Hoorsêgetuienis tydens dissiplinêre verhore

Wat is hoorsêgetuienis?

Dit is getuienis wat deur ’n persoon aangebied word oor ’n aangeleentheid wat hy/sy nie met sy eie sintuie waargeneem het nie, maar van iemand anders verneem het. Artikel 35 van die Wysigingswet op die Bewysreg 45 van 1998 omskryf hoorsêgetuienis as “getuienis, hetsy mondeling of skriftelik, waarvan die getuieniswaarde afhang van die geloofwaardigheid van iemand anders as die persoon wat die getuienis aflê.”

Hoorsêgetuienis word egter met versigtigheid benader. Die belangrikste rede hiervoor is dat dit onbetroubaar kan wees. Die howe is traag om sulke getuienis toe te laat, waarvan die bewyswaarde afhang van die geloofwaardigheid van ’n persoon wat nie voor die hof is nie. Geloofwaardigheid speel ’n belangrike rol in die beoordeling van getuienis. Dit hang af van ’n getuie se eerlikheid; sy vermoë om indrukke in sy bewussyn op te neem; sy geheue; en sy akkurate verhaling of vertelling van die gebeure. Sulke aspekte kan slegs getoets word as die persoon wat die feite berig het, self teenwoordig is en aan kruisondervraging onderwerp kan word.

Hoorsêgetuienis kan die hof mislei as die verteller se herinnering van die gebeure onbetroubaar is; indien hy ’n leuen vertel; of as die getuienis gefabriseer is. Die getuienis kan verkeerd wees, weens die getuie se gebrekkige geheue of waarnemingsvermoë. Die doel van kruisondervraging is juis om sodanige tekortkominge te ontbloot en as die persoon, wat oorspronklik die uitlatings gemaak het, nie teenwoordig is nie kan dit nie plaasvind nie. ’n Verdere rede waarom hoorsêgetuienis met versigtigheid benader moet word, is dat die persoon wat die oorspronklike uitlatings gemaak het, dit nie onder eed gedoen het nie. As ’n persoon nie onder eed getuig nie, is ’n waardevolle veiligheidsmeganisme afwesig.

Wanneer hoorsêgetuienis toegelaat word

Oor die algemeen behoort hoorsêgetuienis, om die redes soos hierbo uiteengesit, nie toegelaat te word nie. Die Wysigingswet op die Bewysreg bepaal egter onder watter omstandighede hoorsêgetuienis wel toegelaat kan word:

  • Wanneer die party teen wie die getuienis gelewer word, daartoe instem
  • Wanneer die persoon wat oorspronklik die uitlating gemaak het, self kan getuig
  • Hoorsêgetuienis is verder toelaatbaar indien die voorsitter, met inagneming van bepaalde faktore, van oordeel is dat dit in die belang van geregtigheid sou wees om dit toe te laat. Dié faktore is as volg:
  • Die aard van die verrigtinge (dissiplinêre verhore is minder formeel en minder tegnies as hofverrigtinge).
  • Die aard van die getuienis.
  • Die doel waarvoor die getuienis aangebied word.
  • Die getuieniswaarde van die getuienis.
  • Die rede waarom die persoon wat oorspronklik die uitlatings gemaak het, nie self getuig nie.
  • Enige benadeling van ’n party deur die toelating van sulke getuienis.
  • Enige ander faktor wat volgens die voorsitter in ag geneem moet word.

Dit is verder belangrik dat werkgewers kennis moet neem van Artikel 138 van die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 (die WAV) wat bepaal dat ’n kommissaris nie aan die streng reëls van siviele en strafregtelike prosesse gehoor hoef te gee nie, maar steeds verantwoordelik is vir die handhawing van ’n regverdige proses.

Die gewig wat aan hoorsêgetuienis verleen word

Om hoorsêgetuienis toegelaat te kry, is daar slegs een hekkie wat oorkom moet word. ’n Volgende hekkie is die kwessie van watter gewig daar aan sodanige getuienis geheg gaan word? Die getuieniswaarde van hoorsêgetuienis kan só min wees dat ’n voorsitter dit ignoreer. Dit is hoogs onwaarskynlik dat hoorsêgetuienis alleen, genoeg gewig sal dra om ’n feit te bewys of te weerlê.