Entrepreneursfokus: Michelle Kinnear

Michelle Kinnear is die eienaar van Plaasmeisie waar die kerndoel is om trots Suid-Afrikaanse handgemaakte, hoëkwaliteitprodukte wat hou, te bied aan die mense van ons mooi land.

Plaasmeisie-produkte word gemaak deur skoenmakers en leermakers wat ’n ware talent en liefde vir die industrie het. Ons het al vele kere in die verlede geleenthede gehad om skoene en ander leerprodukte wat ingevoer word teen goedkoper pryse te verkoop. Maar ons hou by dit wat ons doen. Ons ondersteun plaaslik, en bly by trotse Suid-Afrikaanse produkte.

Fokus saam met ons op Michelle Kinnear van Plaasmeisie.

Is jul meeste verkope aanlyn of in ’n fisiese winkel?

Plaasmeisie het oorspronklik in 2015 begin as ’n aanlyn winkel alleenlik. In 2019 het ek my eerste fisiese winkel oopgemaak in die suide van Johannesburg in Mall of the South. My aanlyn verkope was nog altyd meer as die fisiese winkel se verkope, maar die fisiese winkel het gehelp dat my aanlyn verkoopsyfers letterlik verdubbel. Ek glo dat die aanlyn sukses te doen het met die feit dat kliënte reg oor Suid-Afrika ons meer kan vertrou. Met soveel ondernemings wat deesdae mense se geld steel deur bestellings te neem en nooit die produkte te stuur nie, dink ek dit is belangrik en dit werk vir my onderneming om aanlyn te wees, maar ook om ’n fisiese winkel te hê. Suid-Afrika is ook nog nie so gevorderd soos ander lande met aanlyn verkope nie. In die skoenbedryf, veral, is daar nog baie mense wat eerder die skoen self wil voel, sien en aanpas voordat hulle koop.  

Dink jy dis moontlik om op enige ouderdom die skuif te maak van voltydse werknemer na ’n entrepreneur?

Ek glo dat ouderdom nie regtig saak maak wanneer jy oorskuif van voltyds werk vir ’n maatskappy na entrepreneurskap nie.

Ek het op die ouderdom van 30 die korporatiewe wêreld verlaat om ’n entrepreneur te word. Die korporatiewe ondervinding wat ek opgedoen het, het my definitief gehelp toe ek my eie onderneming begin het. Ek pas tot vandag toe my korporatiewe kennis toe op my eie onderneming. Dit maak nie regtig saak waar jy werk nie, want jy leer soveel van elke onderneming waar jy werk, wat jy dan weer later kan toepas, hetsy dit by ’n ander maatskappy, of as entrepreneur is.

Hoe sal jy die woord entrepreneur beskryf?

’n Entrepreneur is iemand wat natuurlik kan leiding neem, wat nie bang is vir risiko neem nie. Iemand wat ’n passie het, uithouvermoë, dryfkrag en ’n wil om nooit op te gee nie.

Ek glo met my hele hart om ’n entrepreneur te kan wees, het jy ’n godgegewe talent gekry. Dit is soos om ’n goeie atleet te kan wees. Jy moet ’n natuurlike talent hê om te kan hardloop. En met jou talent, plus harde oefening, kan jy goed presteer. Dit is dieselfde met entrepreneurskap. Jy neem jou talente, en werk daarmee in die onderneming. Jy maak foute, val, en staan weer op, en word sterker.

Het julle enige toekomsplanne en waar kan die gehoor julle volg? (sosiale media, webtuiste, ens.)

Plaasmeisie se onmiddellike toekomsplanne: Ek maak ’n tweede fisiese winkel oop in Clearwater Mall op 1 Mei 2022.

Ek beoog om my onderneming sterk te groei sodat ek dit vir die res van my lewe kan doen. Daar is wel nog planne vir fisiese winkels in die toekoms. Net tyd sal leer waar en wanneer. 

Besoek Plaasmeisie vir meer inligting:

Webtuiste: www.plaasmeisie.co.za

Instagram: @plaasmeisie.co.za

Facebook: @plaasmeisievellies

Twitter: @plaasmeisiePL

Kyk hier na ons onderhoud met Michelle Kinnear van Plaasmeisie