Entrepreneursfokus: Vannie Kaap

Ons het met niks begin nie; geen formele strukture om oor huis toe te skryf nie; ’n geleende skootrekenaar en ’n gedagte hier en daar … En toe, om ses jaar later deur AfriForum erken te word en met ’n toekenning bekroon te word vir die werk wat ons doen – dit is nou spesiaal. Die handelsmerk het weens ’n eenvoudige rede ontstaan: Ons kultuur is nie vereer of erken nie, maar deur die VK-platform word meer en meer mense daarvan bewus en neem eienaarskap van die kultuur.  

AfriForum Sakenetwerk het die volgende aan Vannie Kaap gevra. Lees meer oor wie hulle is, wat hulle doen en ook waarom hulle dit doen.

Wie is die gesig agter die onderneming?

Nieamptelik: Marc Jacobs (Skarrel Maasta); amptelik, ons gehoor.

Wie is jul ideale kliënt?

Enigeen wat ons Kaaps-kultuur wil vereer en meer daaroor wil leer.

Wat het jou geïnspireer om ’n entrepreneur te word?

Sowel ek as my sakevennoot wou altyd méér doen, méér wees en die vryheid geniet om ’n verskil te kan maak. Maar om agter ’n lessenaar vir iemand anders te werk het ons nie toegelaat om dit te doen nie.

Hoe het jou prioriteite verander vandat jy ’n entrepreneur is?

Sedert ek ’n entrepreneur geword het, het dit my lewe tot ’n groot mate verander. Ek is nou (daagliks) verantwoordelik vir my eie sukses, en wanneer dit jou plig is om ’n mate van sukses en oorlewing te verseker, doen jy wat nodig is. (Dala wat julle moet!)

As jy toe geweet het wat jy nou weet, wat sou jy verander?

Werk meer sinvol met jou geld, wees ’n beter kommunikeerder vir dinge wat vir my belangrik is, wees meer gedissiplineerd, maar oor die algemeen is ek hoogs tevrede met waar ek tans is.  

Hoe het jy besluit waar jy jou onderneming gaan vestig?

Sonder twyfel in die Wes-Kaap. Dit was nie eens ’n keuse nie.

Is jul meeste verkope aanlyn of in ’n fisiese winkel?

Fisiese winkels blyk meer verkope as aanlyn winkels te trek; kliënte verkies om die winkel te besoek vir die belewenis daarvan.  

Wat is vir jou uniek aan jou onderneming?

Dit is uniek om ’n onderneming te laat groei wat jou kultuur en taal vereer. Wat dit egter unieker maak, is hoe die gehoor om die handelsmerk skaar en hoe dit ’n plek verteenwoordig waar inklusiwiteit alles is.  

Wat het jy die meeste geniet toe jy met jou onderneming begin het?

Die vryheid om myself te kon wees – en nie wat die samelewing van my verwag om te wees nie.

Wat was die grootste struikelblok en hoe kon jul dit oorkom?

Steeds vandag nog is kontantvloei ons kleinsakeonderneming se grootste uitdaging. Ons het ’n franchisemodel aangeneem wat bestendige groei van die handelsmerk in Suid-Afrika sal verseker – en hopelik ook oorsee. Dit sal egter die minimum uitgawes vir ons intern beteken.

Wat is die waardes waarmee die onderneming handeldryf?

Ons streef na gehalte in alles wat ons doen, ook om verantwoordelik te wees teenoor die gehoor en gemeenskap wat ons dien.  

Hoekom het jul met die onderneming begin?

 Om ons kultuur te vereer en ander kulture van ons kultuur te leer.  

Hoe het jul die gaping in die mark geïdentifiseer?

Die Facebook-bladsye het begin om ’n nostalgiese ruimte vir ekspats te word deur middel van daaglikse humor; die vinnige groei en die sukses van die daaglikse meme  het ons die stukrag gegee om dit deur middel van ons handelsprodukte in geld om te skakel.  

Wat is die kerndoel van die onderneming?

Om ons kultuur te vereer en ander kulture van ons kultuur te leer. 

Het julle enige toekomsplanne en waar kan die gehoor julle volg (sosiale media, webtuiste, ens.)?

Ons beplan om ons Vannie Kaap-mediadienste uit te brei, om met meer korporatiewe entiteite saam te werk vir meer onderneming-tot-onderneming- en onderneming-tot-gemeenskap-geleenthede, en om meer Vannie Kaap-winkels plaaslik en oorsee te vestig om die ekspatgemeenskap te bedien.

Is daar ’n interessante staaltjie agter die ontstaan van die onderneming?

Die feit dat dit my twee jaar geneem het om aan die Britte te verduidelik dat ons ’n kultuur van Kaapstad in Suid-Afrika is, en hulle my nie wou glo nie, was gedeeltelik die rede vir die ontstaan van Vannie Kaap – om meer bewustheid vir ons mense te kweek.  

Het die onderneming begin in jou vrye tyd of was jy ’n voltydse werknemer?

My vennoot het die handelsmerk in sy vrye tyd tussen werke begin en die bladsy vir ’n jaar lank laat groei voordat ons dit gemonetiseer het en voltyds met Vannie Kaap begin het.

Hoe handhaaf julle dissipline in die entrepreneurswêreld?

Dit is baie moeilik. As entrepreneur moet jy altyd na nuwe geleenthede op die uitkyk wees. Ons moes mekaar se klankborde word, ons wilde idees beteuel en fokus.  

Dink jy dis moontlik om op enige ouderdom die skuif te maak van voltydse werknemer na ’n entrepreneur?

Dit hang van ’n paar faktore af: of die sake-idee deeglik getoets is; of dit wat jy doen ’n gaping vul in die bedryf waarop jou oog is.  

Hoe sal jy die woord entrepreneur beskryf?

Iemand wat risiko’s neem, wat met passie gevul is vir elke strewe om ’n positiewe impak te hê op die bedryf wat dit bedien.

Wat is jou grootste wenk aan ander entrepreneurs?

Moenie moed opgee nie; wees onverskrokke en veerkragtig – en die belangrikste: Dala wat jy moet!  

Wat doen jy graag in jou vrye tyd?

Ek kuier met vriende en familie, en gaming.

Hoe stem jou ambisie en die ambisie van jou onderneming ooreen?

Dit is belyn, want dit is my ambisie wat elke dag my sake-aktiwiteite aanvuur.

Wat staan in jou pad om jou droomonderneming te skep?

Nie genoeg toegang nie en hulpbronne wat geredelik beskikbaar is nie. Ook om betroubare medewerkers te kry om mee saam te werk.  

Watter drie woorde beskryf die emosie wat jy voel vir jou onderneming?

Trots, onapologeties, katalisator.

Wat is jou verwagtinge vir die onderneming?

Om ’n positiewe katalisator vir ’n inklusiewe Suid-Afrika te wees.  

Indien jy onbeperkte hulpbronne kry, wat sal jy daarmee doen?

Wel, wel … ’n Eie TV-kanaal vir alles wat Kaaps is; ’n aanlyn radiostasie; digitale tydskrifte; winkels dwarsoor die wêreld; om ’n sakenetwerk te ontwikkel; om met meer korporatiewe organisasies saam te werk om meer gepaste gereedskap vir ons mense te voorsien; om lekker interaktiewe Vannie Kaap-ervarings te skep. Ag, ek kan aangaan …

Is jy tevrede met dit wat jy reeds bereik het en wat sal jy verander?

Baie gelukkig om ’n visie en ’n droom te kan uitleef – ek sou niks verander het nie!

Hoe het jul twyfel en teenspoed bestuur?

Ons word aangevuur deur dit wat die handelsmerk geword het vir almal van enige etnisiteit daagliks daarmee gemoeid is.

Wat is die beste wenk vir ontspanning wat jy aan ander entrepreneurs kan gee?

Onttrek jou ten minste een dag per week aan jou onderneming (hoe moeilik dit ook al is) – en gebruik die tyd om iets te doen waarvoor jy die liefste is.  

Wat is jou beste hulpbron om jou onderneming te bemark?

Tans is dit ons sosialemediaplatforms – die meme, wat die oorsprong van ons handelsmerk se sukses is.  

Watter risiko’s en opofferinge hou dit in om ’n doeltreffende entrepreneur te wees?

Wanneer mens nie ten volle begryp watter toewyding dit neem om op hierdie reis te gaan nie, want aan die begin gaan dit jou van sowel jou familie en vriende as jou sosiale lewe vervreem.

Wat is die eienskappe wat jy in jou span soek?

’n Bereidheid om te leer, die inisiatief te neem, verantwoordelik te wees en by ons gehoor en kliënte aanklank te vind.  

Hoe lyk jou dag as entrepreneur?

Omdat ek die Skarrel Maasta van die handelsmerk is, bestaan my dag daaruit om verhoudings te bou en die Vannie Kaap-netwerk uit te brei om te verseker dat ons altyd ons grondslag te verstewig.  

Hoe sou jy voorstel kan ’n student wat nie baie weet nie die voetspore van ’n entrepreneur volg?

Meer geleenthede moet ontwikkel word om te verseker dat daar duideliker paaie is vir die jeug om te volg. Dit kan ’n baie eensame pad wees, en wanhoop kan baie vinnig nader kruip, wat kan maak dat jy bloot opgee.