Koop jou eie, koop plaaslik, koop Suid-Afrikaans: Hoekom plaaslik?

Deur Chanté Kelder-Jansen van Rensburg

Ek is gek daaroor om plaaslike ondernemings te ondersteun. Dit is iets wat amper almal van my weet, want ek sukkel om dit weg te steek. Die vraag wat ek (hopeloos te) gereeld hoor, is: “Hoekom koop jy by die of daai? Jy kan BAIE goedkoper regkom by Mr Price of Pick n Pay Clothing of watter groot kettingwinkel ook al.” My antwoord is altyd dieselfde: “Wat sou jy wou gehad het as jy jou eie onderneming bedryf het?”

Ek koop plaaslike produkte, want ek hou daarvan om te sien waarheen my geld waarvoor ek so hard werk, gaan. Ek is ook trots daarop dat ek bydra tot die plaaslike ekonomie. Dit is hartseer om te dink mense wat die keuse het tussen plaaslike en internasionale kettingwinkels kies eerder die tweede opsie ter wille van “goedkoper.” Vir my oorskry die voordele van ondersteuning aan plaaslike handelsmerke die voordele van internasionale kettingwinkels.

Werkskepping

Ek hoor klaar wat jy dink: “Internasionale kettingwinkels skep ook werk.” En jy is nie verkeerd nie. Maar wanneer internasionale maatskappye mense sonder tersiêre opleiding in diens neem, is dit gewoonlik vir verkope. Jy kry selde so iemand in ’n kreatiewe of bestuursposisie. Die betaling wat hierdie verkoopspersoneel ontvang, is maar skraps in verhouding tot die kettingwinkels se jaarlikse omset.

Die ander kant van hierdie muntstuk is plaaslike handelsmerke wat plaaslike mense aanstel en gewoonlik vir hulle meer vaardighede leer as wat hulle op die vloer van ’n Mr Price of Miladys sou leer. Plaaslike handelsmerke leer hulle personeel nie net om te stik nie maar om beter te stik. Hulle moedig hulle personeel aan om verder te swot of om kursusse te doen wat hulle kennis verbreed. Die betaling wat die personeel ontvang, is in lyn met die maatskappy se omset en soms ly plaaslike handelsmerke ’n verlies net sodat hulle personeel die salarisse kan kry wat hulle toekom.

Ek het onlangs geleer van korttyd. Korttyd is ’n begrip wat veral in die modewêreld gebruik word. Personeel word aangestel om aan groot reekse te werk en sodra die reeks bekendgestel is, sit hulle sonder betaling by die huis en wag vir die volgende groot reeks. Een trots Suid-Afrikaanse handelsmerk wat nie tyd het vir korttyd nie is Kheper, ’n handelsmerk vir sport- en ontspanningsdrag in Kaapstad. Elke paar maande bring hulle ’n nuwe reeks spanbroeke en sportbra’s uit. Wanneer hulle nie aan nuwe reekse werk nie pak hulle ander projekte aan om kontantvloei te verseker sodat hulle personeel hulle nie by die huis hoef te sit en bekommer oor kos op die tafel nie. Hoeveel internasionale kettingwinkels gee genoeg vir hulle personeel om om so iets te doen?

Kwaliteit

Toe ek geswot het, was inkopies doen eenvoudig: Koop waar jy die meeste waarde vir die minste geld kry. In my bankrot studentegedagtes was kwantiteit beter as kwaliteit. Eers toe ek vriende begin raak het met mense wat hul eie ondernemings bedryf en vir my eie salaris begin werk het, het my denke rondom geld verander. Dit klink teenstrydig om te sê ek spandeer meer sodat ek meer kan spaar, maar gee my ’n oomblik om te verduidelik.

’n Kapsuleklerekas is nie net hoog in die mode nie, dit is ook baie funksioneel. Die idee is dat jy minder klere van ‘n hoë kwaliteit koop eerder as baie klere van middelmatige of swak kwaliteit. Dit dwing jou om klassieke stukke te kies wat jy vir twee, drie of selfs meer seisoene kan dra sonder dat dit lelik word of skeur. Dink ‘n bietjie aan ’n produk se leeftyd. Plaaslike handelsmerke loop die ekstra myl vir kwaliteitprodukte wat jy vir ’n langer tydperk kan gebruik. Niemand wil hul naam koppel aan ’n produk wat nie hou nie.

Blitsfeit: Miladys en Mr Price is deel van dieselfde maatskappy en hul klere word in dieselfde fabriek vervaardig. ’n Mr Price-rok kos gemiddeld R160 en ’n Mildays-rok R400. Soms loop jy selfs dieselfde lap in beide winkels raak, dus is Miladys se kwaliteit nie regtig beter as Mr Price s’n nie.

Uitstekende kliëntediens

Uitstekende kliëntediens en kwaliteitprodukte loop volgens my hand aan hand. Ek is moeg om by kettingwinkels met ’n bestuurder te praat wat eers ‘n ander bestuurder by hoofkantoor moet bel wat weer ’n ander bestuurder in ’n ander afdeling bel net om een probleem op te los. As jy by plaaslike handelsmerke koop, kry jy die beste kliëntediens. Klagtes? Die kanse is goed dat die eienaar jou self sal kontak om te hoor presies wat fout is. Hulle is vriendelik, behulpsaam en gee om vir jou as kliënt.

Dit gaan nie net oor klagtes nie, maar ook oor hoe behulpsaam iemand is voor jy iets koop en daarna as jy komplimente uitdeel. ’n Plaaslike skoonheidsmaatskappy, Hey Gorgeous,  sal so ver gaan as om spesiaal vir jou veltipe ’n produk te vervaardig, of om ’n bestaande produk aan te pas as jy allergies is vir een van die bestanddele daarin.

Mena, die mede-eienaar van Kheper bel jou self om te sê as jou pakkie later as beplan by jou gaan aankom. En as jy in die Kaapstad-omgewing woon en jou pakkie dringend nodig het, sal Mena dit soms sommer self vir jou bring. Dit is nou uitstekende kliëntediens!

Ek wil niemand oor die vingers tik omdat hulle klere by Woolies of Edgars koop nie; ek koop self nou en dan iets moois daar. Maar moenie vergeet van plaaslike ondernemings wat hard werk om hul drome waar te maak nie. Vra jouself gereeld af: Wat as ek ’n onderneming moet begin?