Aksent Media-vaandel uit te gee. Terselfdertyd wil Dawid ook die onderneming se grootformaatdrukafdeling uitbrei wat die druk van plakkers, eiendomsagentborde, plakkate, groot advertensieborde en so meer insluit. Aksent Media is ’n toonbeeld van die modernisering van die tradisionele drukmedia wat boonop ook ’n eenstopontwerp-en-ontwikkelingstuiste is. Vir enige mediaverwante dienste is Aksent Media definitief ’n uitstekende diensverskaffer vir jóú onderneming.