Hoe veilig is jou onderneming se webtuiste?

Jou webtuiste is die plek waar kliënte kan kyk na jou produk of diens en ’n idee kry oor jou onderneming as ’n geheel. Dit is ’n kerndeel van jou besigheid se bemarkingstaktiek en is een van die doeltreffendste platforms om met jou mark te kommunikeer. Juis om dié rede het die meerderheid klein ondernemings deesdae hul eie webtuiste. Die groei in die gebruik van webtuistes het egter ook ’n negatiewe newe-effek. Oor die laaste dekade was daar ’n toename in kuberkrakers wat probeer om persoonlike of sensitiewe inligting van ondernemings se webtuistes af te steel. Baie eienaars van klein ondernemings is onbewus oor hoe hulle hierdie inligting kan beveilig.

Hoe dring kuberkrakers tot jou webtuiste deur?

Losprysaanval: Wanneer ’n kuberkraker dreig om jou webtuiste se inligting openbaar te maak tensy jy ’n losprys betaal.

Brabbel-aanval: Webblaaie word oorval met irrasionele teks bestaande uit sleutelwoorde wat die blad hoër op Google se soekresultate laat lê. Wanneer jy op die blad klik, neem dit jou na ’n onveilige blad.

Versteektesleutelwoordaanval: Met die eerste oogopslag lyk die blaaie soos die van jou webtuiste, maar die teks op die blaaie is anders.

Japanesesleutelwoordaanval: Die soort aanval skep lukrake bladsye geskryf in Japanees, gevul met skakels wat lei na winkels wat vals ware verkoop.

Virusse: Indien ’n virus jou webtuiste aanval kan jou webtuiste heeltemal afgaan of kan dit onmoontlik wees vir jou om toegang daartoe kry. Soms beïnvloed hierdie soort aanval selfs jou hardeware.

“Phishing”: Skelms kontak jou kliënte asof hulle van jou onderneming af kontak maak, in die hoop om persoonlike inligting te probeer bekom.

Hoe lyk dit as daar deur jou webtuiste se sekuriteit gebreek is?

Daar is verskeie maniere waardeur kuberkrakers jou webtuiste kan binnedring. Sommige kuberkrakers verander die data op jou webtuiste só dat dit jou herlei na ’n ander webtuiste toe. Dit beteken indien iemand jou webtuiste probeer besoek, neem dit jou na ’n ander webtuiste toe. In ander gevalle kan jou webtuiste dalk baie stadig laai. Die rede hiervoor is moontlik dat ’n kuberkraker ’n kwaadwillige program op die webtuiste gelaai het wat aanhou aflaai en die spoed van jou webtuiste beïnvloed. Omdat kuberkrakers vindingryke idees uitdink om jou webtuiste binne te dring, is dit nodig om gereeld jou webtuiste te besoek en uit te kyk vir enige abnormale funksies.

Hoe kan jy jou webtuiste beskerm teen veiligheidsrisiko’s?

Indien jy onseker is of jou onderneming beskerm is teen kuberaanvalle, is hier vyf sekuriteitsmaatreels om te volg:

  • Word jou webtuiste op ’n veilige bediener met ’n SSL-sertifikaat gehuisves?

Indien jy privaat inligting van besoekers op jou webtuiste versamel, het jy ‘n beveiligde hiperteksoordragprotokol (HTTPS) nodig wat die onderskepping van data voorkom.

  • Vereis jou webtuiste komplekse wagwoorde?

Deur te vereis dat gebruikers jou webtuistewagwoorde moet gebruik om op jou webtuiste in te teken, kan jy verhoed dat hul rekeninge deur kuberkrakers aangeval word. Maak seker die wagwoorde vereis ’n kombinasie van hoofletters, kleinletters, spesiale karakters en getalle.

  • Het jy ’n brandmuur (firewall) in plek?

Brandmure kan dubbel-IP-adresse outomaties blok wat kan help om te voorkom dat kuberkrakers verskeie rekeninge vanaf dieselfde rekenaar registreer.

  • Het jou webtuiste ’n unieke kode? Templet-webtuistes wat gebou word op platforms soos WordPress kan makliker deur kuberkrakers binnegedring word. Indien jou webtuiste ’n unieke kode het, bied dit ’n addisionele laag veiligheid wat kuberkrakers ontmoedig.
  • Is jou sagteware op datum?

Ou sagteware kan ook ’n risiko inhou vir jou webtuiste se veiligheid. Maak seker alle sagteware is op datum om te verseker dat jou webtuiste se inligting veilig bly.