Jou persoonlike handelsmerk en waarom dit belangrik  is

Baie ondernemings fokus net op die bemarking van hulle ondernemings, produkte en dienste, maar besef nie die voordeel daarvan as die sake-eienaar, ja, die persoon en gesig agter die handelsmerk, hulself ook bemark nie.

“Hokaai!” sal die meeste entrepreneurs skree, maar gee kans, dalk mag hierdie artikel jou net oortuig dat dit tot jou voordeel kan wees.

Kom ons begin eers by die belangrikste vraag …

Wat is ’n persoonlike handelsmerk (“personal branding”)?

Persoonlike handelsmerk is die Afrikaanse term vir “personal branding”. Dit is wanneer ’n persoon hulself as ’t ware bemark as kundige of persoonlikheid. Beïnvloeders is almal gewone mense (ja, regtig gewone mense) wat hul persoonlike handelsmerke gebruik om verkope te doen of boodskappe oor te dra. Ons kom deesdae al hoe meer entrepreneurs en mense teë wat self ’n blad of profiel skep en daar brokkies inligting en raad met volgers deel. Een van die goeie voorbeelde van ’n suksesvolle persoonlike handelsmerk is die skrywer en entrepreneur D’Niel Strauss. D’Niel het die belangrikheid besef om homself as kundige en markkenner te vestig, en hoe het hy dit reggekry? Met sy persoonlike handelsmerk. Nou het hy meer as 9 000 volgers op LinkedIn en hy tree gereeld wêreldwyd as spreker en motiveerder by funksies op.

Waarom is dit belangrik om jou persoonlike handelsmerk uit te bou?

  1. Hoe beter mense jou ken, hoe meer sal hulle in jou onderneming, produkte en dienste ook belangstel.
  2. Blootstelling – jou persoonlike handelsmerk skep blootstelling. Blootstelling lei na uitgebreide bewustheid en uiteindelik verkope.
  3. Mense koop by, en ondersteun makliker ’n onderneming indien hulle die gesig en storie daaragter ken, verstaan en daarmee assosieer.
  4. Jou persoonlike handelsmerk kan jou inkomste drasties vermeerder: Jy kan opleiding, toesprake en geleenthede aanbied deur basies net jou kennis met mense te deel.
  5. Jy skep gesag en vertroue as kundige op jou gebied.

Spring weg …

Noudat jou belangstelling geprikkel is, wonder jy seker waar om te begin. Hier is so paar wenke oor waar om te begin en hoe om jou persoonlike handelsmerk te vestig en uit te bou:

Definieer jouself

Heel eerste moet jy jouself baie goed en fyn definieer. Gryp ’n pen en papier en skryf neer watter karaktereienskappe, belangstellings en onderwerpe die fokus van jou persoonlike handelsmerk moet wees. Samel prentjies, aanhalings en artikels in, plak hulle aanmekaar om te sien hoe dit alles by mekaar inskakel.

Visualiseer  jou handelsmerk!

Op grond van hierdie definisie sal jy moet dink hoe hierdie karakter van jou sal lyk. Visualiseer jouself op ’n plakkaat van ’n fliek wat oor jouself gaan – hoe lyk die kleure? Watter tipe skrif en foto sal daar verskyn?

Van plan tot praktyk

Indien jou planne hierbo mooi in plek is, reël die volgende:

  • Embleem en korporatiewe identiteit – kry ’n bemarkingsvennoot wat jou visie en karakter in ’n embleem en korporatiewe identiteit gaan saamstel. Hierdie ontwerpers behoort jou ook riglyne te gee in terme van die kleure, lettertipe en tipe inhoud wat jou beeld gaan uitdra.
  • Fotosessie – hou jou kleure, geure en karakter wat hierbo reeds in plek gesit is, in gedagte.
  • Stel jou persoonlike profiele op verskillende platforms op. Die aard van jou handelsmerk sal ook bepaal watter platform jy sal gebruik: Indien jy jouself as grimeringkenner wil vestig, sal video’s en foto’s op Instagram gepas wees. Indien jy voetspore in die sakewêreld wil trap, maak seker jy is op LinkedIn sigbaar.
  • Stel jou doelwitte op. Droom jy daarvan om landswyd as spreker op te tree? Skryf dit neer!
  • Breek die onderwerpe onder elke doelwit op en dink aan hoe jy hierdie onderwerp gaan aanpak en aan jou teikenmark gaan oordra. Beplan inhoud (prentjies, aanhalings, video’s en blog-artikels) daarvolgens.
  • Dis baie belangrik om getrou aan jou eie self te bly. Moenie te veel fieterjasies gebruik wanneer jy jou inhoud beplan nie. Mense koop in by mense se regte persoonlikhede, nie aangeplakte inhoud nie.
  • Wees gedissiplineerd en konsekwent, hou aan en moenie moed opgee nie. Om jou eie handelsmerk te bou en vertroue by mense te vestig, gaan baie tyd, moeite en trane verg! Hou goeie moed – dit is op die ou end die moeite werd.

Maak ’n verskil

Persoonlike handelsmerke is nie vir almal nie. Dit neem ’n sekere soort persoonlikheid, toewyding en baie moed om jou handelsmerk op te bou. Hou net in gedagte dat jy vir jouself ’n pragtige platform skep om ’n reuseverskil te maak en dit terwyl jy dit geniet!