Hoe om namiddagmoegheid te oorwin  

Ons almal ken die gevoel al te goed: Ná jy die verkeer getrotseer het op pad werk toe (en terselfdertyd sommer op al jou e-posse geantwoord het) daag jy by die kantoor op soos ’n warrelwind, vol ywer en moed vir die dag wat voorlê. Jou eerste twee koppies koffie van die dag spoor jou entoesiasme net verder aan en vir die volgende vier ure is jy aan die brand! Jy handel al jou take flink af en neem jou voor om ná middagete volstoom voort te gaan.

Ná middagete gekom en gegaan het, is dit egter ’n ander storie. Jou lewenslus is skielik geblus en jy het eenvoudig nie die krag om soveel werk aan te pak soos jy ’n uur gelede beplan het nie. Erger selfs – jy kry net mooi niks verder afgehandel nie.

Kantoormense verwys graag na dié verskynsel as namiddagmoegheid. Dis baie algemeen en daar is praktiese maniere waarop jy dit kan verbeter of selfs voorkom.

Jy skiet jouself dalk soggens reeds in die voet

Ja, jy het reg gelees!

Die moeë gevoel wat oor jou spoel ná jy daai reusebord kos vir middagete geniet het, is bes moontlik die gevolg van die feit dat jy nie ’n vullende ontbyt geëet het nie. Jy verbrand baie energie wanneer jy in die oggend op ’n leë maag werk, en sodra jy ’n klomp kos oor middagete inneem, is dit amper asof jou lyf wil hiberneer.

Dis ook ’n goeie idee om ’n gesonde oggendroetine te handhaaf. Geniet ’n koppie koffie terwyl jy jou e-posse rustig tuis deurwerk, of neem ’n oomblik om jouself van die dag se nuus te vergewis.

Eet middagete buite die kantoor

Jou brein is geprogrammeer om areas met aktiwiteite te vereenselwig: die slaapkamer met slaap, die woonvertrek met ontspanning en die kantoor met werk.

Om by jou lessenaar te eet, getuig nie van ’n hardwerkende ingesteldheid nie en gaan ook nie jou baas of kollegas beïndruk nie. Eet jou middagete elders as die kantoor – verkieslik buite, aangesien die vitamiene D wat jy vervaardig deur ’n tydjie in die son deur te bring jou energievlakke drasties sal opstoot.

Middagete is nie net vir eet bedoel nie

Die uitdrukking “magies vol, ogies toe” kon nie beter gestel word nie.

As jy jou middaguur slegs gebruik om ’n maaltyd te verorber, gaan dit jou nie nuwe krag gee om die res van die dag aan te pak nie. Inteendeel, dit gaan jou in alle waarskynlikheid net vaak maak.

Jy moet die bloed deur jou are laat bruis en jou ledemate losmaak om ná die oggend te herstel. Gaan vir ’n halfuur gimnasium toe (dis in elk geval baie sleg vir jou rug- en maagspiere om heeldag te sit), of gaan loop selfs ’n entjie en adem vars lug in.

Middagete is ook ’n goeie tyd om ander takies te verrig sodat jy vir ’n tydjie van jou werk kan vergeet. Gaan doen vinnig inkopies of gaan bank toe.

Neem klein ruspouses

Wanneer jy van middagete terugkeer, beteken dit nie noodwendig dat jy weer vir drie of vier ure aaneen kan werk sonder om asem te skep nie. Neem klein ruspouses.

Dit beteken om elke halfuur of uur ’n klein, vinnige breek te neem. Gaan gou badkamer toe, loop rondom die kantoor, maak vir jou ’n koppie tee of voer ’n paar jogastrekke uit. Jy sal jou brein daarvan oortuig dat jy van vooraf weer uitgerus is!

Beplan jou dag vooruit

Pleks daarvan om elke oggend wanneer jy by die werk opdaag jou dag te beplan, kan jy jou lysie saans opstel voor jy oppak . Dit sal jou met meer doeltreffende tydbestuur en prioritisering help en jy sal onbewustelik die aand vóór werk reeds ’n strategiese plan bewerkstellig sodat jy nie die volgende dag in die tweede helfte van die wedstryd uitgeput raak nie.