Hoe om meer verkeer na jou webtuiste te lok

Om ’n aanlyn winkel te begin is een ding maar om voete (of eerder besoekers) na jou aanlyn winkel te lok, is iets heeltemal anders. Om effektief te wees moet jy van SEO (soekenjinoptimalisering) gebruik maak om besoekers organies te lok. Sowat 36% van mense maak van soekenjins gebruik om inligting te soek, wat dit uiters belangrik maak om potensiële kliënte na jou webtuiste te lok. Hier is ’n paar strategieë wat jou sal help om hoër op die soekenjinresultate gelys te word.

1) Optimaliseer jou sleutelwoorde

Om organiese verkeer te genereer, is dit uiters belangrik dat die inhoud wat op jou webtuiste verskyn van hoë kwaliteit is en met baie spesifieke sleutelwoorde geoptimaliseer word. Dit kan baie moeilik wees om hoog op die resultateblad van ’n soekenjin gelys te word. Hoe kan jy dit regkry? Maak gebruik van hulpmiddels soos Google Keyword Planner en SEMrush om sleutelwoorde te kry wat van toepassing is op jou handelsmerk of besigheid. Kies dié sleutelwoorde wat gereeld gesoek word op die soekenjins maar min kompetisie het. Dit is juis dié woorde wat jy moet inkorporeer op jou webtuiste om beter gelys te word in die resultate wat soekenjins oplewer.

2) Verbeter jou webtuiste se spoed

Die spoed van jou webtuiste speel ’n groot rol in jou webtuiste se posisie in soekenjinresultate. Google gebruik byvoorbeeld die tyd wat dit neem vir jou webtuiste om te laai as ’n faktor wat bepaal waar jou webtuiste gelys word op hulle resultatebladsy. Daarom, indien jy jou posisie wil verbeter, moet jy jou webtuiste vinniger maak. Daarbenewens beïnvloed jou webtuiste se spoed ook jou verkope. Navorsing het bevind dat verkope op aanlyn winkels met 8.4% toeneem vir elke 0.1 sekonde wat die spoed op ’n webtuiste verbeter. Toets jou webtuiste se spoed deur gebruik te maak van Test My Site wat jou webtuiste se spoed sal aandui en aanbevelings maak oor hoe jy dit kan verbeter.

3) Doen navorsing oor jou kompetisie

Aan die een kant is dit goed om te weet teen wie jy meeding, maar aan die ander is dit ’n belangrike strategie om jou te help om verkeer na jou webtuiste te kanaliseer. Maak gebruik van SEMrush of Ahrefs om die strategieë van jou kompetisie te bepaal. Deur van die hulpmiddels gebruik te maak, kan jy bepaal op watter sleutelwoorde beide jy en die kompetisie nie kapitaliseer nie en wat jy moontlik kan gebruik om hoër gelys te word.

4) Optimaliseer jou webtuiste

’n Goed-ontwerpte webtuiste is maklik vir besoekers om te navigeer en terselfdertyd plaas dit jou hoër op Google se soekresultate omdat dit makliker is vir die soekenjin se sagteware om te kry waarna dit soek. Ontwerp jou webtuiste só dat dit die minimum hoeveelheid klikke sal neem vir kliënte om te kry waarna hulle soek. Maak ook seker dat al die skakels op jou webtuiste werk aangesien onaktiewe skakels jou plasing op Google negatief beïnvloed.

5) Maak jou webtuiste mobiel-vriendelik

Indien jou webtuiste nie op ’n foon of tablet gebruikersvriendelik is nie, mis jy uit. Buiten die feit dat sowat 51% van besoekers jou webtuiste op ’n selfoon of tablet besoek, beïnvloed dit ook jou posisie in Google se soekresultate. Google se indekseringstelsel gee voorkeur aan mobiel-vriendelike webtuistes. Dit is ook belangrik om seker te maak dat jou webtuiste vinnig laai op selfone en tablette omdat internetspoed drasties kan wissel op dié toestelle.

6) Skep ’n blog

Blogs is noodsaaklik om seker te maak dat kliënte jou op die internet vind. Blogs is so suksesvol dat 85% van inhoudbemarkers blogs gebruik as deel van hulle bemarkingstrategie. Die rede is dat daar beperkte inhoud is wat jy op jou webtuiste kan plaas oor jou produk of diens maar in ’n blog kan jy baie meer omskrywend wees. Daarbenewens, as jy sleutelwoorde inkorporeer in jou blogs, help dit dat jou webtuiste hoër op Google gelys word. Blogs kan ook help om kliënte na spesifieke produkte op jou webtuiste te kanaliseer wat weer ’n effek op verkope kan hê.

Om verkeer na jou webtuiste te kanaliseer kan moeilik wees maar as jy jou webtuiste reg opstel, kan jy verseker dat jou webtuiste optimaal funksioneer. Deur jou aanlyn teenwoordigheid te verbeter, sal jy ook jou verkope verbeter. Verander sommer vandag nog jou webtuiste om seker te maak dat jy die vrugte pluk!