|

Hoe kan ek my toekenning gebruik om my onderneming te bevorder?

So nou en dan kom ’n goeie kompetisie met lekker pryse oor jou pad en mag jy dalk wonder: Is dit die moeite werd om moeite te doen om vir hierdie kompetisie in te skryf?

Kompetisies vereis gewoonlik baie administrasie en dokumentasie, dan praat mens nie eers van die tyd wat jy moet afstaan om elke geleentheid by te woon en die kosbare ure wat dit van operasionele en bestuursfunksies wegneem nie. Dit laat mens dink of dit wel die tyd en moeite werd is om die eerste stap te neem en in te skryf.

Die kort antwoord: JA, dit is! En die hoofrede is nie noodwendig die wonderlike pryse wat jy kan wen nie, maar alles wat daarmee gepaardgaan. Lees hier waarom dit vir jou onderneming voordelig is om vir kompetisies in te skryf en hoe jy jou toekennings kan gebruik om vir jou deure oop te maak.

1. Blootstelling en gratis bemarking

Die heel eerste (en seker die grootste) voordeel wat kompetisies en toekennings vir jou inhou, is die blootstelling wat dit vir jou onderneming gee. Die kompetisieliggaam skep gewoonlik heelwat bemarkingsmateriaal oor die mense wat vir die kompetisie ingeskryf het, maak seker jy deel dit wyd en syd, veral as jy stemme benodig om te wen!

Die tweede vlak van blootstelling lê in die netwerk van eendersgesinde entrepreneurs wat jy in die proses ontmoet en leer ken. Moet nooit die krag van kruisbestuiwing onderskat nie. Elkeen wat jy ontmoet, het die potensiaal om vir jou baie deure oop te maak en, onthou, ook andersom.

Toekennings lok ook gewoonlik die media – wanneer jy jou toekenning gebruik om jou kredietwaardigheid te bewys, kan radio-onderhoude, koerantberigte en selfs TV-onderhoude volg. Dit het ’n rimpeleffek en verbreed jou blootstelling wat weer elk van die volgende punte tot gevolg kan hê.

2. Meer kliënte en meer verkope

           
Dink bietjie, as jy dink aan ’n produk of diens wat jy benodig, sal jy eerder ’n handelsmerk kies wat ’n finalis in ’n kompetisie was of sal jy ’n onbekende, goedkoper handelsmerk kies? Die kans is groot dat jy eerder die meer bekende en vertroude handelsmerk sal kies.

Die blootstelling wat jy gehad het behoort meer voete na jou onderneming te lok. Dit lei dan vanselfsprekend ook na hoër verkope.

3. Skep kredietwaardigheid

Wanneer ’n handelsmerk bekendheid verwerf deur middel van ’n kompetisie, of ’n toekenning verwerf, skep dit kredietwaardigheid by voornemende kliënte. Die feit dat kompetisies dikwels derde partye as beoordelaars gebruik, beteken dat mense die indruk kry dat jy aan ’n eksterne stel reëls en standaarde getoets is en uitgeblink het.

Om as wenner uit die stryd te tree, is ook ’n bewys dat jou onderneming goed doen!

4. Posisioneer jouself teenoor jou kompetisie

Dikwels gee die kompetisieproses ’n nuwe perspektief op jou onderneming. Jy word gedwing om vanuit ’n buitepersoon se oogpunt jou onderneming en praktyke krities te evalueer en dit bring ook innoverende veranderinge in jou industrie te weeg.

Jy kry dikwels ook baie insig oor hoe jy dinge beter/swakker as jou kompetisie benader. ’n Kompetisie teen ander ondernemings in dieselfde industrie waar jy werk, behoort jou ’n idee te gee van hoe jy teenoor jou kompetisie vaar.

Dit kan ook ’n direkte impak hê op jou selfvertroue as entrepreneur, verder uitkring dat jy betrokke raak by die ontwikkeling van ander entrepreneurs en jou die moed gee om nog ondernemings te begin.

PRYSE!

Nou kom ons by die heel lekkerste deel – die toekennings en die pryse!

Bogenoemde faktore mag meer blootstelling, kliënte en lojaliteit bewerkstellig, maar die groot bederf lê eintlik in die pryse.

Michelle van Michelle se Kombuis (’n deelnemer aan verlede jaar se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie) verduidelik dat die prys wat sy gewen het as deel van verlede jaar se kompetisie (’n webtuiste by Kwikstert) haar onderneming se produktiwiteit en administrasie meer doeltreffend gemaak het. Met die administrasie en bestelproses wat vergemaklik is, kon sy daarop fokus om die onderneming uit te brei!

Onthou – Pronk!

Uit die aard van die saak maak nie een van die boonste faktore ’n verskil as jy dit nie uithaal en WYS nie! Maak seker mense weet van jou inskrywing en jou toekenning en gebruik dit tot jou voordeel. Moenie skroom om ’n embleem van die toekenning op jou sosiale media en webtuiste te plak nie, dit wys vir mense dat jou standaard ononderhandelbaar is (jy weet, soos daardie wyn met al die goue plakkertjies op).

Skryf nou in vir AfriForum Sakenetwerk se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie en wys ons wie is baas:
https://afriforum.co.za/skryf-nou-in-vir-die-entrepreneur-van-die-jaar-kompetisie/