Hoekom jou besigheid kliënte verloor en hoe jy dit kan regstel

Die helfte van die jaar het aangebreek en Jana se besigheid is skielik besig om kliënte te verloor. Sy en twee vriendinne bou al drie jaar lank op ’n vryskutbasis webtuistes vir klein besighede en bedryf ook soms hul sosialemediastrategieë en ander digitale bemarkingsbenodighede.

Hulle het die afgelope jaar baie besigheid ingebring – soveel so dat hulle moontlik hul voltydse werk kan los om hul eie besigheid te begin bedryf, iets waaroor hulle lank reeds droom. Daar heers egter groot kommer oor die feit dat hulle kliënte nie meer van hul dienste gebruik wil maak nie, en hulle besef dat hulle gou moet ingryp indien hulle steeds hul drome wil verwesenlik.

Volg Jana en haar vriendinne se plan van aksie om te leer hoe jy jou besigheid kan red indien jy kliënte verloor.

Vergader onmiddellik

Wanneer krisisse in ’n besigheid opduik – maak nie saak hoe groot of klein dit is nie – is ’n vergadering tussen die belangrikste persone die eerste ding wat moet plaasvind. Dit help om almal op dieselfde golflengte te bring sodat daadwerklike planne in plek gestel kan word.

Jana nooi haar vriendinne na haar huis vir koffie sodat hulle die probleem kan aanpak.

Vergelyk jou produk/diens met die res van die mark

Die drie vriendinne kyk noukeurig na al hul kliënte se webtuistes en sosialemediablaaie en besef tot hul skok dat hulle die afgelope tyd so besig was dat hulle nie eens opgelet het hoeveel veranderinge die afgelope paar maande op Facebook, Instagram en die kuberruim plaasgevind het nie.

Hulle besef dat hulle hulself so gou moontlik op hoogte van die jongste verwikkelinge sal moet bring sodat hulle kan bybly.

Hersien jou kommunikasieproses

Jana en haar vriendinne het elkeen ’n e-posadres waarmee hulle in kontak met kliënte tree, asook ’n Facebook-blad waarop hulle hul dienste bemark ten einde nuwe besigheid te werf. Aangesien hulle hegte bande met al hulle kliënte handhaaf, bly hulle gereeld via teksboodskappe en selfoonoproepe in kontak.

Hulle skrik hulself boeglam toe hulle sien hoeveel onbeantwoorde e-posse en Facebook-boodskappe al vir maande reeds op hulle lê en wag. Die boodskappe is van voormalige kliënte wat probleme met webtuistes ondervind het, asook van potensiële kliënte!

Hulle stel ’n protokol in plek om ten minste drie keer per dag na hul e-posse en Facebook-boodskappe te loer en onmiddellik op navrae te reageer.

Moenie vir jou kliënte wag om jou te kontak nie

Die vriendinne werk almal in die digitalemediaveld en besef al te goed dat goeie verhoudinge net so belangrik is soos die gehalte van die produkte en/of dienste wat gelewer word.

Kliënte is nou maar eenmaal lief vir persoonlike aandag. ’n Oproep of e-pos een keer elke twee weke aan elke kliënt beteken dat jy onmiddellik kan vasstel of elke kliënt steeds gelukkig is en sal in alle waarskynlikheid ook sorg dat kliënte jou aansienlik minder eerste gaan kontak indien daar probleme van hulle kant af is – jy sal dus altyd die oorhand hê.

Hersien jou bemarkingstrategie

Deesdae is sosialemediaplatforms en webtuistes die algemeenste platforms vir advertensies en bemarking. Die probleem is egter dat hulle algoritmes gedurig verander.
Jy kan groot baat daarby vind om ’n kortkursus te voltooi om te leer hoe jy self jou bemarkingstrategieë kan dryf, óf jy kan ’n bemarkingsagentskap nader om dit namens jou te doen. Sulke agentskappe is altyd op hoogte van die nuutste ontwikkelinge in die bemarkingsindustrie en sal ook kan vasstel op watter platforms daar gefokus moet word om aan jou teikenmark te bemark.

Hersien jou kliënte

 Die probleem is nie noodwendig jy self nie.

Besighede het nou maar een keer ’n manier om by bedrywe in te skakel soos wat hul kliënte hul dienste na ander besighede verwys in hul (die kliënt se) bedryf. Jana het drie jaar gelede hul eerste kliënt – ’n boetiekbierbrouery – opgeteken. Sy en haar vriendinne het ’n uitstekende webtuiste, asook sosialemediaplatforms vir die brouery geskep. Die brouery het die vriendinne na ander besighede verwys en in ’n japtrap het hulle nóg drie boetiekbierbrouerye se digitale bemarkingsplatforms bedryf. Die afgelope jaar het verskeie sulke brouerye egter begin swaarkry en hul deure gesluit. Jana en haar vriendinne het reeds drie brouerye se besigheid verloor. Hulle besef hulle sal na kliënte moet begin soek in bedrywe wat tans gewild en welvarend is.

Kliënte is die lewensbron van enige besigheid en mag nooit afgeskeep word nie. Hou jou neus te alle tye in jou kliënte se besigheid om lang, vrugbare besigheidsverhoudings te verseker.