Hoofpunte uit die aankondiging van die verslapping van inperking vanaf 1 Mei 2020 deur pres. Cyril Ramaphosa op 23 April 2020

Opgesom vir AfriForum Netwerk deur Inge Labuschagne

Die stryd teen die Covid-19-pandemie sal voortaan op een van die volgende vyf vlakke plaasvind.  Op watter vlak dit sal wees, sal afhang van die koers waarteen mense geïnfekteer word en dit kan deurentyd aangepas word.

Verskille in die toepassing van maatreëls sal voorkom van een provinsie, distrik en selfs munisipaliteit tot die volgende soos wat gediagnoseerde gevalle daar toeneem of afneem.

Verskillende industrieë sal ook deur verskillende regulasies beheer word.  Dié regulasies sal deur die betrokke ministers aangekondig word en dienooreenkomstig in die Staatskoerant gepubliseer word.

Vanaf 1 Mei 2020 beweeg Suid-Afrika van vlak 5 na vlak 4. Die volgende sektore mag vanaf 1 Mei 2020 terugkeer werk toe:

  • Voedselkettingwinkels wat reeds toestemming het om handel te dryf, mag nou alle items in die winkel verkoop.
  • Alle landbouprodukte.
  • Bosbou, pulp en papier.
  • Alle finansiële en professionele diensverskaffers.
  • Globale sakedienste vir uitvoermarkte.
  • Pos- en telekommunikasiedienste.
  • Optiese vesel en IT dienste.
  • Formele herwinningsdienste.

Die volgende skyfie illustreer die bepalings vir vlak 4 bedrywighede:

 width=

Die publiek word aangemoedig om tuis te bly, behalwe vir noodsaaklike persoonlike beweging, noodsaaklike werk en werk in sektore wat hulle bedrywighede onder beheerde heropening hervat.  Mense kan oefen onder streng beheerde openbare gesondheidstoestande.

Mense met hoë gesondheidrisiko’s moet hulleself steeds afsonder.

Grense na die buiteland bly steeds gesluit, buiten vir die repatriasie van Suid-Afrikaners wat in die buiteland gestrand is of buitelanders wat in Suid-Afrika gestrand is.

Grense tussen provinsies bly ook gesluit, buiten vir werkers wat noodsaaklike dienste lewer en buitengewone omstandighede soos begrafnisse, onderhewig aan beperkings.

Openbare vervoer mag voortgaan onderhewig aan beperkte hoeveelhede mense per voertuig (soos wat reeds die geval is) en alle passasiers moet dan maskers dra.

Waar werksplekke open moet dit met ’n derde of minder van die personeel in ‘n goedgekeurde industrie wees.

Aankondigings oor die ingefaseerde heropening van opvoedkundige instellings volg volgende week.

Sigarette mag weer verkoop word.  Aankondigings oor ander produkte volg volgende week.

Die volgende moet gesluit bly: kroeë, plekke van vermaak soos teaters en shebeens.

Die volgende bly verbode: sportbyeenkomste, religieuse byeenkomste, kulturele byeenkomste.