Jou eie besigheid: Wat jy móét weet

Om ’n besigheid te begin is nie net om ’n goeie idee te hê nie. Jy moet die vermoë bou om jou besigheid te laat groei, strukture kan vestig, administrasie onder beheer hou en aan allerlei kontraktuele vereistes voldoen. So behalwe vir ’n blink idee en entrepreneuriese dryf om jou produk aan enige Jan Rap en sy maat te verkoop, moet jy ook dié weet:

  1. Besigheidsregistrasie

Jy moet besluit of jy as ’n eenmansaak, ’n vennootskap of privaat maatskappy wil registreer. Dit is ook nie noodwendig nodig om enigsins te registreer as jy net begin nie. Meeste besighede registreer as privaat maatskappye omrede die maatskappy dan ’n afsonderlike regsentiteit as die direkteur is. Jy moet egter besef dat ’n direkteur steeds persoonlik aanspreeklik kan wees as dit bewys kan word dat die besigheid roekeloos bestuur is of as daar bedrog gepleeg is.

Hier is die voordele van ’n privaat maatskappy:

  • Beperkte aanspreeklikheid beteken minder risiko.
  • Jy kan as enkel persoon ’n privaat maatskappy stig en kan tot 50 lede byvoeg.
  • Minder statutêre verpligtings soos om byvoorbeeld aandeelhouervergaderings te hou.
  • Dit is makliker om befondsing te kry teenoor ’n eenmansaak.
  • Eienaarskap kan maklik verander of aangepas word.

Nadele van ’n privaatmaatskappy:

  • As ’n privaat maatskappy is jy wel verplig op jaarlikse finansiële state wat geoudit is in te dien.
  • Die maatskappy kan nie aandele aan die publiek bekendstel nie, anders verander dit in ’n publieke maatskappy.
  • Die registrasie en fooie is duurder as die van ’n eenmansaak.
  1. Tegnologie

Hoe kan jy jou lewe makliker maak en administratiewe takies vinnig onder die knie kry? Gebruik toepassings en sagteware wat die lewe kan vergemaklik. Hier is vyf maniere waarop jy administratiewe takies vinniger kan afhandel:

  1. Dropbox: Laai Dropbox op jou rekenaar af asook die toepassing op jou selfoon. Dit laat jou toe om maklik dokumentasie te deel met ander en dit verseker dat jou noodsaaklike inligting altyd byderhand is.
  2. Google Docs: Op Google Drive, wat soortgelyk is aan Dropbox, kan jy Google docs gebruik net soos jy Word en Excel sou gebruik, maar die dokument is permanent op die web en veranderinge word vansself gestoor. Dit is ideaal as julle meer as een persoon is wat aan dieselfde dokument werk.
  3. Genius Scanner: ’n Maklike manier om met jou slimfoon ’n afskrif te stuur van ’n dokument, is Genius Scan.
  4. Xero: Indien jy Xero of Sage One as aanlynplatform vir jou finansies gebruik, is die slimfoon toepassing ook handig om fakture uit te reik waar jy ook al is.
  5. Yoco: Yoco is ’n betaalmasjien wat met Bluetooth aan jou foon of iPad konnekteer om krediet en debietkaart betalings te kan ontvang. Dit is ideaal vir markte of vir ’n dienste besigheid wat betalings op die kliënt se perseel moet invorder.
  1. Belasting

Onthou dat as klein besigheid jy nie onmiddelik verplig is om 28% belasting te betaal nie. Vra jou rekenmeester om jou as mikro-onderneming te registreer, want terwyl jy minder as R1 miljoen omset per jaar het hoef jy dan net 3% op jou belasbare inkomste te betaal. Die volgende kerf is ’n kleinhandelsonderneming wat op ’n glyskaal belas word tot en met R20 miljoen omset. En onthou dat jy eers vir B.T.W hoef te registreer wanneer jou omset die R1 miljoen merk oorskry.

Fokus op jou sterkpunte

Dit is opwindend om ’n nuwe besigheid op die been te kry en te sien hoe jou produk of diens begin verkoop. Elke entrepreneur bereik ’n stadium waar hulle moet kies waaraan hulle hul tyd spandeer. As jou sterkpunt is om verkope te doen, beteken dit nie dat jy die finansiële kant van jou besigheid kan afskeep nie. Om meer in jou besigheid te doen waarvan jy hou beteken om slimmer maniere te kry om die take wat jy nie van hou nie, af te handel. As administrasie ’n kopseer raak, span tegnologie in. As belasting jou deurmekaar maak, kry ’n kenner maar maak seker jy verstaan wat in jou besigheid aangaan. Die doel moet nooit wees om nie sekere fasette van jou besigheid te ignoreer nie, maar wel om dit te verstaan sodat jy met vrymoedigheid dit later kan uitkontrakteer.

Fokus op jou sterkpunte maar beskerm jouself van jou blindekolle. Met jou besigheid wat reg geregistreer is, jou belastingsake in order en jou administrasie op hoogte is, kan jy jou kreatiewe self uitleef en jou besigheid met gemoedsrus groei!