Hoe om Instagram vir jou onderneming in te span

Meer as 25 miljoen maatskappye wêreldwyd maak gebruik van Instagram vir hul ondernemings. Meer as 200 miljoen besoekers besoek minstens een onderneming se profiel elke dag. Met so ’n hoë potensiële reikwydte is dit dus uiters belangrik dat jou onderneming Instagram se bemarkingskapasiteit benut. Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou Instagram-profiel kan groei en bemark.

1) Verhoog jou inhoudsuitset

Daar is ’n oneindige hoeveelheid inhoud wat jy op jou profiel kan publiseer, vanaf produkfoto’s, foto’s van kliënte tot klein video’s en meer. Dit is egter belangrik om uit te vind wat die meeste tot jou mark spreek. Dit is ook belangrik om minstens een maal per dag ’n plasing te maak – sommige groothandelaars plaas tot drie maal per dag. Maak egter seker jy plaas op die regte tyd van die dag. Let op wanneer jou plasings die meeste interaksie kry en probeer om dit te benut.

2) Kruisbestuif met ander platforms

Dit is belangrik om van ander sosialemediaplatforms ook gebruik te maak om seker te maak dat jou boodskap die grootste moontlike gehoor bereik. Moenie ’n goeie plasing se potensiaal mors deur dit slegs op Instagram te plaas nie – gebruik dit ook op ander platforms soos Facebook en Twitter.

3) Fokus op persoonlike inhoud

Die hoofbestaansrede vir Instagram is om ervarings te deel. Hou aan om daarop te fokus en nie bloot net op harde bemarking vir verkope nie. Fokus daarop om op ’n meer “menslike” wyse jou onderneming aan potensiële kliënte bekend te stel. Plaas byvoorbeeld eerder foto’s van gelukkige kliënte as om net jou produk of diens te probeer verkoop.

4) Eksperimenteer met hutsmerke

Maak nie saak hoe groot of klein jou onderneming is nie, dit is belangrik om daarop te fokus om hutsmerke te skep. Unieke hutsmerke sal maak dat jou onderneming se reikwydte organies groei wanneer een van jou volgelinge ook van die hutsmerk gebruik maak.

5) “Tag” handelsmerke, volgelinge en plekke wanneer jy kan

Deur ander plekke en mense te “tag” kan jy op ’n redelik eenvoudige wyse jou Instagram aan ’n wyer gehoor bemark. Die hoop is dat die ander ondernemings, handelsmerke of mense jou weer in ruil sal “tag” wat jou organiese reikwydte weer vergroot.

6) Skep iets unieks

Kreatiwiteit is belangrik op Instagram. Jy kan jou onderneming onderskei van die kompetisie deur ’n nis of een of ander tema te hê. Sommige handelsmerke fokus byvoorbeeld daarop om slegs een kleurplasing oor ’n sekere tydperk te maak om ’n tema of gevoel oor te dra.

7) Werk met beïnvloeders

Omdat Instagram ’n platform is waarop handelsmerke en ondernemings op ’n indirekte wyse kan bemark, is dit belangrik om van beïnvloeders gebruik te maak. Dit is mense wie se profiel deur ’n groot groep ander mense gevolg word. Die ideaal is om iemand te vind wat die waardes of kern van jou besigheid oordra. Het jy ’n jagwinkel – jou ideale beïnvloeders is iemand wat versot is op jag en wie se volgelinge daarvan hou om jagfoto’s op Instagram te sien. Jy kan jou besigheid aan jou ideale teikenmark bemark op ’n maklik verteerbare wyse wat nie soos direkte bemarking voel nie deur saam met só ’n persoon te werk.

8) Stuur ’n kompetisie van stapel

Handelsmerke wat kompetisies op Instagram van stapel stuur, groei sowat 70% vinniger as die wat nie doen nie. Daar is verskeie maniere waarop jy jou kompetisies kan opstel wat jou reikwydte drasties sal vergroot. Leer meer oor Instagram-kompetisie-idees in ons opvolgartikel.