Hoe om jou onderneming met behulp van LinkedIn te laat groei

Die meeste entrepreneurs skram van LinkedIn weg omdat dit eintlik vir hulle ’n onbekende (en soms nuttelose) platform is, maar die waarheid is dat LinkedIn ’n besonderse hefboom kan wees as jy dit reg benut.

As ’n mens dink aan die verskillende platforms as koffiewinkels waar jy mense ontmoet, dan is Instagram iets soos Starbucks, Facebook iets soos Mugg & Bean en LinkedIn iets soos die voorportaal van ’n hotel – miskien soos KOI by Menlyn Maine. LinkedIn is waar jy sake doen, waar jy jou hoëhakskoene en snyerspakkie dra en waar jy jou onderneming se beste voetjie voorsit.

Waarom is dit voordelig om LinkedIn te gebruik?

Soos hier bo genoem verskil LinkedIn geweldig van die ander platforms. Dit is wel baie voordelig om te gebruik:

  • Jou teikenmark op LinkedIn is gehaltekliënte; hulle is daar om sake te doen, nie om familievakansiefoto’s te deel nie.
  • In vergelyking met Facebook genereer LinkedIn leidrade wat 277% meer doeltreffend is.
  • Sowat 80% van B2B-leidrade word deur LinkedIn gegenereer.
  • LinkedIn het dit maklik gemaak om interaktiewe inhoud, wat meer formeel en professioneel is, te skep en te deel.
  • LinkedIn bied jou ’n platform om jou kennis op ’n professionele manier te deel en dus vertroue te skep dat jou onderneming ’n kenner in sy industrie is.
  • LinkedIn se samestelling stel jou in staat om baie fyner kriteria vir jou teikenmark daar te stel; jy kan mense en ondernemings op grond van grootte, industrie en posvlakke teiken.

LinkedIn is ’n professionele sosiale netwerk en daarom is die krag daarvan soveel groter wanneer jy dit as hefboom gebruik om ’n professionele netwerk te skep en uit te bou. Jy mis so ’n bietjie meer van Jan Alleman en beweeg eerder tussen die hoë bome, tussen die mense wat gefokus is op dieselfde doelwitte as jy.

Die absolute noodsaaklikheid van ’n LinkedIn- georiënteerde bemarkingsplan

Getroue en deurlopende LinkedIn-gebruikers dra groter gesag as iemand wat ál sy energie en bemarking op Facebook instoot, maar dit is baie belangrik om te besef dat diegene wat op LinkedIn tyd spandeer nie lus is vir ’n klomp advertensies nie.

Harde verkope en bemarking is glad nie gepas op LinkedIn nie; dit is ’n lang en konstante belegging. Hier bou jy mettertyd jou reputasie op, stel jou kennis en produkte ten toon en bou ’n netwerk van kundiges uit.

Weens LinkedIn se unieke aard is dit dus belangrik om ’n baie spesifieke en doelgerigte bemarkingsplan uit te werk en dit slaafs na te volg. Jy sal minder op advertensies moet fokus en meer op jou netwerk. Die speelveld hier is om jou netwerk te verstaan, te koester en dan nader te trek.

Watter tipe inhoud is vir LinkedIn gepas?

Die tipe inhoud wat beter werk op LinkedIn is vrae en onderwerpe wat oor jou industrie of werksomgewing handel. Enige entrepreneursfokus, -raad of -wenke doen ook altyd baie goed op LinkedIn. Aanhalings en motiverings wat produktiwiteit bevorder doen ook goed.

LinkedIn lei jou ook in terme van die inhoudstipes wat die maatskappy bevorder. Hier volg ’n paar voorbeelde:

  • Video’s – produk- of advertensievideo’s werk meestal goed op LinkedIn
  • Foto’s en beelde – onthou om dit professioneel, stylvol en werksverwant te hou
  • Dokumente – aangesien LinkedIn ’n werksblad is het dit ook die opsie om dokumente en voorleggings op te laai (Facebook en Instagram het nie hierdie opsie nie)
  • Meningspeilings – die opstel van meningspeilings in jou kennisveld is ’n lekker interaktiewe manier om met jou netwerk te kommunikeer
  • Artikels – prikkel die belangstelling van jou netwerk deur industrieverwante artikels te deel; artikels dra ook gewig wanneer jy jou reputasie as kundige probeer vestig

Hoe moet my LinkedIn-profiel opgeskerp word?

Maak seker jou LinkedIn-profiel lyk uiters professioneel. Indien jou personeel ook almal LinkedIn-profiele skep, skep dit ook ’n beter indruk by volgers. Hiermee ’n paar wenke om jou profiel te laat blink soos ’n splinternuwe sikspens:

1. Profielfoto’s

Daar word aanbeveel dat jou onderneming se embleem altyd vir die profielfoto gebruik word. Maak seker jou werknemers se profielfoto’s lyk ook professioneel met formele kleredrag. Dit sou ideaal wees as julle ’n fotosessie doen waar almal teen dieselfde agtergrond afgeneem word. Dit lyk ook mooi as julle die foto optooi met julle onderneming se embleem, of ’n raam om die foto ontwerp waar julle handelsmerk duidelik sigbaar is.

2. Dekfoto

Dit is baie belangrik dat die dekfoto professioneel ontwerp word; lukrake foto’s of beelde van ’n lae gehalte skep ’n baie swak indruk. Maak seker die kern van jou onderneming se karakter word in die dekfoto weerspieël.

3.  Oorsig en beskrywings

Maak seker jou oorsig is omvattend, maar ook direk op die man af. Dink altyd hoe jy op die kortste, beste manier kan verduidelik wat jou onderneming doen. Dit werk ook baie goed om hutsmerke op te stel wat jou onderneming en industrie verteenwoordig (op LinkedIn kan jy drie hutsmerke aan jou profiel koppel).

4. Maatskappy-inligting

Jou maatskappy-inligting moet so akkuraat moontlik ingevul word. Voeg jou webtuiste se skakel by, kies die industrie waarin jy werk en die grootte van jou organisasie.

5. Aksieknoppie (call-to-action button)

Maak seker jy het ’n aksieknoppie aan jou profiel gekoppel! Belyn die aksieknoppie met jou bemarkingsdoelwit; indien dit is om meer oproepe te ontvang, maak seker die knoppie is aan jou selnommer gekoppel.

6. Laastens …

Onthou dat ’n statiese profiel met geen interaksie of plasings nie niks werd is nie. Indien jou profiel egter in skoukondisie is, doen die volgende:

  1. Brei jou netwerk uit deur industrieverwante mense en ondernemings te volg; die kans is goed dat hulle jou weer sal volg.
  2. Wanneer jou netwerk uitgebrei is, begin om interaksie met die mense te hê en bou die verhoudings uit.
  3. Sluit by groepe aan en neem aktief deel daarin! Indien jy dapper is, stig jou eie groep en lei gesprekke en inhoud sodat dit tot jou bemarkingsvoordeel is.
  4. Doen deurlopende en konsekwente plasings op jou profiel. Maak ook altyd seker dit strook met jou besigheidskultuur en -identiteit.
  5. Gebruik die statistiek wat LinkedIn vir jou gee om jou inhoud te verfyn volgens jou teikenmark se belangstellings.

Moenie op jou laat wag nie, laat waai met daardie konneksies!